
So lank as wat ek maar kan onthou, was ek gek oor stories. Aanvanklik stories lees en luister, en toe ‘n paar jaar later om my eie stories te skryf.
Ek was as kind, ‘n lid van die Siembamba boek klub en elke maand moes ons die boeke gaan haal by die poskantoor. Wat ‘n groot avontuur! Ons sou die posbussie met ‘n klein silwer sleutel oopsluit, die poskaart uithaal en dan binne die poskantoor die pakkie gaan haal. As ek reg onthou was daar sommige maande meer as een boek? Elke hardeband boek het gewoonlik meer as een storie ingehad en ek sou die hele boek in ‘n dag of twee verslind. Daarby was ek ook mal daaroor as my ma vir my stories voorgelees het, want dit was ons kwaliteit tyd saam. En haar stem was vir my só mooi. Vakansietye sou ek elke oggend, ek dink dit was om en by tienuur, op my maag voor die radio gaan lê. Dan was dit Siembamba storie tyd op die radio. My passie vir stories was dan aangewakker en versigtig sou die storie plate uitkom. Jakkals en wolf, Liewe Heksie, Die Gestewelde Kat, Rooikappie, Pinocchio en Heidi! So kon ek vir letterlik ure aaneen, die een storie na die ander luister, en sommiges oor en oor, totdat ek woord vir woord, die storie kon saam vertel.
Storieman kasette, wat saam ‘n boek gekom het, was die ander hoogtepunt. Terwyl jy na die kasset luister, kon jy saamlees, en elke keer as die bladsy omgedraai moes word, was daar ‘n “ping” op die kasset. My ouers het ‘n streng begroting gehad, so ek was werklik bevoorreg om soveel boeke te kon kry. Skoolvakansies alhoewel, moes Ma maar dorps biblioteek toe ry in Vereeniging. Ek weet nie eers of die biblioteek meer bestaan nie? As ek my oë toemaak kan ek nog steeds ruik hoe dit daar binne geruik het, en ek verbeel my daar was twee vloere? My geheue laat my bietjie in die steek. Ek is nog steeds gek oor ‘n biblioteek en die atmosfeer wat daar heers. In elk geval, ek sou my ma se kaartjies ook gebruik, want my boeke het nooit twee weke lank gehou nie! En veral in die langer vakansies was ons na ‘n week weer terug. Dit was die era van Saartjie en Trompie en “Secret Seven”. Op 15 het ek stories begin skryf, met die hand, in ongebruikte A4 skoolboeke. Ek het nou nog ‘n paar van my stories. Soms sou ek na ‘n advertensie kyk in ‘n tydskrif, of iets sou gebeur by die skool en dit sou my dan inspireer om ‘n kortverhaal te skryf. Wanneer ek die stories nou lees besef ek hulle was eintlik “pretty lame”! Maar as tiener was my stories ‘n ontvlugting, en ek kon op skrif droom van ‘n ander lewe, waar ek in die hoofkarakter se skoene kon klim en ‘n gesofistikeerde ugwaardin, ‘n blonde wildbewaarder of ‘n lang model wees. Stories waar die die gewilde rugbyspeler die eenvoudige meisie, eerder as die netbal kaptein, na die matriekafskeid vra. Stories waar die strooijonker net oë het vir die skaam strooimeisie. Ek was ‘n “sucker” vir die “underdog”. Seker oor ek altyd gevoel het soos die “underdog”, wat nooit die mooiste, gewildste of slimste was nie. My stories het my hoop gegee.
Engel (16) was maar ‘n pap baba toe ek vir haar begin stories lees het. Dit was deel van ons aand roetine. Eet, bad en storie lees op die mat voor slaaptyd. Farmyard tales was my absolute gunsteling. Dis ‘n reeks oor ‘n sussie en boetie, Poppy en Sam, wat grootword op ‘n plaas en allerhande avonture beleef. En, nes haar ma, het sy ook boeke begin verslind. Noddy stories is oor en oor gelees, en toe sy op die ouderdom van 9 haar eerste Harry Potter boek self lees, het haar liefde vir lees vlerkte gekry.
Anyway, waarby ek eintlik wil uitkom is dat Huisgenoot, in die laaste 18 maande, nou al drie van my kortverhale gepubliseer het. En die gevoel, wanneer ek my naam in swart en wit sien, “oh man”, dis sommer net “cool”! Dit laat my voel asof ek, na al die jare, ‘n “gehoor” het, dat iemand dink my stories is goed genoeg vir publikasie en dat heelwat mense dit lees, en hopelik baie daarvan hou! Een van my kortverhale was selfs onder die top 5 vir ‘n skryfkompetisie. Ek wens my ouma het nog gelewe om my stories te sien en te lees. Sy sou die trotste uit almal gewees het!
Daar is heelwat nuwe idees wat in my gedagtes rondspeel en ek skryf hulle neer in ‘n notaboek wat Engel (16) vir my gegee het vir Moedersdag. Spesifiek vir my kortverhaal beplanning, het sy binne-in geskryf. Maar vir eers is my fokus op Donderdagaand. Wanneer ek en ons kinders op ‘n vliegtuig klim om vir die eerste keer in 27 maande in Suid-Afrika te gaan kuier.