Dag 2222 – 2224 – Vlietende geluk?

Dinsdagaand, toe ek met lekker warm nagklere, winterslakens, ‘n elektriese kombers en dik kombers oor my lê, het ek nogal gedink hoe bevoorreg ek is om myself so te kon skerm teen die koue winternag daar buite. Ek het gebid vir die boemelaars wat onder brûe, onder koerante skuil, en nogal gehoop hulle kon hulleself “ver-alkohol” sodat hulle net kon uit”pass” en nie bewus wees van die koue nie. Vir diegene wat in ‘n sinkhuisie met hulle kindertjies onder kombersies slaap wat net nie genoeg warmte verskaf nie. Wat heel waarskynlik moet saambondel en staatmaak op mekaar se liggaamshitte,. Vir die duisende wat nie daardie aand ‘n warm maaltyd gehad het nie. Dis wanneer ek honger en koue en mishandeling om my sien, wat ek al die seëninge tel waarvan ek so vinnig vergeet. En die klein dingetjies wat so vanselfsprekend deel is van my alledaagse bestaan.

 

Maar gister het ek vet en depressief en doelloos gevoel. Geen van my klere het reg gevoel of gelyk nie en toe vergryp ek my aan ‘n Kit-Kat en Woolworths koekies. En doelloos in die sin dat dit voel of ek die laaste paar dae net aankarring sonder enige groot doelwit wat my dryf. Rondskrop in die huis soos ‘n Moederhen – speelgoed optel, klere wegpak, laaie uitsorteer, haarrekkies en linte vir die miljoenste keer in sakkies sit.   Dit voel of ek my middae om baklei met die kinders, want hulle is heeltyd in mekaar se hare.

“Japsnoet doesn’t want to get out of my room.”

“Engel doesn’t want to play Frozen with me.”

“Mommy, Engel threw my favourite soft toy in the bushes.”

“Why must I lock the front gate every morning while Japsnoet is already in the car with you?”

En genade bewaar my as ek iets kreatiefs en gesond (en boonop vreemd) maak vir aandete. Die borde wat eventueel hulle pad vind kombuis toe is bestaan uit kos wat so effe rondgeskuif is sodat dit darem moet lyk of daar aan geproe is. En dan moet ek slaaptyd aanhoor hoe honger elkeen is en smeek met hartseer ogies vir ‘n Provita of naartjie…. Dis sulke tye wat ek sukkel om my eie lewensbesluite goedsmoeds te aanvaar. Het ek werklik die regte opofferings gemaak en dit ten koste van myself? Het ek regtig alles in ag geneem voor ek besluit het om ‘n tuisbly ma te wees? Hoekom voel ek met tye so “useless”, asof ek tans net my gesin “dien” en vure doodslaan en balle in die lug hou?

 

Ek het so hard probeer dink watter dinge dit is wat ek doen wat uniek en spesiaal is. Maar die positiewe gedagtes wou net nie uit nie. Nie gister nie. Die selfbejammering het te swaar in my skoot gelê en dit was te maklik om eerder te dink aan dit wat ek nie is nie en wat ek nie doen nie. Ek verdien nie my eie geld nie, ek dien nie op rade nie, ek het nie geniale of musikale of sportuitblinker meisiekinders nie, help nie by sopkombuise nie, het nie my eie juweliersreeks/handsakreeks/klerereeks nie, bak nie “amazing” partytjie koeke nie, brei nie komberse vir liefdadigheid nie, skryf nie lewensveranderinde boeke nie. Pixie is nie ‘n motivering spreker, ‘n dokter, ‘n veaarts, onderwyser, taal professor, maatskaplike werker, chef of hokkie afrigter nie. Elfuur gister oggend het ek nog met nat hare in ‘n wit handdoek, op my onopgemaakte bed gesit en uitkyk en oor die naaktheid van winter. En gesit en dink oor al hierdie kakkies. Dit het my laat wonder wat is ware geluk dan nou eintlik? Is dit so eenvoudig dat dit vir elke persoon bloot iets anders beteken? Is ware geluk blywend? Is geluk vlietend? Is daar een persoon wat na sy lewe kan kyk en met eerlikheid en oortuiging kan sê – hier waar ek nou is is my geluk en my vreugde waarna ek altyd gestrewe het?

 

Vandag voel ek nou weer rustiger. Ek is besig om kaartjies te maak (ek koop nie meer verjaarsdagkaartjies nie) en my kreatiwiteit in te span vir Engel se 9de verjaarsdagpartytjie oor drie weke.

 

En as dit verby is moet ek die volgende projek soek voordat ek weer in ‘n donker gat  van depressie en antwoordlose vrae val.

 

Advertisements

9 thoughts on “Dag 2222 – 2224 – Vlietende geluk?

  1. Ai, dit maak my baie hartseer dat die samelewing tuisblymammas nie na behore waardeer nie! Gevolglik besef julle ook nie dat julle die sement is wat die mure van daardie einste samelewing regop hou nie! Hoeveel keer het jy al die kinders van “werkende ma’s” iewers op- of afgelaai? Ek is seker jy help by die snoepie en die kerkbasaar en die skoolkonsert? Jy gee van jouself en wat is kosbaarder as dit?

  2. Sterkte.

    Ek moet ook net sê dat ek nie ‘n tuisbly mamma is nie, maar ek sit en stoei meeste van die tyd met dieselfde vrae en gedagtes. Dis aaklig.

    • Elke keer wat ek so voel, wonder ek altyd of ek moet gaan werk. Of dit my gelukkiger sal maak “om daar buite te wees.”. Maar die blote idee daarvan om myself in ‘n omgewing te gaan plaas waar ek eintlik nie wil wees nie, gee my skoon ‘n angsaanval. Ek het ‘n baie oulike stuk gelees op Facebook oor ‘n brief van ‘n tuisbly ma aan ‘n werkende ma, en vica versa. Dit was vreeslik mooi. Ek sal dit plaas.

      • O nee! En ek dink weer “ag as ek net by die huis kon wees”!

        Ag elke situasie het seker maar sy voordele, dit voel net of ek baie mis van my kinders, dis al. 😦

  3. Pixie,ek het vier kinders groot gemaak,was ook ‘n tuisbly ma en het ook heeltemal nutteloos gevoel en soos almal se vloerlap.Ek weet presies wat jy deurgaan,maar jy moet moedhou.As jy eendag terugkyk,besef jy jy het iets wonderliks vermag,nl om twee pragtige kinders die wêreld in te stuur en te weet dat dit aan jou te danke is.Dan gaan jy weer jouself begin vind en doen waarvan jy hou.Dit neem tyd,maar die wag is die moeite werd.Ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie!Intussen moet jy dalk iemand soek wat in dieselfde posisie is,dat julle by mekaar kan kla en besef julle is nie alleen nie.

    • Dankie Perdebytjie. Ek waardeer jou woorde van motivering. Ek het so ‘n “tough week” gehad met die kinders dat ek naderhand nie meer verby die “moeilijke” en “challenging” kon sien nie. Dis ‘n nuwe week en ons probeer maar weer. 😉

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s