Dag 2256 – 2272 – I have life

Image 64 [Desktop Resolution]

In Desember 1994 het ‘n mooi, jong bruinkop vrou se lewe vir altyd verander en het sy voor die grootste denkbare uitdaging gestaan. Kies ek die moeilike opsie om te lewe, of kies ek die maklike opsie om myself oor te gee aan die saligheid van die dood.

 

Vir die van julle wat nie die storie ken nie – Alison Botha is in Desember 1994 in Port Elizabeth ontvoer deur twee verveelde Sataniste, verkrag, haar keel is 16 keer met ‘n mes gesny en sy is veelvuldige kere in haar maag gesteek met dieselfde mes. Met haar ingewande wat by haar buik uitgehang het, het sy sleep-sleep oor grond gekruip tot waar sy in die middel van ‘n straat gaan lê het. Natuurlik met die hoop dat iemand sou stop en nie oor haar ry nie. In die proses om nader aan die pad te kom, het sy haar verkragters se name in die sand geskryf.

 

Ek en twee vriendinne het die opvoering gaan kyk in Sandton Square. Ek het verwag dat die verkragting toneel grafies en ontstellend sou wees. En ja dit was. Vir minute het dit gevoel of ek opgehou asem haal het. Alison het saam met haar pa, in die ry voor ons gesit en ek kon nie eers begin om te dink hoe hy moes voel nie. Om daardie oomblikke so grafies te aanskou. Een van die mooiste dele van die toneelstuk, vir my, was waar sy amper ‘n “out of body experience” het. Waar haar gees as’t ware bo haar eie liggaam sweef en afkyk na die naakte, geslagde liggaam op die grond. En dis daar waar sy die keuse gemaak het om aan te hou veg vir haar lewe op aarde. Sy het besluit dat hierdie nie die einde sou wees van haar lewe nie.

 

Hierdie is alles behalwe ‘n feëverhaal of ‘n sprokie. Maar dit het so ‘n ongelooflike positiewe en gelukkige einde. Sy het dit oorleef, haar aanvallers is tronk toe, sy het getrou en twee seuntjies gehad. ‘n Jaar na haar aanval het sy haar permanente en veilige werk gelos en dit haar missie gemaak om ander slagoffers te help deur middel van onder andere motiverings praatjies. Sy het besluit dat wat met haar gebeur het, nie verniet sou wees nie. Daar is ‘n paar boodskappe wat vir my spesifiek uitgestaan het.

  • Die verkragting was nie haar skuld nie
  • En te midde van die brutaliteit en aakligheid van die aand was daar die ongelooflikste wonderwerke. Geen van haar belangrike organe is gesny nie. Die aand was besonder warmer as wat dit moes wees. Die man wat haar langs die pad gehelp het was ‘n veeartsenykunde student wat geweet het hoe om met haar te werk en haar kalm te hou.
  • En ‘n top spesialis was daardie aand aan diens in die staatshospitaal waarheen sy eventueel geneem is per ambulans.

 

Terug by die huis het ek haar boek gaan soek in my boekrak. Ek was so dankbaar dat die boek nie sy pad gevind het biblioteek toe nie! Dis die tipe boek wat ek in my boekrak wil hou as simbool van die mens se ongelooflike krag om te “survive”.

 

‘n Vroue tydskrif het vanoggend op hulle facebook blad gevra watter vroue inspireer ons. My antwoord was –

Any woman who turns a negative, traumatic situation or experience into something positive to help other people. Alison Botha, ‪Monique Strydom, Hettie Brittz, are only a handful of women who I admire.”

 

 

 

Advertisements

Dag 2249 – 2255 – Nagmerries en flou liggies

Candles

Nagmerries van weghardloop, wegkruip, verkragting, en ek wat iemand met ‘n mes doodsteek sonder enige berou. Daardie desperate behoefte om myself in ‘n kokon van warmte toe te vou en myself af te sny van die wêreld.   Om net in my sonnige, warm kamer myself as geselskap te hê. Wanneer geen boek, liedjie, tydskrif, kreatiewe aktiwiteit of kuier saam met ’n vriendin of twee, die somberheid vir ‘n rukkie kan wegtoor nie. En toe dit begin voel of iemand my teen die grond gegooi het en met ‘n swaar skoen op my bors trap, het ek geweet. Hierdeur kan ek nie alleen nie.

 

Dr Jax se huis het warm en welkom geruik. Die groot kombuis in haar Linden huis is net langs haar spreekkamer.

“My sussie kuier hier. Sy maak vir ons vegetariese maaltye om te vries.”

Teen haar een muur hang ‘n Elsbeth Eksteen skildery. Die regte egte ding, nie ‘n afdruk nie. Van ‘n meisie met bruin hare. Ek moet tog volgende keer meer in detail na die skildery kyk. Sy het ‘n ekstra bank bygekry. Dit lyk nogal asof ‘n mens lekker daar kan gaan lê en die wêreld se probleme op die mat voor jou neerlê.

“Ek weet alweer nie waar om te begin nie,”

Snif en snuif ek en Dr Jax hou die boks tissues na my uit. Dit was my woorde toe ek verlede jaar Julie vir die eerste keer op haar leerbank voor die groot venster gaan sit het.

“Praat net,”

sê sy.

“En ons edit later,”

Ek vertel haar ek reken ek het ‘n vorm van “post traumatiese stres” omdat dit vir my so erg was toe Boeta (2) uit my kar uit geval het. Ek vertel haar van die angstigheid, die swarigheid in my bors wat net nie weggaan nie. Dat ek weet die volgende stap is hiperventilasie en daardie gevoel van ek-kan-nie-asemhaal-nie. En dat ek voel ek hulp nodig het om net weer my gedagtes te orden, om sin daaruit te maak, om dit te sorteer en in aparte laaitjies te sit. Ek vertel haar van hoe doelloos ek voel. Ek het nie spesifieke doelwitte nie en ek “comfort eat” sonder om ooit beter te voel. Die teleurstelling dat Sarie tydskrif nie belangstel in my blog idee nie. Engel (9) daag my uit en selfs Japsnoet (5) is vol draadwerk. Die oggend wat sy weggekruip het, het ek skool toe gery sonder haar. My bediende het haar agter ‘n gordyn gevind.

“Wat is dit wat hierdie tyd van die jaar so uitdagend maak vir jou? Want daar is beslis ‘n patroon.”

Wil Dr Jax weet.

“Die donkerte. Dit voel so verkeerd om op te staan en dis donker buite. Ek voel claustrophobic en vasgedruk.”

“Ek hoor ‘werk’, by jou.”

Som sy my gedagte stryd so goed op. Want ek het self daaraan gedink. Ek het tot so ver gegaan as om te registeer op ‘n webtuitse, recruitmymom.

“Maar as ek gaan werk kan ek nie betrokke wees by die kinders se skool nie. Ek kan nie sport gaan kyk en hulle aanry buitemuurse aktiwiteite toe nie.”

Ek wonder of dit Dr Jax soveel “confuse” soos dit my “confuse”. Want flippen hel, ek het geen idee wat ek wil hê en hoe om myself gelukkig te maak nie!

 

“Jy is ‘n people pleaser. Iemand wat ‘n sielkundige of onderwyser moet wees. Maar dis ook vir jou belangrik om erkenning te kry. En dis nie iets wat ‘n tuisbly ma sommer kry nie.”

En dis hoekom dit so belangrik is vir my om my naam “iewers” in groot letters te sien. Erkenning.

 

Ek is ongelukkig ‘n pessimis, eerder as ‘n optimis. ‘n Beker half leeg persoon eerder as ‘n beker half vol persoon. Maar my drome is darem nog nie heeltemal dood nie.

Daar is ‘n flou liggie wat flikker wat my nog steeds motiveer om te skryf.


Dag 2243 – 2248 – Wanneer ‘n droom net ‘n droom is

Image 63 [Desktop Resolution]

Die middelste skooltermyn was net te lank. Vir my en vir die kinders. Ek snooze meer kere as gewoonlik en ek het ‘n hele paar oggende verslaap. En dan is dit gewoonlik ‘n georganiseerde chaos van kinders opkry en broodjies pak en ‘n hoed op my kop druk voor ons by die voordeur uitvlieg. Want “oh my soul”, as iemand my by die skool sien met vuil, plat hare….

Dis die laaste paar weke vir my ‘n uitdaging om postief te wees en ek moet gereeld die duiwel van my skouer afklap. Die alewige wipplank ry van emosies het ‘n dreinerende effek wat ek sukkel om te beskryf. Miskien is dit soos iemand wat na ‘n diepseeduik sessie na die oppervlak swem net om te besef dat die boot vir jou weggery het. En dan is daar ‘n lewens instink wat inskop, want jy wil “survive”.  Maar jy het geen idee hoe lank dit gaan vat voor iemand besef jy is nie op daardie boot nie en dat jy iewers in ‘n donker see rond dryf op jou eie nie. Jy begin vervaard en desperaat water trap, jou kop bo water hou en dis ‘n konstante stryd om te keer dat die seewater nie jou longe vul nie. Drie jaar se aan-en-af terapie het my geleer om oor die donker gat van depressie te spring. Soos die “hopscotch” speletjie wat die kinders op die stoep speel. Soms gly my hak en wil-wil ek agteroor val. Wonderbaarlik kry ek dit dan tog reg om aan die kant vas te gryp en myself eventueel op te trek voordat ek heeltemal ingesuig word deur die diep donkerte. Soms wens ek daar is iemand wat aan die ander kant sit om vir my ‘n medalje or roset te kan gee.

“Well done, jy het dit reggekry!”

Depressie is ‘n alleen plek waar mens omring is met alles wat fout is en negatief is. Waar daar nie plek is vir gelukkig wees en lag en sonskyn nie. Dis ‘n haatlike plek om te besoek. Dis donker en leeg en lelik. “Claustrophobic”. En eintlik is dit ‘n plek van totale onrealisme, want veral ek, het soveel om oor gelukkig te wees en soveel om voor dankbaar te wees. Hope en hope seëninge om te tel. Maar die blerrie duiwel is lustig in my “af” tye en hy breek maklik my weerstand af.

Soms voel dit of daar mense om my is wat net alles het. Die perfekte pakket. Asof hulle voor in die ry gestaan het elke keer wat daar ‘n talent uitgedeel is. Intelligensie, mooi hare, sprankelende persoonlikheid, goeie geheue, ‘n groot hart, suksesvolle loopbaan, lange lange lysies van innerlike en uiterlike skoonheid, welvaart en voorspoed. En ek het lus om op Northcliff koppie langs die watertoring te gaan staan en vraend op Johannesburg te skree,

“Wanneer is dit my beurt? Give me a break!”,

Met tye voel dit asof alles waarmee ek my besig hou en wat ek ag as belangrik, eintlik net stof in die lug is. En nou begin ek wonder – wanneer kom ‘n mens op die stadium waar jy ‘n droom moet laat gaan? Wat gebeur in mense se lewens dat hulle besef hulle jaag na wind en hulle daardie droom vat en met seremonie en hartseer begrawe en nooit weer daaraan dink nie? Wanneer mense my komplimenteer oor hoe ek dinge op papier sê en my vra wanneer ek dan weer blog, is dit so ‘n groot motivering vir my om aan te hou skryf. Maar wanneer Sarie tydskrif adverteer hulle soek idees vir blogs, en jy ‘n idee stuur en hulle ‘n vriendelike “nee dankie” terugstuur, nou ja….. Dis net nog ‘n deur wat in my gesig toegeklap word. Mens raak nogal moeg daarvoor. Ek raak moeg daarvoor. Dit voel of ek my energie instoot in ‘n warrelwind wind wat draai-en-draai-en draai en ewe skielik net verdwyn asof hy nooit eers daar was nie.

En die volgende dag trek ek my “big girl panties” aan en begin van voor af. Blog, neem foto’s, help by die skool, bederf my ma vir haar verjaardag, maak kaartjies, help met spelling huiswerk, maak sop, ry gimnastiek en ballet toe.

Die lewe gaan aan. Drome of nie.