Dag 2492-2495 – Opwaarts en voorwaarts

2015_09 Franschoek weekend

Een naweek, middel September, is ek en Manlief vroeg op ‘n Vrydagoggend, Franschoek toe. Alles deel van ons nuwe lewenshoofstuk en die begin van sy belowende beroepspad met Firma W. Met Engeland op ys, en ver van my gedagtes af, en die vooruitsig vir Manlief om November te begin werk, het nog ‘n paar legkaart stukkies in mekaar begin pas.

Deel van my was hartseer dat ons huis met sy lushof van ‘n tuin te koop is. Toe Engeland aanvanklik op die kaarte was, het ons besluit om ons huis op die mark te sit, maar sou dit deurval, wou Manlief in elk geval afskaal. Daar was sonde met die bure, ‘n waterpyp wat gelek het, die alarm wat op onmoontlike tye vir geen rede, skree, ens, ens. Dit sou ‘n seën wees om weg te kom van al die klein jakalsies af! En ek geniet dit om huise te kyk.

Maar terug by ons naweek in die wynlande. Twee ander paartjies het by ons aangesluit. Saam, het dié drie mans, nou deel uitgemaak van Firma W se bestuur. Die doel van die naweek was om strategie te bespreek, en natuurlik mekaar op ‘n intiemer vlak te leer ken. Die vrouens, beide Afrikaans, was baie gaaf, en ons het sommer van die oomblik wat ons ontmoet het, goed oor die weg gekom.

Die laaste keer wat ek so “luuks” bederf is, omring deur weelde en lekker kos en die beste wyne, was ‘n paar jaar terug in Portugal. (http://blogs.litnet.co.za/soet-en-suur/2012/07/15/dag-521-534-obrigada-dankie-portugal/) Net buite Franschoek se dorpie, het ons tuisgegaan in, wat ek net kan beskryf as ‘n herehuis. LaClédes des Montagnes.  Vanaf die groot, blou swembad was daar ‘n prentjiemooi uitsig oor rye druiwe plantasies en pruimbome vol sywit bloeisels.   Die huis was verwelkommend, met rye en rye hout boekrakke, gemaklike banke voor ‘n kaggel en ‘n groot kombuis aan die einde. Elke paartjie het ‘n kamer gehad met ‘n koningsgrootte bed, sy eie sitkamer en die mooiste badkamers. Ondervloerse verhitting onder ligte matte, verhitte handdoekrelings waarop sagte handdoeke kon warm bak, groot vollengte spieëls en laaie wat outomaties saggies toemaak. Daar was twee huishoudsters wat seker gemaak het ons het alles wat ons wil hê en 24uur beskikbaar was. Middagetes en aandetes is genuttig by slegs die beste restaurante in Franschoek. Pork belly by Foliage, ‘n warm fondant nagereg by Grande Provence, exotic mushroom risotto by Haute Cabrière. Ons het ewe waaghalsig verskeie wyne uit die area geproe en gemeng met die interessantste disse, was dit ‘n feesmaal.

Terwyl die manne “gebosberaad” het, het ons vrouens die dorp gaan verken, bietjie inkopies gedoen en ‘n sjokolade demonstrasie gehad. Met die mans by, het ons die Franschoek Motor Museum besoek, en het ons op ‘n wynproetoer op die Franschoek Wine Tram gegaan. Effe aangeklam en vreeslik giggelrig het ons na ons laaste wynproe sessie op Mont Rochelle, besluit om die koue wind te trotseer en huis toe te stap. In ons lawwe oomblik, met effe te veel alkohol wat deur ons are gebruis het, het ons drie vroue onsself gedoop – Hear no Evil, See no Evil, Speak no Evil. Dit het toe ook ons profiel foto geword van ons Whatsapp groepie. “All dressed up”, het ons op ons laaste aand, gaan eet by Reubens. ‘n Perfekte manier om ons naweek saam, af te sluit en boonop sommer nog ‘n regmerkie op my “bucket list.”

Deur die loop van die naweek kon ek alhoewel aanvoel dat Manlief nie 100% “daar” was nie. Asof daar ‘n deel van hom was wat teruggehou het en nie té naby wou gaan nie. Soos iemand wat gespring het, maar tog nog onseker aan die kant vasklou, met sy vingers pynlik styf gesluit om die rand. Ek het dit vir Yollie genoem in ‘n whatsapp boodskap gedurende die naweek.

“Gee hom tyd. Dis vir die mans ‘n groot stap om op hulle ouderdom van werk te verander. Hy raak nog gewoond aan die idee.”

Ek wou glo sy is reg, maar my sesde sintuig het aan my geknaag. En ek het geweet, as Manlief kon kies, dit die werk sou wees in Engeland, want daardie posisie was sy droom. Om ‘n besigheid te hardloop op alle vlakke, verkope, bemarking, kliëntediens, en nie net die finansiële kant nie, wat wel die geval sou wees by Firma W.

Maar die lewe gaan aan. En hierdie was die pad wat ek bly was om voort te sit. Die gemaklike een, sonder te veel duwweltjies en draaie, met hope vriendinne om my te help as ek ‘n slaggat sou tref. Ek het my roetine voortgesit van vroeg opstaan, kinders aanjaag om aan te trek vir skool, kosblikke te pak, honderd keer te roep,

“Waar is die haarrekkies, gaan borsel jou tande, het jy jou hoed?”.  

Na die drama’s en toetse van ‘n paar jaar terug, kan ek eerlikwaar met my hand op my hart staan en sê,

“I love my life”.

Advertisements

Dag 2490-2491 Oop en toe deure

Door

Net toe ek gewoond raak aan die gedagte van ons nuwe lewenshoofstuk, word Manlief vroeg Augustus gekontak deur Engeland. Met ‘n nuwe aanbod by ‘n nuwe firma. Die cliché gaan – as een deur toe gaan, maak ‘n volgende een oop. Ewe skielik was daar ‘n klomp oop deure! En omdat dit in ‘n area is buite Londen wat totaal onbekend aan ons is, stel hulle voor dat ek saam Manlief reis.

My emosies was “all over the place”. My maag het vir lank gedraai soos die vinnige spin “cycle” van ‘n wasmasjien. Wil ek regtig ons kinders grootmaak in Engeland? Flous ek myself deur te dink dat ek OK gaan wees daar? Kan ek dit weer doen? Is hierdie nog steeds die pad wat vir ons bestem is?

Binne ‘n kwessie van dae moes ek dus allerhande relings teen die spoed van lig maak. En wanneer ek moet begin relings maak vir die kinders, raak ek altyd paniekerig, want daar is soveel wat bymekaar moet kom. Ek het skoolklere gepak, eenderse wit skoolkouse gemerk, lysies gemaak van wat ek pak in hulle kosblikke en watter middae en hoe laat ballet is. Manlief het sommer self vir Ma gevra of die kinders ‘n paar dae by haar kon bly. Ek is so gewoond daaraan om alles vir die kinders te doen, dit raak nooit makliker om die leisels oor te gee. Maar die paranoia het vinnig plek gemaak vir groot opgewondenheid. Na ‘n lang stilte het ek vir vriendinne en familie begin vertel dat ons moontlik Engeland toe gaan. Dit het gekom met sy eie warboel van emosies, want mens is nie altyd voorberei op hoe mense om jou gaan reageer nie. Ma was emosioneel toe ek haar vertel het en het aangegaan oor hoe sy die kinders gaan mis. Dad se reaksie het gespring van opgewondenheid na prakties wees, wat nie altyd help nie. My vriendinne was ongelooflik ondersteunend sonder om my in enige manier te probeer beïnvloed. En ek het boonop nog ‘n wonderlike vriendin wat my gereeld herinner dat ek dinge oor-analiseer! En so het dit vir my ook meer “real” begin raak.

Sonder om julle met te veel detail te verveel, sal ek bloot net se dat ons reis na Londen ‘n dag voor die tyd gekanselleer is….. Ek was bitter ontsteld. Ek het begin voel soos ‘n “puppet on a very short string”. Asof daar hierdie “mag” is wat my hele lewe beheer. Sonder sekerheid oor ons toekoms kan ek nie vorentoe beweeg nie, en ek kan nie beplan nie. Dit het gevoel asof Aladin se wondertapyt onder my uitgeruk is en ek het gewag vir daardie oomblik wat ek emosioneel die grond gaan tref.  Hierdie keer het clichés my teen die mure uitgedryf. Want dit was nie troos nie.

As dit bedoel is om te wees, sal dit”.

Miskien is die tyd nie reg nie.”

Ek was eerlikwaar op ‘n plek waar ek nie meer geweet het watter kant toe nie.

Dag 2488-2499 – Lente en opsies en keuses

20151020_092306

Sou jy my Ouma vra wat haar gunsteling seisoen is, sou sy sonder twyfel gesê het lente. Sy het verder gekyk as net die mooiheid van lente, van gras wat groen word en pienk bloeisels wat soos perfekte fyn klokkies aan perskebome hang. Dit het gegaan oor vernuwing. En alles wat weer begin lewe na die koue en wit ryp van die Vaaldriehoek se winter.

Hierdie lente was vir my spesifiek mooi en simbolies van al die hernuwing wat plaasvind. Geen seisoen ruik soos die lente nie. Met lente is daar die wonderlikste geure in die lug, jy moet net jou oë toemaak, asemhaal en luister. Ons moerbei boom het oornag groot, groen blare gegroei en sy vrugte hang pers-vet aan sy takke. Binne ‘n week was Northcliff se strate in ‘n prentjie van pers gekleur – die Jakarandas is in volle blom. En twee weke gelede was die Piet-my-vrou’s ook terug, roepende na hulle maats. Die wit Jasmyn blommetjies gee my nou wel hooikoors, maar vul die lug met ‘n wonderlike soet geur. Die hele natuur getuig van hoop.

En so is Manlief toe deur ‘n string onderhoude en psigometriese toetse. Na 7 jaar by Bank, het hy gevoel dit is tyd om aan te beweeg en die volgende beroeps hoofstuk in sy lewe te begin. Vir een van sy onderhoude het hulle hom oorgevlieg Londen toe vir ‘n paar dae; dit het alles baie belowend gelyk. Die onderhoude het baie goed verloop, maar ons weet almal hierdie dinge gebeur nie altyd oornag nie. Intussen word hy ewe skielik genader deur ‘n paar werwingsfirmas. “It never rains but it pours.”!

Na ‘n onderhoud hier, het Firma BB hom in ‘n kwessie van ‘n paar dae ‘n pos aangebied. Met kantore na aan die huis en die moontlikheid van aandele, was die offer baie aantreklik. En aangesien Engeland gesloer het en geen antwoorde kon voorsien nie, het hy besluit om die Firma BB offer te aanvaar. Maar met ontvangs van sy voorgestelde kontrak, is daar teenstrydigheid oor die persentasie aandele wat hy gegee gaan word en die bonus is nie naastenby vergelykbaar met wat hy by Bank kry nie. Klein dingetjies het deurgesypel wat my ongemaklik laat voel het. Skielik het Firma BB hulle beursies baie styf toegedruk.

“Hulle soek ‘n Bentley vir die prys van ‘n Mini”,

het ek vele kere teenoor Manlief genoem. Want sien, die persoon wat vóór hom ‘n offer gemaak is, het dit afgewys juis oor die salaris pakket.

Maar Manlief het na baie introspeksie, besluit om die pos te aanvaar en Augustus het hy sy bedanking ingedien by Bank. Engeland het in daardie selfde tyd laat weet dat hy ongelukkig nie die suksesvolle kandidaat was nie. So dit was vir ons ‘n teken dat ons plekkie in die wêreld tog hier op Suid-Afrikaanse grond is. Maar so word daar toe ‘n derde opsie in die pot gegooi. En alhoewel dit baie vleiend was vir Manlief, het dit hom voor ‘n groot morele dilemma gesit. Ek glo dat daar sekere omstandighede is waar mens net eenvoudig jou instink moet vertrou. Omdat ek teen daardie tyd nog steeds ‘n ongemaklikheid in my binneste gehad het oor Firma BB, het voorgestel dat hy net gaan luister wat opsie 3 behels.

“Jy het niks om te verloor nie?”,

was my raad. Die aand na die onderhoud kontak die werwings agent hom in ‘n oorstelpte opgewondenheid.

“Wat het jy gedoen in vandag se onderhoud?”,

wou hy weet.

“Wat bedoel jy?”

het Manlief versigtig gevra.

“Firma W was so beïndruk met jou dat hulle al hulle onderhoude vir môre gekanselleer het. Hulle gaan jou ‘n offer maak.”

Vir albei van ons het dit uiteindelik begin voel asof dinge in mekaar pas soos dit bedoel is.

Maar die pretpark rit was, anders as wat ons gedink het, teen daardie tyd nog lank nie verby nie.

Dag 2334-2487 – Die pretpark rit is nog lank nie verby nie

IMG_7047Ek het bitter lanklaas geskryf. En nie omdat daar nie níé iets was om oor te skryf nie. Genade. Allermins. Skrywers blok dalk? Of bloot net ‘n geval van dat ek nie altyd geweet het hoe om dinge te verwoord nie. En as ek dit op skrif sou sit, sou dit ewe skielik baie “real” gewees het.

As iemand vir my moes vertel dat 2015 die jaar van emosionele “rollercoaster rides” sou wees, sou ek dit met ‘n skewe, “whatever” glimlag afgelag het. Ek sou dalk na die tyd wel daaroor gaan sit en dink het om te probeer voorsien wat dit is wat dan so ‘n omwenteling in my alledaagse bestaan sou veroorsaak. Oor ek ‘n tipiese “beker-half-leeg” persoon is, wou ek eerder nie dink aan dood of siekte nie. Die moontlikhede is absoluut eindeloos.

Vroeg April laat Manlief toe dus subtiel die bom val. En daar het ek besef dat 2015 heel moontlik vir ons ‘n jaar gaan wees van groot besluite, waarskynlike veranderinge en ‘n onophoudelike lys van uitdagings. Die pretparkrit van ons lewe, ja óns, want hierdie rit het ‘n rippel-effek, en dit het sommer op die hoogste punt begin. Jy weet mos? Jy het nog skaars jou sit gekry, skuifel jou sitvlak heen en weer en wonder nog of jy veilig vas is, dan begin dit al onder jou te ruk-ruk soos wat die karretjie aan’t beweeg kom. Jy klou verbete vas, weet daar kom ‘n afdraend, maar jy wil eerder nie kyk nie. Oë toe, of oë oop? Jy weet nie!  Jy is bang, maar terselfdertyd wil jy ook nie iets mis nie?! Skielik het jy nie meer beheer nie en al wat jy kan doen is om verbete vas te klou . Dan kom daardie oomblik wat die spoor net skielik voor jou padgee en jy met een hengse spoed grond toe neerduik. Waar dit voel of die aarde jou diep in sy maag gaan insuig en jou maag draai ‘n woeste bollemakiesie soos wat die adrenalien deur jou are pomp. Jy weet jy gaan OK wees, maar dit vul jou nog steeds met ‘n nare vrees wat jou half ontwortel.

Dit was my keuse om op daardie karretjie te klim. Ek het geweet dat as ek eers opgeklim het, skielik afklim beslis nie ‘n opsie was nie. Dis eintlik nooit ‘n opsie nie. As die rit eers begin moet jy wag tot die karretjie stop. En dan staan jy weer voor ‘n keuse – gaan jy afklim, of gaan jy weer probeer? Wat is makliker? Wat is meer opwindend? Afklim? Dan is dit vir eers verby. Of nog ‘n keer? Wat het my gemotiveer om aan te hou opklim? Nuuskierigheid, avontuur, belangstelling? Vrees?

Manlief het ‘n aanbod gekry om aansoek te doen vir ‘n pos in Londen. Dit was soos stukkies van ‘n opsygestote legkaart wat stadig begin in mekaar pas het. Verlede jaar het ek ‘n paar keer gewonder, en selfs vir Manlief gevra, of ons nie dalk maar moet teruggaan Engeland toe nie. Net vir ‘n rukkie. Vir die eerste keer sedert ons in 2006 teruggekom het van Engeland af, het my land my begin bang maak. Die alewige korrupsie, verkragtings van klein kindertjies, plaasmoorde, beurtkrag, besmette drinkwater, die lys is lank.   Die Nkandla sirkus en Jacob Zuma wat met sy Nakkie die Nar glimlaggie tartend vir Thuli Madonsela, en Suid-Afrika, ‘n pit skiet. “I am untouchable”, kommunikeer hy met sy liggaamstaal.  En tot ‘n groot mate is dit juis wat hy is.   Manlief se reaksie was verbasend een van “ek wil nie teruggaan Engeland toe nie”. Hy sou my half aankyk asof ek effe mal is.  En was dit nie nog altyd my gevoel ook nie?  Daar was tog baie redes hoekom ons gekies het om terug te kom na ons land toe.

Maar ek het ‘n duur les geleer. Never say never…..