Dag 2666–2668 – Omd*£^@$ sonder ‘n kompas

6 No more job

Hoe kon ons lewe in slegs 24uur so handomkeer, 360grade, bollemakiese, sonder enige waarskuwing of gevaarligte, omdonder? Nie omval, onderstebo keer, uitmekaar val nie.

Nee.

Omdonder….

 

Die wind was letterlik uit my seile. Hier vaar ons nog rustig op ons bootjie, met ‘n ligte, gemaklike briesie wat ons rustig vorentoe stuur. Hier en daar was daar ‘n effense rukwindjie wat ons van koers af gedruk het of ‘n dreigende donderwolk op die horison. Maar andersins het ons bootjie redelik die kompasnaald gevolg. Skielik, onverwags, was die briese net weg. Weg! En toe is ons gestrand in die middel van êrens en nêrens. Klein golfies het stadigaan begin spat teen die rante, soos wat die stormweer, wat eintlik al die tyd net weggekruip het, opgebou het. Dit was oppad, en al wat ons kon doen, was om ons reenjasse aan te trek en vas te gryp aan die kante.

 

Weke later sukkel ek nog om ten volle die emosies te verwoord. Dis een van daardie dinge wat jy slegs begryp as dit persoonlik met jou gebeur. Ja, jy kan jouself probeer indink in hoe jy sou gevoel het as die situasie joune was – die skok, die hartseer, die kwaad, die bitter, die vrae, die analiseer, ens, ens.

“Ek kan myself net indink hoe jy moet voel.”,

sal mens so maklik, simpatiek, aan ‘n ander persoon sê wanneer hulle deur ‘n moeilike tyd gaan. Maar jy weet nooit regtig 100% hoe jy sal reageer totdat jy nie self in daardie persoon se skoene staan nie. Nooit nie.

 

Anyway, na my innerlike “tantrum”, het ek eventueel my “big girl panties” aangetrek, my oë droog gevee, grimering aangesit en ons Sondag in Londen aangepak met entoesiasme. Tot dusver het ek vertrou dat hierdie die pad is wat vir ons bestem is en dat alles gaan uitwerk presies nes dit moet. En daarin moes ek net aanhou vertrou. Laatmiddag het Manlief ‘n vae sms gekry van sy baas by Animal Friends in Amesbury. Sy het gevra dat hy dringend die volgende oggend 10uur in die kantoor moes wees vir ‘n vergadering. Hy was half vies, want dit het beteken dat ons ‘n groot deel van die dag saam, sou verloor. Maar, het hy gereken, daar is duidelik iets baie ernstig aan die gang, en die Maandagoggend is hy vroeg weg per trein.

 

Toe hy eventueel die middag eers terugkom, het hy langs my op die bank kom sit waar ek besig was om ‘n autobiografie te lees. Sy woorde was iets soos:

“Moenie nou paniekerig raak nie, want ek het jou ondersteuning nodig.”

“…..OK…..?”

“Animal Friends het besluit hulle wil nie meer ‘n Besturende Direkteur hê nie. So ek het nie meer ‘n werk nie.”

Na amper twee maande, wanneer ek aan daardie oomblik dink, kan ek nie regtig in woorde beskryf wat in daardie paar sekondes deur my kop gegaan het nie.

Verbasing, skok, verslaentheid, ongeloof, sprakeloosheid, trek hy my been?

Ek het gesweer dat ek hom verkeerd verstaan het. Dit was asof die paar woorde wat hy gespreek het en wat ek gehoor het, nie bymekaar gepas het nie. En tog het ek geweet dat ek dit wel reg gehoor het, want die boodskap was oorgedra sonder fieterjassies of ‘n gekompliseerde verduideliking of hoë besigheids woorde. Eventueel, toe ek half meer tot my sinne kom, het dieselfde vraag net oor en oor by my opgekom.

 

Maar hoe is dit dan moontlik?

Advertisements

3 thoughts on “Dag 2666–2668 – Omd*£^@$ sonder ‘n kompas

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s