Dag 2233 – 2242 – Blouste Maandag maal drie

Image 62

Boeta (2) (my sussie se seuntjie) het die laaste paar weke nogal baie by ons gekuier. Engel (9) en Japsnoet (5) is baie lief vir hulle nefie en ek kan sien die mannetjie gaan nog met baie wegkom by hulle!   Engel veral het ‘n baie sagte plekkie vir hom in haar hart.

 

So teen nou is my onderbewussyn alweer redelik ingestel op hoe ‘n twee-jarige se koppie werk en waarvoor ek moet uitkyk en wat ek moet wegpak of wegsteek! Verlede Maandagmiddag gaan haal ek die kinders by die skool. Boeta en Japsnoet hardloop huppel-huppel deur die parkeer area oppad na die sportvelde. Daar vind ek ‘n heel ongelukkige Engel wat met hartseer ogies vra of sy kan huis toe gaan, want sy het ‘n hoofpyn. En so trek ons maar weer terug parkeerarea toe met sportsakke en hokkiesakke en ‘n oorvol, navy rugsak. Japsnoet en Boeta klim albei by die een kant van die kar in en ek loop om na die bestuurskant om Boeta in sy stoeltjie vas te maak. En toe is dit asof alles gebeur in “slow motion”. In my proses om die agterste deur oop te maak, besef ek nie Boeta leuen teen die deur nie en hy duik, kop eerste, deur die gaping van die oop deur. DOEF. Sy voorkop kap met ‘n slag teen die rowwe teer en ek sien hoe hy snaaks met sy nekkie val voordat hy ten volle op die grond te lande kom. En daardie klein lyfie skree soos ek nog nooit enige kind hoor skree het nie. ‘n Bloedstollende-hartstoppende pyn kreet. En my hart word kouer as koud. Ek raap hom op en sonder om te kyk na sy gesig hou ek hom teen my vas. Intussen het ‘n ander ma, wat soort van gesien het wat gebeur, uit haar kar gespring om te sien of sy kan help. Met ‘n nat lappie vee sy toe sy gesiggie af. Knop op die kop, bloed wat by sy mondjie uitloop, stukkende neus, en my brein gaan in “overdrive”, want ek dink aan die ergste diagnoses.

 

Dummy in die mond en met Japsnoet wat met hom praat sodat hy moet wakker bly, ry ek so vinnig en veilig moontlik na sy huisdokter toe. Intussen krul Engel van pyn op die sitplek langs my en gryp haar slape vas. En Japsnoet vertel net vir my hoe sy nou pyn op haar maag het en naar is. En ek lei af dis ook maar van die skok, want sy dink toe dis haar skuld dat Boeta uit die kar uitgeval het, want sy het hom in sy stoeltjie probeer inhelp. Toe die dokter opdaag huil ek dat jy net snot en trane en swart maskara sien loop. (Intussen moes Engel toe hardloop vir ‘n toilet, want teen die tyd is sy skoon grys van naardheid.) En die gawe dokter paai net en sê ongelukkige gebeur en sy weet hoe ek voel, maar sy dink regtig Boeta is OK. Maar net om seker te wees stuur sy ons Ongevalle toe om te kyk of hulle voel dis dalk nodig vir X-strale. In daardie tyd bel ek toe maar vir Manlief want as ek in my toestand vir Kleinsus moes bel was dit “panic station” en dan was die hele familie weer op hol. En ek kan nie funksioneer as mense om my ook nog tekere gaan nie. Die tien minute rit het natuurlik gevoel soos ‘n ewigheid, maar in daardie tyd het Boeta weer begin gesels en in die hospitaal se besige parkeer terrein die karre genoem wat hy sien.

 

Met twee opgooi-naar kinders wat ek toe agterlaat in die kar, onder die wakende oog van die karwag, storm ek toe met Boeta Ongevalle toe. Net die noem van ‘n kopbesering het ulle dadelik in rep en roer en in ‘n ondersoek kamertjie in. Om ‘n lang storie kort te maak het die dokter bevestig daar is niks ernstig om oor te bekommer nie. En afsiende die eier op sy voorkop en die skrape op sy gesiggie, is hy 100%. Die verligting wat ek gevoel het kan ek vir niemand beskryf nie. Intussen vind Manlief my in die doolhof van ‘n Ongevalle afdeling en lig my in dat Japsnoet opgegooi het in my kar. “Great”….. Drie siek kinders in ‘n kwessie van ‘n kwart middag. Hoe de hel is so iets enigsins moontlik? En soos wat ek dit vir vriendinne vertel het, het hulle seker gedink ek maak die storie op, want wat is die kanse tog?

 

So is Boeta toe met pyn medikasie saam sy pa huis toe en is ek huis toe met twee bleek kinders in ‘n suur kar. Volgens Kleinsus het hy daardie aand soos ‘n honger hondjie geëet en baie rustig geslaap. En Dinsdagoggend toe hulle in die kar klim wou hy net weet of hulle na my toe kom. Dankie tog.

 

Flippen hel. Ek sweer ek het op daardie blouste Maandag ‘n hele paar grys hare ontwikkel!

Advertisements

Dag 2230 – 2232 – Mandela Dag

Image 61 [Desktop Resolution]

Valentynsdag, Moedersdag, Vadersdag, Mandela dag. ‘n Geldmaak storie, ‘n kommersiële foefie, sommer simpel en onnodig.

 

Dis heelwat mense se opinie.   Foefie of nie, ek dink dis “awesome”.  Daar is soveel dinge in ons lewens wat ons as vanselfsprekend aanvaar.  Ouma wat help om broeke korter te maak en ‘n verjaarsdagkoek te versier, Manlief wat sy rug draai op werkspolitiek om finansieël vir sy gesin te kan sorg, Dad wat moeite doen om sy kleinkinders oor naweke te sien.  En dan die meer algemene dinge.  ‘n Warm kombers, ‘n bord sop, ‘n soet lemoen, ‘n nuwe paar skoene.  Hierdie dae gee ons ‘n bewuste verskoning om hierdie mense te bedank, te wys ons waardeer alles wat hulle vir ons doen, en om onselfsugtig op te tree.

 

Maar hierdie kommersiële dae herinner ons juis aan al hierdie dinge.  (Vir die rekord, ek dink glad nie Mandela dag is komersieël nie) En vandag is Mandela dag – waar die wereld gevra word om 67 minute aan iets positief te wei, ‘n goeie daad te verrig.  Dit hoef nie iets groot te wees nie en dit hoef nie iets duur te wees nie.  Vir my gaan hierdie dag daaroor om iets te doen, eerder as om geld in ‘n blikkie te gooi of ‘n donasie te maak aan ‘n liefdadigheid.  Want dit voel net te maklik.

 

Die hele week al wonder ek wat ek kan doen.  Fisies doen.  En toe vanoggend bel mense in op 94.2 Jacaranda om te vertel waarby hulle betrokke is.  Sopkombuise, mure verf, bloed skenk, papiere in ‘n park optel, orgaanskenking.  Wat ‘n fantastiese idee, het ek besef! Dis letterlik al jare lank wat ek dreig om dit te doen, maar ek kom net nooit daarby uit nie.  Dit het my letterlik vyf minute gevat om te registreer.  Easy peasy….

 

So onthou ek toe van die bokse en bokse boeke in ons motorhuis wat net stof opgaar.  Ek het al hier en daar ‘n paar geskenk vir verskillende biblioteke, maar toe besluit ek vandag pak ek my kattebak vol.  En so het die plaaslike biblioteek ‘n hele Pick & Pay trollie vol boeke (tuinmaak boeke, resepte boeke, Konsalik omnibusse) ryker geword.  Ek glo daar gaan baie mense wees wat vreugde gaan put daaruit.

 

Nou ja. Dit was dalk nou wel nie 67 minute nie, maar dit was ‘n klein ietsie.

 

En elke bietjie help. 

Dag 2229 – ‘n Eie besluit?

Desmond Tutu

Dis groot nuus regoor die wêreld – Tutu ondersteun genadedood.  En dit in ‘n oop en eerlike, publieke, brief. 

 

Ek kan net dink hoe sekere kerkgroepe dubbel bollemakiesies slaan oor hierdie uitlating van een van die grootste “kerkmense” in ons geskiedenis.  En alhoewel hy duidelik gesê het dat hierdie sy siening is en nie die siening van sy kerk nie, word daar nog steeds ‘n groot bohaai gemaak.  Volgens mense wat sy stelling verwelkom het “Tutu genadedood as ‘n menseregtekwessie beklemtoon en nie as ‘n godsdienskwessie nie”. 

 

** “Dying is part of life. We have to die. The Earth cannot sustain us and the millions of people that came before us. We have to make way for those who are yet to be born. And since dying is part of life, talking about it shouldn’t be taboo. People should die a decent death. For me that means having had the conversations with those I have crossed in life and being at peace. It means being able to say goodbye to loved ones – if possible, at home.”

Begin die gepubliseerde brief.

“What was done to Madiba (Nelson Mandela) was disgraceful. There was that occasion when Madiba was televised with political leaders, President Jacob Zuma and Cyril Ramaphosa. You could see Madiba was not fully there. He did not speak. He was not connecting. My friend was no longer himself. It was an affront to Madiba’s dignity.”

http://www.theguardian.com/commentisfree/2014/jul/12/desmond-tutu-in-favour-of-assisted-dying?

 

Is hierdie ‘n geloofskwessie?  Vir baie mense is dit.  Op Jacaranda 94.2 het hulle die onderwerp oopgestel aan luisteraars.  Twee luisteraars het, uit persoonlike ondervinding, vertel van die vreeslike leiding van ‘n kankerpasiënt. Mense wat na aan hulle was.  Mense wat ge”drug” was en onbewus was van hulle omgewing en die mense om hulle.  Mense wat in hulle leiding, vir weke kunsmatig aan die lewe gehou is.  En hulle was van opinie dat slegs wanneer jy so iets self ervaar, jy kan verstaan hoe dit is, en hoekom hulle saamstem dat genadedood gewettig moet word.  In jou testament kan jy kies hoe jy tot rus gelê moet word, of jy jou organe wil skenk, dat as jy in ‘n motorongeluk moet wees jy nie kunsmatig aan die lewe gehou wil word nie.  So hoekom kan mens dan nie kies om te sterf soos jy wil nie?

 

My pa het oor die naweek aan ons genoem dat hy binnekort moet gaan vir sy jaarlikse ondersoek.  Bloedtoetse en prostaat en kamera’s.  En hy wou ons net laat weet dat as die spesialis iets kwaadaardig sou vind, hy gaan kies om nie behandeling te kry nie.  Ons was natuurlik geskok daardeur en ek het nie doekies omgedraai nie.

“Dad, jy is selfsugtig en dis onverskillig om so ‘n besluit te maak.”,

was my reaksie.  Ja, ek was sommer kwaad.  Hoe kan hy opgee nog voordat hy weet wat die resultate gaan wees?  Hoe kan hy so ‘n besluit maak sonder om enige van ons in ag te neem?  Sy vrou, sy kinders, sy kleinkinders?  Maar hy was nog altyd vreeslik ingestel op sy waardigheid.  Toe hy een keer in die see sy boonste stel valstande verloor en boonop iemand wat hy ken op die lughawe sien, wou hy doodgaan van skaamte.  Mense moenie sy kwesbaarheid sien nie.  Is dit ydelheid? Miskien?  Is dit die verlies aan beheer wat hom bang maak? Ek glo so.  Hy wil nie aangetrek, gevoed, gepiep word nie.  Hy wil nie fisies afhanklik wees van enige iemand nie.  Hy werk saam met mediese mense.  Hy hoor hierdie stories eerstehands en ongesensor.  So my verstand kan dit wel verstaan.

 

Dalk is dit tog ‘n besluit wat ons elkeen moet kan maak oor ons eie lewens.  Solank ek net nie die een hoef te wees wat my geliefdes se masjiene moet afsit nie…..

 

Dag 2225 – 2228 – Goeiemore Mnr Mandela

20140626_095701

Hierdie eerlike, openlike en emosionele boek van Zelda le Grange het my geboei van begin tot einde.  Sy is nou wel so vyf jaar ouer as ek, maar daar is soveel dinge waarmee ek kan identifiseer.  Grootword in ‘n middelklas, wit voorstad. Geskool in goeie, wit staatskole waar ons aan enige sportsoort kon deelneem wat ons skool aangebied het.  Ons het, wel ek dink ek het beslis, goedsmoeds aanvaar, dat hoe ons lewe, rasse geskei, is hoe dit is.  Ek het dit aanvaar en dit nooit bevraagteken nie. Nooit gewonder hoekom daar nie anderkleurige kinders in my skool of kerk was nie.  Ek het altyd vas geglo dat ons bediende deel was van ons familie, en ek sou boonop met haar stry as sy gesê het haar van is nie dieselfde as myne nie.  Ek onthou vaagweg hoe haar dogtertjie ‘n paar keer saamgekom het van die lokasie af.  Ons het saam gespeel en speelgoed gedeel, maar middagete het sy saam met haar ma gaan sit.  Nie aan tafel saam met my nie.  Dit is maar net hoe dit was.  Ek het dit so aanvaar en nooit die nut gehad om dit te bevraagteken nie. 

 

So het Ma vertel dat ek in Gr 1 vasgeskop het dat ek my lang hare wou kort afsny.  Sy het blykbaar gesoebat en gepaai en probeer om my daarvan te laat afsien, maar ek was soos ‘n haaks donkie.  Toe ek eventueel my sin kry het die waarheid toe uitgekom.  My lang, donkerbruin, reguit hare en my blas vel (van al die tyd in die swembad) het die kinders laat dink ek is ‘n Indiër.  En so het dit uitgekom dat die ander kinders reguit vir my gesê hulle wil nie met my speel nie, want ek is ‘n Indiër.  Ek het dit altyd amuserend gevind dat kinders op daardie ouderdom al daardie bewustheid gehad het van kultuur/kleur en ander kinders om hulle kon “judge” volgens dit.  Hoe is ons nie al van ‘n klein ouderdom “gebreinspoel” nie.

 

Dit is baie duidelik dat Zelda ‘n groot bewondering en ‘n diep liefde gehad het vir haar Khulu.  Sy vertel van staatsbesoeke, van Madiba wat ‘n ongelooflike energie en dryf gehad het, van hoe elkeen ‘n stukkie van hom wou hê en boonop geglo het dat Madiba hulle dit skuld.  Hy was hierdie “wonderwerk man” wat geroep sou word om oplossings te vind vir landskrisse en dreigende oorloë.    En na sy vyf jaar as president is dit asof hy nog harder gewerk het om veral geld in te samel vir sy “foundation”.  Madiba het nie sakke vol geld gehad soos mens sou dink nie.  Elke keer wanneer hulle iewers heen moes vlieg om te gaan vra vir donasies en bydraes vir die “foundation”, moes Zelda bakhand gaan staan en vra vir akkomodasie en vervoer vir Madiba en sy klein entourage. 

 

Deur haar vertellinge kry mens ‘n wonderlike insig van hoe haar lewe saam met hom was.  Dit was alles behalwe “glamorous” en maklik.  Dit was stresvol en moeilik en uitdagend.  Ek het ook die idee gekry dat hoe meer sy van haarself vir Madiba gegee het, hoe meer het hy van haar verwag. Die oomblik wat Madiba nie meer vir homself kon praat nie, het sy familie Graca verstoot en haar bestaan so te sê nie eers erken nie.  Dit was duidelik gemaak aan Zelda dat sy nie welkom was in Madiba se huis nie, en sy moes amper “skelm” vir hom gaan kuier.  Soos meeste van ons was sy buite haarself van woede Zuma se besoek aan Madiba.  Die media se kamera’s het onophoudelik geflits en daar was geen respek vir die feit dat flits fotografie nooit gebruik moes word op Madiba nie.  Vir baie jare was dit net ‘n reel wat altyd deur die media gerespecteerd en uitgeoefen was.  President Zuma het na die kuiertjie vol selfvertroue op kamera gesê dat Madiba baie goed lyk.  Hy het duidelik daardie dag stof in sy oë gehad, want Madiba het gelyk soos ‘n liggaam waarvan die siel lankal reeds afskeid geneem het.  Die laaste ses maande van sy lewe het Zelda hom glad nie gesien nie.  ‘n Deel van haar het toe reeds afskeid geneem, want Madiba was baie siek.  En hy was ook nie meer die persoon vir wie sy omgegee het en by wie sy so baie geleer het nie. 

As jy nie gereeld in trane is terwyl jy die laaste hoofstuk van haar boek lees nie, het jy ‘n hart van klip.  Daar is soveel rou emosies betrokke dat ek nie anders kon as om geraak te word daardeur nie.  En nie net Zelda se emosies nie, maar ook die van mense wat na aan hom was.  Graca en haar dogter, Suid-Afrikaanse besigheidsmense wat groot ondersteuners was van sy “foundation”, diegene wat saam met hom was op Robben Eiland, bekendes wat van regoor die wêreld gekom het om te kom afskeid neem op Qunu.    Die behandeling wat hierdie persoonlike vriende van Madiba van sy familie gekry het, was skokkend.  Zelda het deurgaans genoem hoe Madiba sekere dinge nooit sou toegelaat het nie.  Daar is soveel lewenslesse te leer uit haar vertellinge van die man wat sy so persoonlik geken het.

 

Ja, daar is kritiek dat sy die boek geskryf het na sy blykbaar jare terug gesê het sy sal nie ‘n boek skryf oor Madiba nie.  Daar is diegene wat blog en tweet en stellings maak op facebook dat Zelda  “die Madiba storie melk” terwyl dit nog nuuswaardig is.  Ek is bereid om geld daarop te sit dat heelwat van hierdie kritici juis haar boek gaan opraap het. Want hulle wou ook weet wat min mense geweet het.   

 

Wat ook al jou opinie oor apartheid, terrorisme, Madiba, die ANC, wit mense wat konstant leef met ‘n “ag shame-houding”, die Nelson Mandela Foundation, of selfs jou opinie oor Zelda is.  Moenie ‘n opinie vorm oor die karakters, klein gepubliseerde dele van die boek in die media, of die skrywer, bloot deur die opinies van ander nie. 

 

Lees hierdie boek van begin tot einde en besluit self.    

 

 

Dag 2222 – 2224 – Vlietende geluk?

Dinsdagaand, toe ek met lekker warm nagklere, winterslakens, ‘n elektriese kombers en dik kombers oor my lê, het ek nogal gedink hoe bevoorreg ek is om myself so te kon skerm teen die koue winternag daar buite. Ek het gebid vir die boemelaars wat onder brûe, onder koerante skuil, en nogal gehoop hulle kon hulleself “ver-alkohol” sodat hulle net kon uit”pass” en nie bewus wees van die koue nie. Vir diegene wat in ‘n sinkhuisie met hulle kindertjies onder kombersies slaap wat net nie genoeg warmte verskaf nie. Wat heel waarskynlik moet saambondel en staatmaak op mekaar se liggaamshitte,. Vir die duisende wat nie daardie aand ‘n warm maaltyd gehad het nie. Dis wanneer ek honger en koue en mishandeling om my sien, wat ek al die seëninge tel waarvan ek so vinnig vergeet. En die klein dingetjies wat so vanselfsprekend deel is van my alledaagse bestaan.

 

Maar gister het ek vet en depressief en doelloos gevoel. Geen van my klere het reg gevoel of gelyk nie en toe vergryp ek my aan ‘n Kit-Kat en Woolworths koekies. En doelloos in die sin dat dit voel of ek die laaste paar dae net aankarring sonder enige groot doelwit wat my dryf. Rondskrop in die huis soos ‘n Moederhen – speelgoed optel, klere wegpak, laaie uitsorteer, haarrekkies en linte vir die miljoenste keer in sakkies sit.   Dit voel of ek my middae om baklei met die kinders, want hulle is heeltyd in mekaar se hare.

“Japsnoet doesn’t want to get out of my room.”

“Engel doesn’t want to play Frozen with me.”

“Mommy, Engel threw my favourite soft toy in the bushes.”

“Why must I lock the front gate every morning while Japsnoet is already in the car with you?”

En genade bewaar my as ek iets kreatiefs en gesond (en boonop vreemd) maak vir aandete. Die borde wat eventueel hulle pad vind kombuis toe is bestaan uit kos wat so effe rondgeskuif is sodat dit darem moet lyk of daar aan geproe is. En dan moet ek slaaptyd aanhoor hoe honger elkeen is en smeek met hartseer ogies vir ‘n Provita of naartjie…. Dis sulke tye wat ek sukkel om my eie lewensbesluite goedsmoeds te aanvaar. Het ek werklik die regte opofferings gemaak en dit ten koste van myself? Het ek regtig alles in ag geneem voor ek besluit het om ‘n tuisbly ma te wees? Hoekom voel ek met tye so “useless”, asof ek tans net my gesin “dien” en vure doodslaan en balle in die lug hou?

 

Ek het so hard probeer dink watter dinge dit is wat ek doen wat uniek en spesiaal is. Maar die positiewe gedagtes wou net nie uit nie. Nie gister nie. Die selfbejammering het te swaar in my skoot gelê en dit was te maklik om eerder te dink aan dit wat ek nie is nie en wat ek nie doen nie. Ek verdien nie my eie geld nie, ek dien nie op rade nie, ek het nie geniale of musikale of sportuitblinker meisiekinders nie, help nie by sopkombuise nie, het nie my eie juweliersreeks/handsakreeks/klerereeks nie, bak nie “amazing” partytjie koeke nie, brei nie komberse vir liefdadigheid nie, skryf nie lewensveranderinde boeke nie. Pixie is nie ‘n motivering spreker, ‘n dokter, ‘n veaarts, onderwyser, taal professor, maatskaplike werker, chef of hokkie afrigter nie. Elfuur gister oggend het ek nog met nat hare in ‘n wit handdoek, op my onopgemaakte bed gesit en uitkyk en oor die naaktheid van winter. En gesit en dink oor al hierdie kakkies. Dit het my laat wonder wat is ware geluk dan nou eintlik? Is dit so eenvoudig dat dit vir elke persoon bloot iets anders beteken? Is ware geluk blywend? Is geluk vlietend? Is daar een persoon wat na sy lewe kan kyk en met eerlikheid en oortuiging kan sê – hier waar ek nou is is my geluk en my vreugde waarna ek altyd gestrewe het?

 

Vandag voel ek nou weer rustiger. Ek is besig om kaartjies te maak (ek koop nie meer verjaarsdagkaartjies nie) en my kreatiwiteit in te span vir Engel se 9de verjaarsdagpartytjie oor drie weke.

 

En as dit verby is moet ek die volgende projek soek voordat ek weer in ‘n donker gat  van depressie en antwoordlose vrae val.

 

Dag 2217 – 2221 – ‘n Olyftakkie

Ek wil iets van my hart af kry.  ‘n Brief.  Wat ek nie vir die mense vir wie dit bedoel is kan stuur nie.  (Al het Manlief op ‘n stadium gesê hy dink ek moet) Omdat een van daardie partye vir wie dit bedoel is, ‘n selfsugtige sosiopaat is.  Hy dink mos hy is altyd reg en die wêreld is teen hom. ‘n Persoon sonder morele verantwoordelikheid wat slegs belangstel in sy eie behoeftes, sonder enige konsiderasie vir die effek wat dit het op die mense vir wie hy kwansuis lief het.  En omdat die ander persoon vir wie dit ook bedoel is, allerhande verskonings en “justifications” sal hê vir die besluite wat sy nie maak nie, en die waarhede wat sy kies om nie te hoor nie.

***********************************************

Aan skoonpa en skoonma,

 

Ek is so ongelooflik teleurgesteld.  In julle albei.  Alweer.  Soos menige ander tye het ek julle hierdie keer voordeel van die twyfel gwgee. Het ek geglo, maak nie saak hoeveel mense met my gestry het nie, dat dit hierdie keer anders sou wees.

 

Julle oudste seun het ‘n olyftakkie na julle uitgesteek.  ‘n Reddingsbootjie uitgegooi in die rowwe see waarin julle skaars kop bo water kan hou.  En julle het bloot julle rûe op hom gedraai.  Maar terselfdertyd die takkie in ‘n laai in watte gaan toedraai, want Skoonma, ek dink diep in jou hart weet jy dat jy daardie takkie gaan nodig hê.

 

Weet jy Skoonpa dat ons Skoonma genooi het om vir ‘n naweek by ons te kom kuier? Sy het erken sy mis die kinders vreeslik en sou graag wou kom.  Maar sy was bang vir jou – wat jy sou se en jou optrede teenoor haar sou sy die offer aanvaar. Sy wou nie gehad het jy moet uitgelaat voel nie.  Nou “suffer” sy maar.  En ek moes vir my kinders vertel hulle Ouma wou nie kom kuier nie, want sy is bang Oupa is kwaad.  Ek glo nie daarin om vir my kinders dinge te “sugar coat” nie.  Hulle moet weet dit is nie ons wat hulle weerhou van hulle Ouma se liefde en aandag nie.

 

So Skoonpa, wat doen jy aan haar as jy kwaad raak vir haar?  As sy besluite neem sonder om jou te raadpleeg of in ag te neem?  Slaan jy haar? Vertel jy haar hoe ‘n slegte vrou sy is? Of gee jy haar die “ignore” vir ‘n paar dae?  Pers jy haar af? Verhou jy haar eie geld van haar?  Hoekom is sy só bang  vir jou?

 

Skoonpa, weet jy dat sy hoop dat ons almal weer binnekort “happy families” sal speel? Sondagmiddae etes,  Oukersaand snacks , ballet konserte en familie kuiers om ons swembad.  Skoonma dink Skoonpa en Manlief en Kleinboet is maar net hardkoppig en as julle almal dinge uitpraat sal dit alles weer “hunky dory” wees.  En sal julle besef dat dit alles net een groot misverstand was.  Toe skryf ek vir haar in Maart ‘n lang brief en stuur dit saam Manlief en sy Olyftakkie. Deel van die brief was –

Manlief het aan Ma verduidelik hoe hy oor sy pa voel.  (Die oneerlikheid en leuens, hoe hy met mense praat, sy rassisme,ens ) En ek het my eie opinies en gevoelens teenoor hom.  En as Ma wil weet wat dit is, sal ek dit met Ma bespreek.  Ons nooi Ma om by ons te kom kuier sodat daar nie ongemaklikhede en spanning moet wees nie.  Dat ons in vrede kan kuier.  En sodat die kleinkinders hulle Ouma kan leer ken.”

 

En die olyftakkie?  Manlief sou gaan skuld maak het om vir julle julle eie blyplek te koop.  Dit sou nie gewees het met geld wat sommer net in sy agtersak vergete gebly het nie. Villa Riviera, ‘n aftree oord in Parys.  Op die bank van die Vaalrivier.   Dis so vreeslik mooi en rustig en veilig daar.   Die een slaapkamer eenheid wat hy kan bekostig is nou wel klein, maar dit sou julle tuiste gewees het.  Om mee te doen wat julle wil.  ‘n Tuiste wat niemand van julle kon wegvat nie.  Langs die oewers van die rivier, onder groot, ou wilgerbome is daar braaifasiliteite en tuinmeubels.  Ek kon in my geestesoog sien hoe julle daar sit en lees of gesels terwyl ‘n ligte briesie deur die takke dans.  Die fraai dorpie met sy kunswinkeltjies sou heel moontlik vir Skoonma die geleentheid gegee het om bietjie sakgeld te maak.  Sy is tog so lief vir bak en handewerk.

 

Skoonma, ek kan nie glo dat jy aanhou glo in jou man se leuens van “groot geld” en dat Skoonpa vir julle ‘n “awesome” huis sal koop nie.  Wat is dit wat maak dat jy so vasklou aan sy stories?  Desperaatheid? Naiwiteit? Hopeloosheid?  Bang?  Hoop? Ek vind dit so moeilik om te aanvaar dat julle wil aanbly in ‘n kamer in iemand se huis, terwyl julle ‘n ruimte van julle eie kan hê?  Skoonpa, hoeveel langer gaan jy nog die mense om jou bedrieg? Is Dr Jax reg dat jy regtig niks vir niemand voel nie? Dat jy nie skuldig voel oor wat jy jou vrou deursit nie? Weet jy dis as gevolg van jou dat julle in isolasie leef van julle kinders en kleinkinders? Dat julle nie vriende het nie?  Voel jy enigsins skuldig dat jy my pa destyds bedrieg het en dat ek gewonder het of my aanstaande man ook so ‘n oneerlike persoon is? Jy het geen skaam in jou gehad om ‘n “scene” te maak op jou jongste seun se troue deur sy vrou se oom te wil bykom nie? Of is jy eintlik net versteurd? Bipolêr? Skitsofrenies?

 

Ek kan nie meer oor julle “worry” nie, en Skoonma, ek kan nie meer vir jou jammer voel nie.  Die bitterheid vreet my van binne op.  Daar is vir elke mens ‘n kans om sy eie besluite te neem.  Skoonma, hierdie was so ‘n ongelooflike geleentheid vir jou om uit jou “tronk van ongelukkigheid” te klim en beheer te neem van jou eie lewe.  Jy wou dit al soveel keer doen, en hier het dit in ‘n silwer skinkbord by jou voete gele.  Jy kon weer beheer he oor jouself!  Jy kon gesê het “Ek gaan Parys toe, kom jy of bly jy?”.

Solank as wat ek lewe, sal ek dit nooit verstaan nie.

 

Hierdie situasies kom seker oor my lewe sodat ek lesse daaruit kan leer en nooit dieselfde foute maak nie.  So ek moet seker eerder sê dankie as wat ek met ‘n bitterheid rondloop.  Mag ek nooit my selfrespek en my eie waarde so verloor soos wat my skoonma gedoen het nie.

  ***********************************************

OK, genoeg.  Genoeg. 

 

Dag 2197 – 2216 – Sug….

Ek het nou eers die inskrywing van Naomi gelees oor die gesprek op RSG oor blogs.  In die eerste plek is dit vir my hartseer dat so baie van ons “gereelde’s”  moes aanskuif.  ‘n Afrikaanse blog sisteem was so ‘n fantastiese platform om te gaan gesels en sommer net dinge te deel.  Nou probeer ek desperaat om my blogs wat ek nou hier pos, ook te gaan sit op litnet blogs.  Maar tevergeefs!  Ewe skielik kan ek nie meer “in-log” nie.  So asof litnet vir my se “jy wil mos waai, nou kan jy nie weer kom kuier nie.”  Ek het ‘n e-pos vir Naomi gestuur en hopelik kan sy dit uitsorteer!

 

Weliswaar het ek nou nie geluister na die praatjie oor blogs nie.  Maar wil tog my opinie lig oor blogs.  So ek gaan net gou op my “seepboks” klim!  In my opinie glo ek nie dat ‘n blog enigsins moet voldoen aan reels of ‘n spesieke formaat nie.  Individuele blogs is heeltemal te persoonlik en uniek om in ‘n boksie gedruk te word.  Meeste van ons skryf oor dingetjies wat met ons gebeur het, of oor iets wat swaar op ons harte le, of iets wat ons nie noodwendig wil/kan deel met die mense om ons nie.  Ander blogs is weer meer lighartig en daar is snaakse staaltjies of stories uit kinderdae, of daar is die weeklike uitdagings en snaakse foto’s van @tina10.  (Wat ek wens ek meer gereeld by kan uitkom!)  Jy kan jou blog so “inkleur” dat dit wie jy is, jou belangstellings of jou gemoedstoestand, duidelik adverteer.  Elkeen van ons kyk na iets anders wanneer ons mede-bloggers se inskrywings lees.  Ek hou byvoorbeeld van prentjies, maar ‘n interessante eerste paragraaf sal my ook inspireer om verder te lees.  Dan is daar ook bloggers met wie ek voel ek kan identifiseer al is daar geen kleurvolle prentjies of ‘n titel wat my trek nie.  En so hoop ek dat my persoonlike foto’s wat ek met sorg uitkies vir elke blog, vir ander lesers interessant sal wees en hulle nuuskierig sal maak oor wat in my kop aangaan.

 

My blog het nou wel in Januarie 2011 begin as inskrywings oor my depressie en hoe ek elke dag aangepak het en watter effek die terapie en medikasie op my en my verhoudings gehad het.  So ja, daar was beslis ‘n tema wat ‘n goue draadjie deur elke inskrywing gehardloop het.  Maar veral die laaste ses maande het ek begin skryf oor alles en nog wat.  En dis so lekker om daardie platform te he waar ek my woorde kan publiseer.  En ja.  My hoop is dat mense tog sal kommentaar lewer, of dit nou negatief of positief is.  Want ten minste voel ek iemand stel belang in wat ek te se het!

 

Daar is soveel honderde duisende Afrikaanse mense regoor die wereld.  Hoekom is daar nie meer van ons wat ons gedagtes en ervarings en opinies met mekaar deel nie?  Ek weet regtig nie hoe mens Afrikaanses regoor die aarbol kan motiveer om deel te word van ons “groepie” nie?

 

Dit sal so lekker wees om veral van mense wat in ander lande bly, te hoor.  Sug……