Dag 2233 – 2242 – Blouste Maandag maal drie

Image 62

Boeta (2) (my sussie se seuntjie) het die laaste paar weke nogal baie by ons gekuier. Engel (9) en Japsnoet (5) is baie lief vir hulle nefie en ek kan sien die mannetjie gaan nog met baie wegkom by hulle!   Engel veral het ‘n baie sagte plekkie vir hom in haar hart.

 

So teen nou is my onderbewussyn alweer redelik ingestel op hoe ‘n twee-jarige se koppie werk en waarvoor ek moet uitkyk en wat ek moet wegpak of wegsteek! Verlede Maandagmiddag gaan haal ek die kinders by die skool. Boeta en Japsnoet hardloop huppel-huppel deur die parkeer area oppad na die sportvelde. Daar vind ek ‘n heel ongelukkige Engel wat met hartseer ogies vra of sy kan huis toe gaan, want sy het ‘n hoofpyn. En so trek ons maar weer terug parkeerarea toe met sportsakke en hokkiesakke en ‘n oorvol, navy rugsak. Japsnoet en Boeta klim albei by die een kant van die kar in en ek loop om na die bestuurskant om Boeta in sy stoeltjie vas te maak. En toe is dit asof alles gebeur in “slow motion”. In my proses om die agterste deur oop te maak, besef ek nie Boeta leuen teen die deur nie en hy duik, kop eerste, deur die gaping van die oop deur. DOEF. Sy voorkop kap met ‘n slag teen die rowwe teer en ek sien hoe hy snaaks met sy nekkie val voordat hy ten volle op die grond te lande kom. En daardie klein lyfie skree soos ek nog nooit enige kind hoor skree het nie. ‘n Bloedstollende-hartstoppende pyn kreet. En my hart word kouer as koud. Ek raap hom op en sonder om te kyk na sy gesig hou ek hom teen my vas. Intussen het ‘n ander ma, wat soort van gesien het wat gebeur, uit haar kar gespring om te sien of sy kan help. Met ‘n nat lappie vee sy toe sy gesiggie af. Knop op die kop, bloed wat by sy mondjie uitloop, stukkende neus, en my brein gaan in “overdrive”, want ek dink aan die ergste diagnoses.

 

Dummy in die mond en met Japsnoet wat met hom praat sodat hy moet wakker bly, ry ek so vinnig en veilig moontlik na sy huisdokter toe. Intussen krul Engel van pyn op die sitplek langs my en gryp haar slape vas. En Japsnoet vertel net vir my hoe sy nou pyn op haar maag het en naar is. En ek lei af dis ook maar van die skok, want sy dink toe dis haar skuld dat Boeta uit die kar uitgeval het, want sy het hom in sy stoeltjie probeer inhelp. Toe die dokter opdaag huil ek dat jy net snot en trane en swart maskara sien loop. (Intussen moes Engel toe hardloop vir ‘n toilet, want teen die tyd is sy skoon grys van naardheid.) En die gawe dokter paai net en sê ongelukkige gebeur en sy weet hoe ek voel, maar sy dink regtig Boeta is OK. Maar net om seker te wees stuur sy ons Ongevalle toe om te kyk of hulle voel dis dalk nodig vir X-strale. In daardie tyd bel ek toe maar vir Manlief want as ek in my toestand vir Kleinsus moes bel was dit “panic station” en dan was die hele familie weer op hol. En ek kan nie funksioneer as mense om my ook nog tekere gaan nie. Die tien minute rit het natuurlik gevoel soos ‘n ewigheid, maar in daardie tyd het Boeta weer begin gesels en in die hospitaal se besige parkeer terrein die karre genoem wat hy sien.

 

Met twee opgooi-naar kinders wat ek toe agterlaat in die kar, onder die wakende oog van die karwag, storm ek toe met Boeta Ongevalle toe. Net die noem van ‘n kopbesering het ulle dadelik in rep en roer en in ‘n ondersoek kamertjie in. Om ‘n lang storie kort te maak het die dokter bevestig daar is niks ernstig om oor te bekommer nie. En afsiende die eier op sy voorkop en die skrape op sy gesiggie, is hy 100%. Die verligting wat ek gevoel het kan ek vir niemand beskryf nie. Intussen vind Manlief my in die doolhof van ‘n Ongevalle afdeling en lig my in dat Japsnoet opgegooi het in my kar. “Great”….. Drie siek kinders in ‘n kwessie van ‘n kwart middag. Hoe de hel is so iets enigsins moontlik? En soos wat ek dit vir vriendinne vertel het, het hulle seker gedink ek maak die storie op, want wat is die kanse tog?

 

So is Boeta toe met pyn medikasie saam sy pa huis toe en is ek huis toe met twee bleek kinders in ‘n suur kar. Volgens Kleinsus het hy daardie aand soos ‘n honger hondjie geëet en baie rustig geslaap. En Dinsdagoggend toe hulle in die kar klim wou hy net weet of hulle na my toe kom. Dankie tog.

 

Flippen hel. Ek sweer ek het op daardie blouste Maandag ‘n hele paar grys hare ontwikkel!

Advertisements

5 thoughts on “Dag 2233 – 2242 – Blouste Maandag maal drie

  1. O ek het SIMPATIE met jou!

    Met drie seuns moes ons gereeld jaag vir steke. Die 2 kere wat dit gebeur het terwyl ek alleen by hulle was het ek net ‘n handoek oor die kop gegooi (ek kan GLAD nie bloed hanteer nie) en hospitaal toe gejaag. Dis vreeslik, mens se hart gaan staan vir ‘n paar sekondes en ek sweer mens word ten minste 3,47 jaar ouer!

  2. Sjoe, omtrent ‘n nagmerrie-ondervinding! Bly alles is darem weer in die haak. Kinders kan nogal vinnig van die een uiterste na die volgende een gaan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s