Dag 2292 – 2333 – Wanneer die foon lui

Dis ‘n oproep wat ons weet gaan kom. Maar niemand van ons weet wanneer nie. Jy probeer aangaan met jou lewe, want om vir daardie oproep te sit en wag is soos om te kyk hoe verf droog word. Jy hoop eintlik dit gaan nie kom nie. Dat een of ander wonderwerk gaan gebeur voordat dit nodig is vir een van daardie persone om die oproep te maak.

Maar toe kom dit.

“Julle moet nou ‘n plan maak met julle ouers.”

Dis Manlief se tannie. Wat vir die derde keer hierdie jaar by Manlief en Kleinboet kla oor hulle ouers wat by hulle intrek geneem het en duidelik geen plan het om aan te beweeg nie. Aanvanklik sou hulle gebly het vir drie weke. Drie weke staan nou al by ‘n jaar.

“Maar wat bedoel, tannie?”,

wou Kleinboet weet, en verduidelik dat Manlief dan vir hulle ‘n plekkie wou koop in ‘n aftree oord, wat sy ouers van die hand gewys het. Die huisie was nou wel nie groot nie, maar dit sou hulle veilige hawe in Parys, langs die Vaalrivier, gewees het.   Kleinboet het briesend geraak, maar Manlief het net sy skouers opgetrek en eventueel ‘n sms aan sy tannie gestuur. Die boodskap het basies gestel dat die offer van Parys nie meer op die tafel is nie, aangesien ons die geld nodig gehad het. Kort en kragtig. En basies – julle het almal ‘n kans gehad. ‘n Ge-modder-slingery het toe heen en weer oor die foon netwerke ontstaan, terwyl die twee mense wat verantwoordelik is vir die ongelukkigheid, salig onbewus is van die storm wat losgebars het.

Manlief en sy een niggie begin toe ‘n paar dae later, soos volwassenes, oor die situasie praat. En Manlief kom met haar ooreen dat hy weer sal kyk of daar eenhede beskikbaar is in Parys. En sy niggie stem saam dat sy met haar ouers sal praat. Dat hulle-hulle huis gaste solank moet begin voorberei dat hulle binnekort moet trek, maar nie op straat sal sit nie. ‘n Dag later kom sy niggie terug na hom toe. Haar sms het ‘n duidelike verdwaasde, uit-die-veld-geslaan toon. Aanvanklik was haar ouers bly om te hoor dat Manlief weer aan boord is om vir sy ouers blyplek te vind. Maar aikona, sê die oom en tannie. Dis Pretoria of niks. Parys is nie ‘n opsie nie.

Ek weet nie wie van ons was die meeste uit die veld geslaan nie. Woorde het my heeltemal ontgaan. Wie is hulle om te dikteer waar Manlief vir sy ouers ‘n plek moet koop? Manlief wil nie ‘n plekkie verder weg koop uit “spite” nie! Dis wat hy kan bekostig. Daar is mediese fasiliteite en met ‘n motor wat gereeld kalf, is dit ideaal dat die dorpie binne loopafstand van die oord af is. Ons is almal redelik moedeloos.

‘n Mens lees gereeld in tydskrifte van skoonma’s wat inmeng in hulle skoondogters se lewens. Of skoonpa’s wat dronk word by partytjies en skandes maak. Niks berei ons voor vir sonde met die skoonouers nie. In voorhuwelikse berading gaan dit oor die man en vrou as ‘n eenheid. En met sterre in ons oë en hoop en liefde in ons harte, was daar nie eers ‘n halwe gedagte oor mekaar se ouers en moontlike slaggate nie. Maar nou is daar gedurig die stryd tussen reg-en-verkeerd en waar trek ‘n mens die lyn en hoe diep moet ons as jong gesinne nou eintlik in ons eie beursies grou. Waar hou ons verantwoordelikhede teenoor ons ouers op? Waar trek ‘n mens daardie spreekwoordelike strepie in die sand? Tot hiertoe en nie verder nie.

Dis ‘n daaglikse, emosionele donker wolk wat oor ons hang. Want ons het net eenvoudig nie antwoorde nie.

Dag 2283 – 2291 – In ander hande

Week 3

Ek reken meeste van die tyd lê ons toekoms, ons geluk, in ons eie hande.  Nie almal van ons sal ontdek word deur internasionale model agentskappe nie.  En dis maar ‘n handjievol mense wat genader word, met die belofte van ‘n vet tjek, om jou autobiografie aan hulle toe te staan.  Harde werk, trane en sweet, laat nagte, vroeë oggende, lang ure, kanse vat – dis hoe meeste mense hulle doelwitte in die lewe bereik.  Sonder pasella’s of ryk ouers of ietsie wat onverwags in jou skoot val.

Daar was ook al heelwat kere in my lewe waar my drome, my aspirasies of my toekoms in ander mense se hande gelê het.   Maak nie saak hoe hard ek daarvoor gewerk het nie, sou ek by ‘n verkeerslig kom waar ek net eenvoudig moes sit en wag.  Waar ek totaal en al magteloos moes terugstaan omdat ek regtig nie beheer gehad het oor die situasie nie.    Waar een persoon se besluit my kon maak of breek.

Een situasie wat spesifiek vir my uitstaan was die keer toe ek in Engeland vir ‘n werksonderhoud gegaan het by ‘n regsfirma in Oxford Street.  Die onderhoud het besonder goed gegaan en ek het gevoel dat ek ‘n goeie indruk gemaak het.  Ek het geglo dat my werksondervinding in Suid-Afrika indrukwekkend genoeg was om hulle te oortuig dat dat ek die regte kandidaat was.  En selfs in die onderhoud het ek gemaklik gevoel, kon ek die vrae goed beantwoord en het ek selfversekerd voorgekom sonder om arrogant te wees.  Toe ek na die onderhoud uit die gebou uitstap was dit met ‘n ligte hart en ‘n huppel in my stap.  My sesde sintuig het  my verseker dat daardie pos myne was en dat dit net ‘n kwessie van tyd was vir daardie bevestigende foonoproep van die agent af.

Ek was op ‘n punt waar ek gevoel het dat dit hoogtyd was vir iets positief om oor my pad te kom, want ek het die een onsuksesvolle onderhoud na die ander gehad. Boonop was ek platter as platsak en moes ek in Manlief se oë kyk elke keer as ek ‘n treinkaartjie wou koop Londen toe.  Vir iemand wat redelik finansieël onafhanklik was, wat dit baie erg!  Uiteindelik het dit begin voel of ek die lig kon sien aan die einde van die muwwerige tonnel en het ek begin sommetjies maak oor hoeveel geld ek sou kon bydra elke maand tot ons “vakansie rekening”.

Maar ‘n paar dae later het een telefoon oproep my watte wolkie met sy silwer randjie verander in ‘n swart donderwolk met groot hael korrels wat my mooi drome in skerwe laat spat het.  Ek was totaal en al teen die grond.  Platgeslaan.  Rou.  Ek het nie geweet hoe om myself weer op te tel uit die donker modder nie.  Wat het dan verkeerd geloop?  Waarom het hulle nie van my gehou nie?  Wat het ek gedoen om dit te verdien? Hoekom word ek so gestraf? Die lys van menigte onbeantwoorde vrae het oor my gehang.

Dit was die Oscar Pistorius saak wat my laat terugdink het aan een van menigte soortgelyke scenario’s.  Net ons eens gunsteling paralimpiese atleet, weet wat daardie aand gebeur het.  Daar is mense wat hom onvoorwaardelik glo en daar is mense wat dink dit was opsetlike moord.  En nou is daar een vrou wat sy toekoms in die holte van haar hande hou.  En hy is absoluut magteloos. Hy kan haar nie omkoop, beïnvloed of afpers nie.  Pleit sal nutteloos wees en ‘n bos blomme of ‘n boks ingevoerde sjokolade gaan ook nie haar besluit swaai  in sy guns nie.  Tot die dag van sy vonnis oplegging is enige toekomsplanne bloot drome.

Al wat hy kan doen is om terug te sit en te wag.  En te hoop dat Regter Masipa in sy onskuld glo en hom sal vryspreek. 

Dag 2273 – 2282 – Tong in die kies

Image 65

Liewe Manlief,

 

Jou Europese fietsry vakansie lyk, om die minste te sê, ongelooflik. Die stygende berge en vallende dale, die kronkel teerpaadjies tussen groen valleie, die oulike dorpies waar julle stop vir koffie of middagete. Nou is daar nog ‘n regmerkie op jou emmerlys.

 

Ek wil jou net gou op hoogte bring van wat hierdie week gaan gebeur. Maandagmiddag vlieg ek Ballito toe. Ons kan sommer motorsleutels ruil so in die verbygang by die Gautrein stasie!

 

Die middae is redelik vol! Maandagmiddag het Engel (9) swem by die gym. Japsnoet (5) wil dan gewoonlik ook swem, so jy moet haar asseblief net dophou in die kleiner swembad. Na die tyd vat hulle nogal hulle tyd om aan te trek en hulle is gewoonlik so honger na die swemmery, dat ek vir hulle smoothies of warm sjokolade koop. En heel waarskynlik ietsie klein om te eet ook. Dit raak nogal ‘n duur storie!

 

Dinsdagmiddag het Engel weer swem en daarna ballet. Kwart voor vier. Onthou asseblief om haar Festival leotards terug te vat. Haar hare moet verkieslik in ‘n bolla wees want ‘n nat poniestert maak haar ballet leotard papnat. Na ballet kom ons gewoonlik eers half 6 by die huis, so ek sou voorstel dat jy aandete die oggend al maak. Ek pak altyd eetgoed ballet toe, want hulle is na ‘n middag van buitemuurse aktiwiteite soos honger rawe! Woensdagmiddag het Japsnoet gimnastiek. Sy weet wat om aan te trek. Vat maar vir haar ‘n sweetpak baadjie vir na die tyd sodat sy nie siek word in die koel, laatmiddag lug nie. En waarsku maar vooraf dat sy nié ‘n roomys mag kry nie. Ek weet nie hoekom hulle die flippen goed daar verkoop nie. Dis elke ouer se nagmerrie.

 

En o ja. Onthou asseblief dat ons bediende die week af is. Ek sal al die wasgoed was, maar jy moet dit net vat om te laat stryk. Teen Donderdag loop die wasgoed mandjies weer oor, dan moet jy weer was. Die bouers daag gewoonlik so net na sewe in die oggende op. Moet asseblief nie vergeet om vir hulle elke dag Oros te maak nie, en elke tweede dag gee ek vir hulle lemoene. Die stof is iets ysliks en jy moet maar gereeld afstof en vloere mop.

 

Terug by die kinders se aktiwiteite – Donderdag middag. En hier moet jy mooi kophou, goed beplan, en ‘n hele koelsak vol drinkgoed en “snacks” inpak. Japsnoet ballet twee-uur en van daar moet jy direk gym toe vir Engel se swemklas. Haar afrigter laat haar vroeër klaarmaak, want kwart voor vier moet sy by die ballet wees. Ek laat Japsnoet nie swem op ‘n Donderdag nie, want daar is te min tyd. Sy vat “forever” om uit die swembad te klim en aan te trek. “It’s not worth the stress!”. Vat net vir haar ‘n stel klere saam, sodat sy nie die res van die middag in haar ballet klere rondloop nie. En weereens is dit ‘n goeie idee om aandete reg te hê, maar laat die twee eers net gaan bad wanneer julle by die huis kom.

 

Vrydagmiddag middag sal jy darem ‘n bietjie van ‘n blaaskans hê. O flip, amper vergeet ek! Jy moet asseblief vir Boeta eenuur gaan haal by die kleuterskool. My ma ry al die oggend Vaaldriehoek toe. Gewoonlik speel hy so uur saam die meisies en dan kan jy hom maar gaan neerlê op Japsnoet se bed. Hy sukkel nie om aan die slaap te raak nie. Maak maar net seker daar is nie dalk ‘n persentjie in sy doek voordat jy hom vat om te gaan slaap nie.  Jou broer sal hom so net na vier in die middag kom haal.

 

Ek sien jou Saterdagoggend. Hopelik goed uitgerus en reg vir die week.

 

Geniet jou tyd saam met die “girls”!

 

Baie liefde,

Ek xxx