Dag 2225 – 2228 – Goeiemore Mnr Mandela

20140626_095701

Hierdie eerlike, openlike en emosionele boek van Zelda le Grange het my geboei van begin tot einde.  Sy is nou wel so vyf jaar ouer as ek, maar daar is soveel dinge waarmee ek kan identifiseer.  Grootword in ‘n middelklas, wit voorstad. Geskool in goeie, wit staatskole waar ons aan enige sportsoort kon deelneem wat ons skool aangebied het.  Ons het, wel ek dink ek het beslis, goedsmoeds aanvaar, dat hoe ons lewe, rasse geskei, is hoe dit is.  Ek het dit aanvaar en dit nooit bevraagteken nie. Nooit gewonder hoekom daar nie anderkleurige kinders in my skool of kerk was nie.  Ek het altyd vas geglo dat ons bediende deel was van ons familie, en ek sou boonop met haar stry as sy gesê het haar van is nie dieselfde as myne nie.  Ek onthou vaagweg hoe haar dogtertjie ‘n paar keer saamgekom het van die lokasie af.  Ons het saam gespeel en speelgoed gedeel, maar middagete het sy saam met haar ma gaan sit.  Nie aan tafel saam met my nie.  Dit is maar net hoe dit was.  Ek het dit so aanvaar en nooit die nut gehad om dit te bevraagteken nie. 

 

So het Ma vertel dat ek in Gr 1 vasgeskop het dat ek my lang hare wou kort afsny.  Sy het blykbaar gesoebat en gepaai en probeer om my daarvan te laat afsien, maar ek was soos ‘n haaks donkie.  Toe ek eventueel my sin kry het die waarheid toe uitgekom.  My lang, donkerbruin, reguit hare en my blas vel (van al die tyd in die swembad) het die kinders laat dink ek is ‘n Indiër.  En so het dit uitgekom dat die ander kinders reguit vir my gesê hulle wil nie met my speel nie, want ek is ‘n Indiër.  Ek het dit altyd amuserend gevind dat kinders op daardie ouderdom al daardie bewustheid gehad het van kultuur/kleur en ander kinders om hulle kon “judge” volgens dit.  Hoe is ons nie al van ‘n klein ouderdom “gebreinspoel” nie.

 

Dit is baie duidelik dat Zelda ‘n groot bewondering en ‘n diep liefde gehad het vir haar Khulu.  Sy vertel van staatsbesoeke, van Madiba wat ‘n ongelooflike energie en dryf gehad het, van hoe elkeen ‘n stukkie van hom wou hê en boonop geglo het dat Madiba hulle dit skuld.  Hy was hierdie “wonderwerk man” wat geroep sou word om oplossings te vind vir landskrisse en dreigende oorloë.    En na sy vyf jaar as president is dit asof hy nog harder gewerk het om veral geld in te samel vir sy “foundation”.  Madiba het nie sakke vol geld gehad soos mens sou dink nie.  Elke keer wanneer hulle iewers heen moes vlieg om te gaan vra vir donasies en bydraes vir die “foundation”, moes Zelda bakhand gaan staan en vra vir akkomodasie en vervoer vir Madiba en sy klein entourage. 

 

Deur haar vertellinge kry mens ‘n wonderlike insig van hoe haar lewe saam met hom was.  Dit was alles behalwe “glamorous” en maklik.  Dit was stresvol en moeilik en uitdagend.  Ek het ook die idee gekry dat hoe meer sy van haarself vir Madiba gegee het, hoe meer het hy van haar verwag. Die oomblik wat Madiba nie meer vir homself kon praat nie, het sy familie Graca verstoot en haar bestaan so te sê nie eers erken nie.  Dit was duidelik gemaak aan Zelda dat sy nie welkom was in Madiba se huis nie, en sy moes amper “skelm” vir hom gaan kuier.  Soos meeste van ons was sy buite haarself van woede Zuma se besoek aan Madiba.  Die media se kamera’s het onophoudelik geflits en daar was geen respek vir die feit dat flits fotografie nooit gebruik moes word op Madiba nie.  Vir baie jare was dit net ‘n reel wat altyd deur die media gerespecteerd en uitgeoefen was.  President Zuma het na die kuiertjie vol selfvertroue op kamera gesê dat Madiba baie goed lyk.  Hy het duidelik daardie dag stof in sy oë gehad, want Madiba het gelyk soos ‘n liggaam waarvan die siel lankal reeds afskeid geneem het.  Die laaste ses maande van sy lewe het Zelda hom glad nie gesien nie.  ‘n Deel van haar het toe reeds afskeid geneem, want Madiba was baie siek.  En hy was ook nie meer die persoon vir wie sy omgegee het en by wie sy so baie geleer het nie. 

As jy nie gereeld in trane is terwyl jy die laaste hoofstuk van haar boek lees nie, het jy ‘n hart van klip.  Daar is soveel rou emosies betrokke dat ek nie anders kon as om geraak te word daardeur nie.  En nie net Zelda se emosies nie, maar ook die van mense wat na aan hom was.  Graca en haar dogter, Suid-Afrikaanse besigheidsmense wat groot ondersteuners was van sy “foundation”, diegene wat saam met hom was op Robben Eiland, bekendes wat van regoor die wêreld gekom het om te kom afskeid neem op Qunu.    Die behandeling wat hierdie persoonlike vriende van Madiba van sy familie gekry het, was skokkend.  Zelda het deurgaans genoem hoe Madiba sekere dinge nooit sou toegelaat het nie.  Daar is soveel lewenslesse te leer uit haar vertellinge van die man wat sy so persoonlik geken het.

 

Ja, daar is kritiek dat sy die boek geskryf het na sy blykbaar jare terug gesê het sy sal nie ‘n boek skryf oor Madiba nie.  Daar is diegene wat blog en tweet en stellings maak op facebook dat Zelda  “die Madiba storie melk” terwyl dit nog nuuswaardig is.  Ek is bereid om geld daarop te sit dat heelwat van hierdie kritici juis haar boek gaan opraap het. Want hulle wou ook weet wat min mense geweet het.   

 

Wat ook al jou opinie oor apartheid, terrorisme, Madiba, die ANC, wit mense wat konstant leef met ‘n “ag shame-houding”, die Nelson Mandela Foundation, of selfs jou opinie oor Zelda is.  Moenie ‘n opinie vorm oor die karakters, klein gepubliseerde dele van die boek in die media, of die skrywer, bloot deur die opinies van ander nie. 

 

Lees hierdie boek van begin tot einde en besluit self.    

 

 

Advertisements

9 thoughts on “Dag 2225 – 2228 – Goeiemore Mnr Mandela

  1. Dankie,ek dink ook daar is te veel opinies van mense wat nooit eers die boek gelees het of sal lees nie.Ek gaan dit beslis aanskaf.

    • Dis hoekom ek ook self die boek wou lees. Ek was nuuskierig, geprikkeld, het belang gestel in die dieper stories, en ek wou ook haar motivering verstaan agter hoekom sy ‘n getroue werkgewer gebly het tot die einde.

  2. Ek het so pas die boek klaar gelees en stem saam met als wat jy skryf. Twee opmerkings. Sy skryf amper op ‘n kinderlike manier en is eintlik baie naief. Die feit dat sy net in daardie omgewing gewerk het, het haar werled verbreed, maar ook eng gemaak. Sy skryf dat sy telkemale vir hom moes verduidelik wie die celebrities was wat hom besoek het, maar tog het sy nie geweet wie Prof David Block was nie. haar opinies oor politiek is ook baie naief.
    Tweedens was dit vir my baie vreemd en opvallend dat sy byna NIKS skryf oor Winnie Madikezela Mandela nie. Veral oor hoe sy aan sy sy was terwyl hy so siek was nie. Daar was ‘n ophef daaroor gemaak in die media en dit was vlgs my ook disrespekvol teenoor Mev Graca Machel.
    Ek is mal daaroor hoe sy die klomp Mandela aasvoels ontbloot vir wie hulle is.

    • Dis so interessant om nog iemand se perspektief te kry wat actually die boek gelees het! Dankie! Iemand het haar in ‘n onderhoud gevra hoekom sy nie veel se oor Winnie nie. Sy se sy het Winnie amper nooit gesien nie en haar nie geken nie. Ek stem ook heeltemal saam oor haar lewe wat tot ‘n mate eng was. Sy het geleef in ‘n politieke ballon – dis waar haar vriende was en sy haar lewensondervinding opgedoen het. Ek glo alhoewel dis alles deel van die lewenspad wat vir haar gekies is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s