Dag 2179 – 2184 – Bietjie tyd

Image 58 [Desktop Resolution]

Die Johannesburgse herfs/winters is darem maar “awesome”.  Wanneer ek naweek oggende die gordyne een na die ander ooptrek dans die sonstrale deur die vensters en teken soms reënboë teen die blokkies vensters.  Die lug is ‘n blou wat ek sukkel om te beskryf en hierdie tyd van die jaar is meeste van die tuin nog groen.  Langs die huis groei daar al selfs ‘n paar pron-kertjies en klein tamatie’tjies steek hulle koppe deur die pienk en pers blommetjies.

 

Maar in die Kaap lyk dit meeste oggende anders as hier by ons.  Yollie stuur vir my Maandag oggend ‘n foto vanuit die Kaap.  Dit was net na sewe, oppad skool toe.  Die paaie was nat en die lug nog swart, want die sonnetjie het gesukkel om deur die mistigheid te breek. Honderde motor ligte het gebeur deur die oggend verkeer.

“Ons is almal sommer omge-ally deur die vreemde weer.  Selfs ons arme hond weet nie of hy moet binne of buite nie.  Dis net…. snaaks……”

sukkel sy om die atmosfeer van die oggend te beskryf.   Sy lag en gesels en ek is bly om te hoor sy klink soos haar ou self. Hulle is gelukkig in hulle nuwe huis en sy is opgewonde oor al die nuwe gordyne waarvan sy die materiaal self kon kies.  Maar gister stuur sy ‘n whatsapp,

“Ek verlang sooo baie na jou.  Voel asof ek net nie hier met mense ‘connect’ nie.  Ek het regtig nodig om te lag met ou pelle en net weer normaal te voel.”

Yollie probeer hard om vriende te maak met mamma’s by die skool.  Met een ma in besonder, ‘n oulike vrou met wie sy nogal gekliek het.  Maar dis ‘n ma wat lyk my konstant “koud en warm” blaas.  Een wat een oomblik baie vriendelik is en haar vriendin is en die volgende oomblik haar half ignoreer.  En haar houding laat Yollie twyfel in haarself.  Haar laat wonder wat fout is met háár dat hierdie vrou nie haar vriendin wil wees nie.  Sy voel sleg oor sy so hard is op haar kind – dat hy pouses moet speel met maatjies en nie een kant sit nie.  Maar nou voel sy half skuldig, want sy sukkel dan self om vriende te maak!

 

Ek ken daardie alleenheid maar al te goed.  Daardie hunkering na ‘n “sielsmaat” buite jou gesinslewe.  Vriendinne, wat jou verstaan, by wie jy jouself kan wees, wat eerlik met jou sal wees in alle tye, maar terselfdertyd dit sal wees met die grootste sensitiwiteit en liefde en omgee.  Dit hoef nie ‘n klomp vriendinne te wees nie, selfs net een of twee sal genoeg wees, want ‘n mens het tog daardie hunkering om net iewers te “belong” en in te pas.  Ek ken daardie “warm en koud” vriendskappe waar jy nie aldag weet waar jy staan nie.  Daardie vriendin vir wie jy so baie het om te bied en van wie jy so baie hou, maar dis asof sy net nie dieselfde voel oor jou nie.  Daardie tipe vriendskappe laat jou so twyfel in jouself.  Jy bevraagteken jou menswees, jou waardes, hoe jy praat, hoe jy aantrek, hoe jy optree, die ma wat jy is, die mens wie jy is.  Hoekom wil sy nie my vriendin wees nie??  Jy kyk na jouself in die spieël en jy weet jy het wonderlike eienskappe en jy weet jy sal graag jou vriendin wil wees, maar sy sien nie wat jy sien nie, so is daar eintlik iewers fout met my??  Jy wil haar in haar kanon in stuur en nooit weer met haar praat nie, maar eintlik is sy so ‘n gawe mens dat dit teen jou natuurlike instink is om haar uit jou lewe te verban.  En wanneer sy “warm” is, gee dit jou weer die gemoedsrus dat jy “actually” ‘n “flippen nice” mens is en dat sy haar sterre kan dank om ‘n vriendin soos jy te hê.

 

Ek het myself die laaste paar weke redelik afgesluit van vriendinne.  Ek was eintlik maar net heel gelukkig om in die oggende huis toe te kom, na skool, en hier rond te ploeter sonder om iemand te he om mee te gesels.  Daar was ‘n deel van my wat begin dink het dis OK om jouself “af te sny”. Om tyd saam jouself te spandeer en dingetjies te doen waarvan jy hou en dinge wat nodig is om gedoen te word.  Ek het kaartjjies gemaak en versier, verjaarsdag persente met groot kreatiwiteit gekies en toegeboks, die kinders se wintersklere uitgesorteer, te klein skoolklere uitgegooi, Manlief se 40ste verjaarsdag begin beplan, geblog sonder om te pos,  ‘n tydskrif gekoop en alleen gaan koffie drink op Vrydae.  Daar was tog ‘n lekkerte aan die alleenheid.  Maar met ‘n skok het ek eventueel besef ek begin myself heeltemal te veel afsny van die wêreld daarbuite en geen mens is gemaak om so alleen te wees nie.  Dis net nie…. normaal nie…..

 

Die feit bly ook alhoewel dat nie almal van ons “loners” is nie en dat nie almal “sosiale vlinders” is nie.  En ons moet elkeen ons eie balans vind en doen wat werk vir ons.  Ek glo dat Yollie ook haar balans sal vind, soos wat ek myne gereeld moet vind.

 

Ongelukkig vat dit net ‘n bietjie tyd…..

Dag 2178 – 2190 – ‘n Tweenie

Image 57 [Desktop Resolution]

Ek voel soos ‘n voëltjie in ‘n kou. Wat permanent vasvlieg teen die kante van my te klein hokkie.

‘n Hamster op ‘n wiel. Wat met al haar energie hardloop en hardloop en nêrens kom nie.

Ek voel vasgekeer. In ‘n hoek ingedryf. Teen ‘n muur opgedruk.

My voete is vasgeanker in dryfsand. Ek spartel, ek raak stil, maar dit hou aan om my in te suig.

Ek probeer my bes, maar selfs dit is nie goed genoeg nie, en as selfs my beste nie goed genoeg is nie is ek besig om ‘n doellose wedren te hardloop.

“But I have nothing to wear!”
gaan Engel (8) gisteroggend dramaties aan en aan. Nie een item wat ek uit haar kas haal is reg nie. Dié hemp is te styf en daardie ski-pants is die verkeerde skakering van pienk. Maar elke keer wat ek haar vrye teuels gee in Woolworths se kinder en tiener afdeling dwaal sy lusteloos deur die rakke, pluk hier en daar aan ‘n item en trek haar neus op vir my voorstelle. Ons het meer as een keer leë hande uit ‘n winkel gestap. Hoe het ek op haar ouderdom nie gewens ek kan my eie klere kies nie! Inteendeel. Ek was reeds ‘n tiener toe my ma my keuses teruggehang het en net gekoop het wat sy gedink het is aanvaarbaar. Stank vir dank sê ek jou!

“Japsnoet (5) gets all the attention. And she gets to have crutches”.
huil Engel onbedaarlik een Dinsdagmiddag in die kar, toe ek haar gaan haal by Ouma. Japsnoet het ‘n klein operasie onder haar toon gehad. En sy het ‘n plakker boek en ‘n sagte skapie gekry. So nou voel Engel (8) vreeslik verontreg oor sy nie óók bederf is nie. Want skielik het sy dit in haar kop dat as sussie iets kry sy ook iets moet kry of die kontant van dieselfde waarde. En toe sy haar operasie gehad het, het sy niks gekry nie. Sê sy. Ek het lus gehad en slaan remme aan dat die rook blou staan, want teen daardie tyd was my bloeddruk gevaarlik in die rooi. Ek kon haar maklik net daar langs die besige pad aflaai. Haar argumente en klaagliedere maak net glad nie sin nie! En ek is so gatvol om te hoor hoe onregverdig haar lewe is en hoe sy altyd aan die kortste end trek. Geen bekommernis oor haar sussie wat ‘n operasie gehad het nie. Nee, sy is eerder “obsessed” oor die feit dat SY niks gekry het nie.

“I don’t want to go to school tomorrow. I have no friends to play with at break time”.
begin die snot en trane een aand voor bedtyd. Die aand voor die skool weer begin het. Hierdie is elke kwartaal se storie en mens sou dink dat ek drie jaar later al sou weet hoe om dit te hanteer. Maar elke kwartaal kom dit as ‘n skok en sy moet teen die tyd ook nou al gewoond wees aan die “wat-moet-ek-doen” kyk in my oë. Ek noem name op van vorige jare se maatjies en die oulike dogtertjies in haar klas. En in elkeen vind sy fout.
But she plays with Thando and Thando is irritating. Sharne only wants to play teacher-teacher games. I don’t want to be friends with Rasika. Sandra is going to another school soon. Lisa plays baby games.”
Ek dink “wow”. Met hierdie houding gaan jou hele lewe ‘n baie “lonely” plek wees.
“All these things you are telling me are things you see in a negative way. If you want to have friends, you are going to have to change. You also sometimes have to give in and play their games and then when you give them your ideas for games, they will play your games too.”
probeer wyse Pixie Ma haar raad gee.
“Why do I have to change! I am who I am!”.
Nou wat moet ek sê daarvan? Want hierdie tweenie (pre-teenager) van my, het ‘n antwoord vir alles. En ek voel alweer of ek my kop stukkend stamp met haar, want ek kan net nie deur die hardkoppigheid dring nie. Sy is soos ‘n bul wat ‘n rooi lap sien en net die heeltyd daarteen wil baklei. Ek besef nou net hoe snaaks dit is dat Dr Jax haar destyds net so beskryf het. Daardie stormende bul wat altyd rooi sien en baklei. Altyd.

Die feit dat ek myself nog nie totaal en al aan drank oorgegee het nie is ‘n wonderwerk.