Wit sashes en blink krone

Scan 7

Ek wonder – is dit elke jong meisie se droom?

Of was dit destyds net myne?

Daardie oomblik van bevestiging – jy is die mooiste meisie van jou tyd.

‘n Skoonheidstitel sash oor jou skraal skouers.

Jy is nie meer net plain jy nie.  Jy is Joolkoninging, Mej Matriek, Mej Tiener, Mej Suid-Afrika!

Die scenario? ‘n Skoonheidskompetisie.  Oomblikke voor die aankondiging van die een wat met die kroon gaan wegstap.  Daardie sekondes wat die gehoor so stil is jy kan ‘n speld hoor val.  Die afwagting, asems wat opgehou word, duime wat vasgehou word vir elkeen se gunsteling finalis.   Dan word haar naam genoem – Mej Watsenaam is…….   En vir slegs ‘n rukkie staan haar wêreld stil.  In ongeloof frons sy en wonder sy of sy regtig haar eie naam gehoor het. ‘n Mede-finalis gryp haar skouers dramaties vas in ‘n poging om haar geluk te wens.  Haar oë skiet vol trane wat sy vinnig met die punt van haar ringvinger wegtik, panda gesmeerde maskara strepe lyk aaklik op foto’s.  Sy hou haar twee mooi hande in ongeloof oor haar pienk mond, voor sy dit vinnig weer laat sak, want netnou smeer sy donkerpienk lipstiffie oor haar wang.  En dan, grasieus, soos die skoonheidskoninging wat sy nou is, sweef sy met haar vloeiende aandrok oor die verhoog. Die vorige Mej Watsenaam staan met ‘n groot glimlag en wag om die wit sash oor die nuwe Mej Watsenaam se skouers te drapeer.  Die nuwe Mej Watsenaam lig haar regterkantste arm effe op sodat die wit sash soos ‘n klein waterval oor haar kan stroom.  Die kroon met honderde blink steentjies word van ‘n kussinkie gelig en sekuur, op die nuwe Mej Watsenaam se lokke gesit.  Die skare gaan mal en kamera’s flits verblindend….. A dream come true.

In die Julie van 1995 is ek gekies as ‘n finalis vir Mej Technikon.  Ek was in ekstase! Die tien finaliste se foto’s het oral op kampus gepryk.  Dit was die naaste wat ek nog ooit aan ‘n moontlike skoonheidstitel gekom het.  Nie net het Mej Technikon ‘n week se vakansie Mauritius toe gewen nie, maar vir ‘n jaar sou sy rondry in ‘n geborgde Toyota Conquest met “Mej Technikon 1995” oor die hele bakwerk geplak.  Wow!  Dit was in die tyd wat die lang blondines met die vloeiende lokke en blousel blou oë skoonheidstitels ingepalm het.  Met my 1.62 lengte en spiral perm donkerbruin hare, het ek glad nie in daardie boksie gepas nie.  Maar ek het nie geworry nie.  Daar was hoop in my hart.  By elke funksie het ek my beste smile gesmile, my onsekerheid en skaamheid probeer wegsteek, met al die meisies probeer gaaf wees en nie klieks probeer vorm nie, koerante gelees en my algemene kennis probeer opskerp vir die vrae sessies.  En toe kom die groot aand in Vereeniging se stadsaal.  Toe Ini Kamoze se “Here Comes the Hotstepper” begin speel, en ek en Juria met ons kort, geborgde Edgars rokkies op daardie verhoog stap, het ek gevoel soos ek reken Kate Moss moet voel op elke internasionale loopplank.  Soos ‘n million bucks.  My lyftaal het gesê – hier is ek Wêreld!

Ek was toe nie eers een van die laaste vyf finaliste nie. Die mans studente, en boyfriends, wat in die gehoor was, het duidelik hulle gunstelinge gehad.  En ek was nie een van hulle nie.  Die skare se gejuig het altyd ‘n aandeel in die beoordelaars se keuse.  En ja, die blonde meisie met die lang bene en Colgate smile het Mej Technikon geword en in Mauritius gaan vakansie hou en met ‘n pers Conquest rondgekry vir die res van die jaar. My Mej Watsenaam droom was in skerwe en dit was die einde van skoonheidskompetisies vir my.

Twintig jaar later is dit vir my so ironies dat ek nog steeds vasloop in Mej Technikon.  By Moms & Babes in Fairland 6 jaar terug, in Heathway Centre, en onlangs op ‘n Sondagmiddag stappie.  Mej Technikon bly letterlik twee blokke van my af….  Twee dekades later lyk sy nog steeds soos ‘n “beauty queen” met dieselfde lang, maer bene en vloeiende, blonde lokke.  Mooi genoeg om haar destydse Mej Technikon kroon te verruil vir ‘n blinkskoon Mev Suid-Afrika een.  Later die middag het ek probeer dink hoekom ek altyd so ‘n “dislike” in haar gehad het.  Sy was die meisie langsaan, die een wat altyd vriendelik was, dalk net ‘n bietjie ditsy, en sy het my nooit iets aangedoen of toegesnou nie.  Toe besef ek met ‘n skok –

“Sy was wat ek altyd wou wees.  En nooit was nie.”

Want ek het geglo dat daardie wit-wenners-sash oor my skouer, ‘n bewys sou wees van hoe awesome en oulik en mooi en nice ek is. (‘n Bewys aan myself en ander)  En ewe skielik  sou ek “iemand” wees en nie meer net nog ‘n “niemand” wat by die Technikon rondslof van klas tot klas nie!!  Ek sou nie meer tevrede hoef te gewees het met tweede beste op enige vlak nie! Dat die outjie op die studenteraad, die een met die knipoog en stoute glimlag, my uiteindelik sou raaksien.  En ek het in my droomwêreld gesien hoe ons hand-aan-hand oor die groen kampus grasperke stap. Ek sou ewe skielik populêr gewees het en almal sou met my vriende wou wees en op kampus sou mede studente verby my stap en admirerend vir mekaar fluister,

Kyk, dis sy!”.

Anyway, die lewe het aangegaan.  En dankie tog dat ek nie meer ‘n wit-sash en ‘n sprankelende kroon nodig het om myself te bewys nie.  Nie aan myself nie en nog minder aan die wêreld om my.

Maar ‘n skoonheidstitel agter my naam sou nietemin nog steeds nice gewees het.