Uitdaging -Stokperdjies

Ek voel soms soos “master of none” as dit kom by my stokperdjies. Ek put vreugde daaruit om kreatief te wees en iets mooi te skep. Maar ek is nie altyd te “vreugdevol” as ek die resultaat sien nie! My lys stokperdjies sluit in –

* kostuumjuwele maak

* fiksie skryf

* fotografie

* kaartjies ontwerp

Snaaks genoeg het ek hierdie week ‘n nuwe stokperdjie begin.  Decoupage op glas. Ek het visies gehad van hoe hierdie stokperdjie ‘n moontlike besigheid kan word waar mense sal bontstaan om my glasborde te kan besit. Maar die eindprodukte is ook nie heeltemal so uniek as wat ek gedink het nie. Maar ten minste het ek nou ‘n hele klomp mooi versierde konfyt en mayonnaise bottels in die huis!

Advertisements

Dag 2185 – 2196 – Toe hou ons partytjie

Image 59 [Desktop Resolution]

Manlief het verlede week 40 geword.  En oor die naweek het ons partytjie gehou.  En kyk – partytjies reël is mos my sielskos.  ‘n Informele spitbraai saam-rugby-en-bier het ontpop in ‘n driegang om-die-gedekte-tafel ete met goeie rooiwyn.

 

Ons tema was Hollywood sterre.  Die twee tafels was gedek met swart tafeldoeke en groot, silwer sterre oor gestrooi.  Swart, silwer en rooi helium ballonne het gewapper aan ‘n silwer blinkertjie hoed en rooi roosknoppe in glas vase en rooi kerse het die prentjie afgerond.  Ek het die mooiste (al moet ek dan nou self so sê) naamkaartjies gemaak en op die laaste minuut besluit om spyskaarte ook te maak.  Dit het my nogal laat dink aan matriek Huishoudkunde prakties! Waar was die dae…..

 

In elk geval.  Toe Manlief teen die spitbraai idee besluit het ek vinnig voorgestel dat ek iemand sal soek om die kos te maak.  Want decor en dinge mooi laat lyk is my forté.  Selfs met matriek huishoudkunde het ek nie naastenby bevoeg gevoel om ‘n drie-gang maaltyd op te tower vir 12 honger gaste nie!  Die spyskaart het bestaan uit ‘n mielie en patat sop, hoofgereg was beesstert en hoenderkerrie en vir nagegereg was daar die heerlikste pavlova wat net eenvoudig gesmelt het in mens se mond.

 

Die gaste moes aantrek soos hulle gunsteling Hollywood karakters.  Ek was so trots op ons vriende dat hulle so lekker saamgespeel het met die tema!  Daar was onder andere Shrek, Zorro, Jessi van Toy Story en Maria van Sound of Music.  Die kindertjies het net so lekker saam gespeel en soos julle kan dink was daar ‘n hele paar Spiderman gesiggies wat in die tuin rondgehardloop het!  Ek het nagmerries gehad van modderige voetjies regdeur my huis, maar gelukkig het die koue front hulle nie van die springkasteel af gehou nie!  En toe hulle eers klaar ge-hotdogs het, het ons ‘n fliek aangesit en tien kindertjies het stroopsoet onder warm komberse gesit en kyk na Frozen.  En ons “movie stars” het lekker gesit en lag en kuier.  Teen tienuur het ons gaste een-vir-een huiswaarts gekeer.  Al wat oorgebly het van my mooi versierde tafels was pap helium ballonne en halwe glase wyn.  Maar dit was ‘n heerlike aand!

 

Die volgende dag het Manlief goed olik gevoel.  Nie eers hy weet hoeveel brandy’s en coke’s hy die vorige aand gehad het nie.  En vonkelwyn tussen-in gegooi? Nou ja, dink maar vir julleself.  “Ek gaan nooit weer drink nie”, was sy belofte aan homself.  Laat oggend eers het hy sy geskenke begin oopmaak.

 

En wat was meeste van die geskenke?  Duur bottels whiskey en rooi wyne!

Uitdaging – Boeke

Solank as wat ek kan onthou was ek mal oor boeke. Voor ek self kon lees kon ek nie genoeg kry van stories nie. Ek dink deel daarvan was omdat dit ‘n geleentheid was vir my om tyd saam met my ma te spandeer. Sy het altyd vir my so mooi stem gehad. In latere jare het Trompie en Saartjie en Swart Kat gevolg en in my tienerjare Ettie Bierman en Ena Murray. Ek het gefantasieer oor ‘n vlienier of ‘n dokter wat my voete onder my sou kom uitskop! In Engeland was dit minimum ‘n boek ‘n week, want ek het ‘n 20 minute treinrit gehad werk toe in die oggende en weer 20 minute terug huis toe in die middae. En in die tyd wat ek so desperaat gesoek het vir werk, was die biblioteek die plek waar ek baie van my ure gespandeer het. Die reuk, die atmosfeer, die stilte – daar was net iets wat my gekalmeer het.

Hierdie is my boekrak tans. Dit het so swaar geword dat ek boeke moes begin uithaal. My gunsteling skrywers is tans Karin Brynard, Martina Cole, Tony Park, Lesley Pearse, om maar ‘n paar te noem. Intussen het ek ook ‘n Gobii reader gekry vir my verjaarsdag, maar hieraan raak ek nog gewoond. Die punt is – EK IS LIEF VIR BOEKE!!!
IMG_6804 [Desktop Resolution]

IMG_6806 [Desktop Resolution]