Dag 2510-2554 – Die bekoring van Engeland

2015_10 UK trip

Op ‘n warm Saterdagaand, 10 Oktober, was ons tasse diep binne die maag van ‘n Airbus 380. World Traveller Plus is een stappie bo Ekonomie klas – ekstra been spasie, ‘n drankie voor jy opstyg, metaal messe en vurke, en ‘n kompartement langs my vir my ekstra bagasie. Altyd handig in my geval. Nie ‘n slegte begin nie, het ek gereken.!

 

Met ons aankoms by Heathrow lughawe het die proses relatief vinnig verloop, danksy ons Britse paspoorte. Dit was koelerig en die son het nog nie heeltemal sy geel kop gelig nie. Ons tuiste vir die vyf dae was ‘n meenthuis in Chelsea, ‘n pragtige voorstad van Londen. Later die middag het ons in Salisbury gearriveer, een van die dorpe waar ons sou kon bly as Manlief die posisie sou geoffer word. Die dorpie is pragtig en skoon met ‘n rivier wat daardeur vloei en daar was swane wat honger gepik het na stukkies brood. ‘n Vroëe aandete het bestaan uit vis en skyfies en ertjies by “The Kings’ Head Inn,” en volgens ‘n ou tradisie, ‘n shandy om die dors mee te lus. En ja, ons kon nie anders as om rand/pond te vergelyk nie. Oktober was dit al eina….

 

Ons bed vir die aand was ‘n dubbelkamer in die “Red Lion Hotel”, ‘n kleinerige, tradisionele plekkie net af van die hoofstraat af. Die ou, swaargeraamde portrette teen die mure was effe spookerig, amper asof ek kon voel hoe die ou here en dames se leë oë my volg wanneer ek verby hulle gewandel het. Gelukkig was ek daardie aand so gedaan dat ek nie te lank daaroor kon tob nie!

 

Die volgende oggend het ons vir Nick ontmoet in ‘n oulike koffiewinkeltjie in Winchester. Nick is ‘n “hervestigings agent” en ons dag saam met hom het behels om letterlik van een huis besigtiging na ‘n ander te gaan, om hom ‘n idee te gee wat ons sou soek in ‘n woning. Na 11 wonings in en om Winchester, het ons koppe behoorlik gedraai en was ons verlig om te kon terugkeer na die relatiewe rustigheid van ons tydelike tuiste in Chelsea.

 

Die res van daardie week was ek en Manlief effe soos skepe in die nag. Hy het gewerk in die stad en ek en my kamera het die toeriste ding gedoen. If you are tired of London, you are tired of life – ek het my enkels sat gestap. My tweede laaste in Engeland, het ek spandeer in die dorp, St Albans, waar ons vir ses jaar gewoon het. Soos wat die Thameslink trein al nader aan die stasie gekom het, het die trane net vrylik geloop oor my wange – dis die plek waar ek groot hartseer, maar ook groot blydskap ervaar het, so die konnotasie is maar bittersoet. Ek het stadig na die dorp toe gestap, met ‘n koue windjie wat hard probeer het om deur my digte baadjie te waai. Soveel dinge was nog dieselfde, maar net soveel dinge het verander ook. Ek het ‘n ou vriendin, Clare, ontmoet, ons het mekaar nege jaar laas gesien. Wat ‘n blye ontmoeting! Danksy die wonder van facebook het ons darem ‘n redelike idee gehad van wat in die ander een se lewe aangaan, en kon ons oor vele ander dinge gesels. Toe die reën gietend neersak het ons besluit om in die “abbey” in die park te gaan skuiling soek. Die koffiewinkeltjie was na al die jare nog steeds daar, en dit het presies dieselfde gelyk. En volgens ‘n ou tradisie van my en Clare, het ons besluit op “cream teas”. Dit het bestaan uit ‘n pot “English Breakfast tea”, gevolg deur ‘n tuisgebakte botterbroodjie, ‘n potjie aarbei konfyt en ‘n bakkie stywe, vars room. Vir die Britte is ‘n “cream tea” iets wat jy blykbaar eintlik in die middag geniet, en sy het herroep hoe vreemd dit vir haar was dat ek dit selfs in die oggende wou doen! Dit was so lekker om saam met haar terug te gaan na daardie dae wat ons die dorp se strate plat geloop het met ons Preg Perego stootkarretjies, in ‘n desperate poging om ons skreeuende baba’s aan die slaap te kry. “Memory lane” kan so ‘n lekker pad wees om te stap en dit het my ook laat dink aan hoe vêr ons almal gekom het.

 

Weg van Suid-Afrika, en sy kombers wat gemaklik en gerusstellend om my vou, was dit makliker om ‘n ingeligde en minder emosionele besluit te maak. Terug in die ou bekende strate van Londen, waar ek in die donker in die strate kon stap en veilig gevoel het op treine, het my gedagtes meer in mekaar begin inpas. ‘n Lewe weg van my land, het net bietjie meer sin begin maak.

 

Ek het begin dink – “I can actually do this….”

Advertisements

2 thoughts on “Dag 2510-2554 – Die bekoring van Engeland

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s