Dag 2334-2487 – Die pretpark rit is nog lank nie verby nie

IMG_7047Ek het bitter lanklaas geskryf. En nie omdat daar nie níé iets was om oor te skryf nie. Genade. Allermins. Skrywers blok dalk? Of bloot net ‘n geval van dat ek nie altyd geweet het hoe om dinge te verwoord nie. En as ek dit op skrif sou sit, sou dit ewe skielik baie “real” gewees het.

As iemand vir my moes vertel dat 2015 die jaar van emosionele “rollercoaster rides” sou wees, sou ek dit met ‘n skewe, “whatever” glimlag afgelag het. Ek sou dalk na die tyd wel daaroor gaan sit en dink het om te probeer voorsien wat dit is wat dan so ‘n omwenteling in my alledaagse bestaan sou veroorsaak. Oor ek ‘n tipiese “beker-half-leeg” persoon is, wou ek eerder nie dink aan dood of siekte nie. Die moontlikhede is absoluut eindeloos.

Vroeg April laat Manlief toe dus subtiel die bom val. En daar het ek besef dat 2015 heel moontlik vir ons ‘n jaar gaan wees van groot besluite, waarskynlike veranderinge en ‘n onophoudelike lys van uitdagings. Die pretparkrit van ons lewe, ja óns, want hierdie rit het ‘n rippel-effek, en dit het sommer op die hoogste punt begin. Jy weet mos? Jy het nog skaars jou sit gekry, skuifel jou sitvlak heen en weer en wonder nog of jy veilig vas is, dan begin dit al onder jou te ruk-ruk soos wat die karretjie aan’t beweeg kom. Jy klou verbete vas, weet daar kom ‘n afdraend, maar jy wil eerder nie kyk nie. Oë toe, of oë oop? Jy weet nie!  Jy is bang, maar terselfdertyd wil jy ook nie iets mis nie?! Skielik het jy nie meer beheer nie en al wat jy kan doen is om verbete vas te klou . Dan kom daardie oomblik wat die spoor net skielik voor jou padgee en jy met een hengse spoed grond toe neerduik. Waar dit voel of die aarde jou diep in sy maag gaan insuig en jou maag draai ‘n woeste bollemakiesie soos wat die adrenalien deur jou are pomp. Jy weet jy gaan OK wees, maar dit vul jou nog steeds met ‘n nare vrees wat jou half ontwortel.

Dit was my keuse om op daardie karretjie te klim. Ek het geweet dat as ek eers opgeklim het, skielik afklim beslis nie ‘n opsie was nie. Dis eintlik nooit ‘n opsie nie. As die rit eers begin moet jy wag tot die karretjie stop. En dan staan jy weer voor ‘n keuse – gaan jy afklim, of gaan jy weer probeer? Wat is makliker? Wat is meer opwindend? Afklim? Dan is dit vir eers verby. Of nog ‘n keer? Wat het my gemotiveer om aan te hou opklim? Nuuskierigheid, avontuur, belangstelling? Vrees?

Manlief het ‘n aanbod gekry om aansoek te doen vir ‘n pos in Londen. Dit was soos stukkies van ‘n opsygestote legkaart wat stadig begin in mekaar pas het. Verlede jaar het ek ‘n paar keer gewonder, en selfs vir Manlief gevra, of ons nie dalk maar moet teruggaan Engeland toe nie. Net vir ‘n rukkie. Vir die eerste keer sedert ons in 2006 teruggekom het van Engeland af, het my land my begin bang maak. Die alewige korrupsie, verkragtings van klein kindertjies, plaasmoorde, beurtkrag, besmette drinkwater, die lys is lank.   Die Nkandla sirkus en Jacob Zuma wat met sy Nakkie die Nar glimlaggie tartend vir Thuli Madonsela, en Suid-Afrika, ‘n pit skiet. “I am untouchable”, kommunikeer hy met sy liggaamstaal.  En tot ‘n groot mate is dit juis wat hy is.   Manlief se reaksie was verbasend een van “ek wil nie teruggaan Engeland toe nie”. Hy sou my half aankyk asof ek effe mal is.  En was dit nie nog altyd my gevoel ook nie?  Daar was tog baie redes hoekom ons gekies het om terug te kom na ons land toe.

Maar ek het ‘n duur les geleer. Never say never…..

6 thoughts on “Dag 2334-2487 – Die pretpark rit is nog lank nie verby nie

  1. Ons ander wat hier is om te bly, voel ook d vrees en moedeloosheid. Maar elke dag hoor ek van d Afrikaner wat opstaan en positiewe dinge doen. Veg vir wat reg is, drinkwater skoonmaak en skole bou.
    Ja, dit is duur om hier te woon. Ja, ek voel nie elke dag veilig nie. Maar ek sal aanhou probeer om die hoop raak te sien. Ons raak ‘wrapped up’ in SA se nuus. Oorsese nuus het weer ander bekommernisse. Met slim presidente, wat weet hoe om d nommers weg te steek. 😄
    Xx voel vir jou, moeilike besluite

Leave a reply to Pixie Cancel reply