Dag 2341 – Prioriteit van die vyf feite

12 Five things copy

Soos meeste van julle teen die tyd al van my weet – ek is mal oor boeke. So maak ek toe vanoggend ‘n Excel spreadsheet van my boeke wat nog nie in bokse gepak is nie. Want ek verloor half tred met watter ek nog nie gelees het nie en watter eintlik prioriteit behoort te wees.

 

Op die oomblik verslind ek James Patterson se “15th Affair, maar “The Five Things we cannot Change… and the happiness we find by embracing them”, deur David Richo. Dis die een wat eintlik bo aan my prioriteits lys moet wees. Want na ek gehoor het van hierdie boek, het ek Exclusive books toe gejaag dat jy net ‘n stofstreep agter my gesien het. Pixie was op ‘n missie om hierdie selfhelp boek te kry wat haar lewe gaan verander en haar forseer om nie so “blou” te raak oor dinge waaroor sy nie beheer het nie. Hierdie boek sou my regruk en my forseer om my “big girl panties” vir eens en altyd aan te trek.

 

Vroeër hierdie jaar, het ek weer ‘n draai gaan maak by Dr Jax. Ek was besig om rigting en fokus te verloor, my kop ‘n skommelende tuimeldroër van gedagtes en emosies en vrae sonder antwoorde. Ek het natuurlik nie antwoorde verwag nie, maar Dr Jax het die kuns om doodeerlik te wees, en ek reken, soos enige sielkundige wat sy sout werd is, my te kan help om ook self by die antwoorde uit te kom. Kortliks het ek vir haar die storie vertel van die Engeland geleentheid, die kanse wat Manlief gevat het en die wat hy verspil het, sy eerste paar weke in Engeland en toe die skok van ‘n “ons het van plan verander” handdruk. Soos meeste mense was sy geskok, en het sy erken dat dit van nature ‘n groot teleurstelling is vir almal van ons.  En dat dit sekerlik een van die mees traumatiese dinge is waardeur enige gesin kan gaan.  En dis toe sy my vertel van hierdie boek. Die skrywer stel dat daar sekere dinge in die lewe is wat ons net nie kan verander nie, “the unavoidable givens of human existence”. Met ander woorde daardie dinge wat een of ander tyd móét gebeur in die sirkel van jou lewe.

  1. Alles verander en eindig
  2. Dinge gaan nie altyd volgens plan nie
  3. Life is not always fair”. (my kinders gooi dit gedurig in my gesig wanneer hulle nie hulle sin kry nie)
  4. Pyn is deel van die lewe
  5. Mense is nie al die tyd liefdevol en lojaal nie

Dit is natuurlik nie net van toepassing op wat tans met ons gebeur nie, maar meer soos ‘n handleiding vir die toekoms ook. En ek reken vir al die geraamtes en spoke van ‘n mens se verlede.

 

Dinge gaan nie altyd volgens plan nie – ek wou joernalistiek gaan swot het in Pretoria, maar daar was nie ekstra geld vir koshuis of ‘n kommune nie. Ek moes by die plaaslike technikon iets anders uitkies. As ek vandag die klok kon terugdraai, sou ek baklei het vir daardie spesifieke droom? Met meer “kennis”, sou ek die kans gewaag het en ‘n studente lening aangegaan het? Ja, ek sou. Maar dan is daar sekere mense wat seker nooit my lewenspad sou kruis nie en sou ek ooit vir Manlief ontmoet het? Pyn is deel van die lewe. Vriendskap teleurstellings en liefdesteleurstellings was daar heelwat van. Op daardie oomblik wou ek net verdrink in my eie hartseer en kon ek nie verstaan hoe dit verby kan wees nie.   Die wysheid kom eers na die tyd, in sommige gevalle eers jare later. Maar dit het my gehelp om nie weer dieselfde foute te maak nie, om nie so maklik te vertrou nie, om weg te stap, om te baklei, en dat mens kan aanbeweeg. Mense is nie altyd lojaal nie. Daar is mense wat grootpraat en met oorgawe beloof om altyd daar te wees vir jou, wat die kruk sal wees waarop jy kan leuen, wat met die klap van ‘n vinger vir jou ‘n werksgeleentheid sal vind. Manlief (en tot ‘n mate ek), moes op die harde manier leer dat hierdie die mense is wat, wanneer jy wel op hulle knoppie druk, naarstigtelik begin hakkel en dan die vinnigste en verste weghardloop.

 

Die heelal gooi ons nog steeds met eiers – vrot eiers, rou eiers en darem ‘n paar paaseiers ook! Manlief se projek in Engeland kom goed aan en alhoewel daar niks op papier is nie, behoort sy kontrak aan te gaan. Daar is selfs ‘n ge’uhm’ en ge’ah’ oor ‘n permanente posisie vir hom skep in ‘n posisie waar daar groot geleenthede is vir hom. Maar met niks op skrif, kan mens nie help om skepties en “glas-half-leeg” te voel nie. En toe, so half uit die bloute, kom daar toe hierdie week ‘n nuwe geleentheid vir een van ‘n paar posisies, by ‘n plaaslike firma. ‘n Eerste formele onderhoud later, het dit baie goed gegaan en as hierdie gaan uitwerk vir hom, gaan dit nog ‘n paar weke vat alhoewel. Dus gaan hy volgende week terug Engeland toe waar daar hopelik ook meer helderheid sal wees oor sy rol in die grootter prentjie van ‘n groeiende projek.

 

My kop was so ingestel op Engeland, my emosionele tasse gepak en my “glas-half-vol” koppie in my hand. En nou hierdie…. ?  Ondankbaar is ek regtig nie. Dalk wel skepties, senuweeagtig, met ‘n Pandora boks vol goeters wat oopgebars het. ‘n Geleentheid om in Suid-Afrika te kan werk.  Net gister ry ons verby Diepsloot, waar daar die mooiste, impostantste voetganger brûe gebou is oor die besige William Nicol. Net onder dit alhoewel, is die realiteite van ons gebroke Suid-Afrika. Vuilgoed wat swart gebrand in hope lê, en reg langs dit verkoop entrepreneurs vrugte, lekkers, klere. Massas mense wat in die grondpaadjies tussen sinkplaat huise ronddwaal, werkloos. Jong meisies wat peuters aan een arm uit taxi’s tel. ‘n Paar kilometer anderkant hierdie skokkende armoede en haglike omstandighede, is die paleis van Steyn City. Waar sente nie omgedraai is om tuine uit te lê of vertrekke te meubeleer nie.

 

En ek “panic”, want ek is dankbaar vir die moontlikheid dat Manlief weer ‘n goeie werk kan hê. Natuurlik ook dat ons nie die geel, sonnige, blou lug dae van Jozi gaan hoef te verruil vir die dik, grys dae van Engeland waarvoor ek so bang is nie. Maar Diepsloot spook by my, want ek kan nie sien hoe dít óóit gaan beter word nie. En ek is bang vir Engel (10) en Japsnoet (7) se toekoms….

Advertisements

Dag 2337-2340 – Dis hoe ek faff

1-Collages1

Ek het gedink ek sal maar so bietjie “spog”(?) met die faff goedjies wat my van tyd tot tyd so besig hou.

 

Toe ek jonger was het ek altyd so gefrustreerd geraak met die feit dat ek hope verskillende dinge kon doen, maar dat ek nooit uitgestaan het in een spesifieke veld nie. Ek het nie ‘n niché of ‘n spesialiteit gehad nie. Ek het myself en die dinge wat ek gedoen het of gemaak het, konstant vergelyk met mense om my en telkemale gevoel ek kom te kort, en dan vinnig tou opgegooi. As ek nie die beste kon wees nie, “why bother”? Om vakkeuses en eventueel ‘n beroepskeuse te maak, was dus ‘n nagmerrie. Waarvan hou jy? Ek hou van teken, dis vir my lekker om dinge te ontwerp (huise, klere), ek wil graag met mense werk, ek is goed met tale, ek is baie lief vir skryf…. My beroepskeuses het gevarieer van argitektuur, na gimnastiek afrigter, grimmeer kunstenaar, TV aanbieder, joernalis, mode-ontwerper, funksie koördineerder, die lys was lank en wyd! En daar was, in my opinie, nie ‘n draadjie wat hierdie keuses bymekaar getrek het nie. Daar was nie ‘n universele tema waaruit ‘n mens kon bepaal dat, “Aha, Pixie moet ‘n rocket scientist word nie!

 

 

Maar vandag is ek eintlik dankbaar daarvoor. Danksy my geneigdheid om gou verveeld te raak met een ding, soek ek gereeld dinge om te probeer. En so sit ek natuurlik al met ‘n studeerkamerkas vol “goedjies”. Krale, perels en stukkies materiaal in een rak, gekleurde papier, blinkertjies en knopies en linte in ‘n ander, een rak vol kameras en ‘n swart boks vol “props”. Maar let wel, die aktiwiteit moenie moeilik wees nie, want as ek eers sukkel met gom wat klou aan my vingers of servette wat sulke “bubbles” maak van te veel decoupage verf, verloor ek heeltemal belangstelling. As ek iets moet oormaak of uitmekaar moet haal om weer te probeer…..wel, dit gebeur nie sommer nie. Want sien, ek het mos nou klaar aan myself bewys dat ek dit nie kan doen nie, so weereens “why bother?”.

 

So hier is my nuutste skeppings, waarmee ek wens ek kan gaan smous en sommer baie geld maak vir al die vakansies waarop ek wil gaan. Maar faff is baie ure se werk vir min finansiële gewin. So dit wat ek maak, kry of ‘n plekkie in my huis, of dit word ‘n geskenk. Maar die geheim is natuurlik om dit te gee vir iemand wat die moeite gaan waardeer, en nie die item in ‘n jaar se tyd gaan uitgooi omdat sy vergeet het waar dit vandaan kom nie. En ongelukkig het ek nou maar ‘n paar vriendinne wat baie meer waarde heg aan ‘n Guess grimering sakkie as ‘n hand geverfde tissue boks. Vir my ma het ek ‘n tee-net gemaak en dit versier met rooi knopies en strikkies, my tannie het ‘n juweelboksie gekry met ‘n geskenkbewys in, ek koop gewone bruin papiersakke en versier dit met allerhande tierlantyntjies, en ek maak boonop bypassende kaartjies daarby. Vir myself is ek besig om ‘n tissue boks te verf vir my spieëlkas en ‘n hout houertjie vir al my skryfbehoeftes.

 

So met al my gefaff, voel dit nie altyd asof ek juis iets bereik nie. Ek maak nie geld nie, ek betree nie ‘n niché mark nie, ek maak nie naam vir myself nie, ek “empower” nie ander mense nie. Dis ‘n manier om uiting te gee aan my kreatiwiteit, om te sien waartoe ek in staat is, om persoonlike grense te skuif, en dit is goedkoper as terapie by Dr Jax!

 

Dit voel goed alhoewel om, wanneer ek so ‘n persoonlike geskenk oorhandig, die opregte waardering te beleef. Om te sien hoe die ontvanger se gesig ophelder omdat daardie persoonlike geskenk vir haar/hom sê, “jy is spesiaal vir my”. 

Dag 2334-2336 – Van faff en vlermuise

10 Faff en vlermuise

Ja, tot ‘n groot mate het ons gewoond geraak aan hierdie nuwe leefstyl van ons – ‘n “commuter marriage”. Waar whatsapp en Facetime die sleutel tot ‘n normaal funksionerende familie geword het.

 

Dit het natuurlik ook gehelp dat, na Manlief se tweede terugkeer Engeland toe, dinge nie meer so verkeerd gegaan het in ons huis nie. Of het ek net beter geraak om krisisse op my eie te hanteer sonder om te veel op ander staat te maak?

 

Manlief is op ‘n kontrak projek waar hy ‘n groot deel van die week werk in Wakefield, ver noord van Londen. Hy het, sonder veel moeite (in sy opinie), sy merk gemaak en homself in ‘n posisie gesit waar hy ‘n belangrike deel uitmaak van die projek span. En hulle is maar te bly dat hy oor ‘n week weer terugkeer om die fort te gaan hou, terwyl die ander bestuurders, met geruste harte op vakansie kan gaan.

 

Ek aan die ander kant, voel asof ek net “faff”, en nie persoonlik veel bereik nie.  Ek gym nie, ek doen nie my rug oefeninge nie, ek doen nie “charity” werk nie en ek red nie die aarde van wereld honger nie.  Wanneer ek na die skool aflaai roetine nie saam ‘n vriendin fliek of saam my “single mom” vriendinne gaan ontbyt eet nie, vind ek berusting tussen die mure van my huis. Waar ek dan eintlik net doelloos rondploeter totdat dit tyd is om die kinders te gaan haal by die skool. En alhoewel dit uitputtend is, val ek gemaklik in by die op-en-af in Johannesburg se strate om betyds by swem en ballet uit te kom. Alhoewel ek ons lewe, meerendeels vir die kinders, so gewoon as moontlik probeer hou, hang ons almal soos onderstebo vlermuise en wag. Vir iets konkreet om te gebeur.  Iets wat ons uit hierdie wagtydperk gaan pluk.  Ons kan nie langtermyn planne maak nie, en alhoewel ek een is wat hou van laaste minuut uitstappies en vakansies, maak dit my tog onrustig. Kan ek kaartjies koop vir die opvoering in Mei? Moet ek vashou aan al die kinders se winterskoolklere? Sal ek nie tog maar vir Japsnoet (7) inskryf vir die Junie ballet eskamen nie? Hoekom het ek nie tog maar planne gemaak om hierdie jaar KKNK toe te gaan nie, want nou hunker my hart soontoe?  Groot, en eintlik klein ook besluite, word geskoei op die “wat asse…..

 

Ons mooi huis is nou al ses maande op die mark. Ons het reeds die prys laat val en kan nie verder nie. Dis nie die prys wat die probleem is nie, merk meer as een eiendoms agent op. Dis ‘n kopersmark. En ja, wanneer voornemende kopers hoor dat ons wil immigreer, praat hulle van belaglike offers. Ons enigste offer sover het bepaal dat hulle x prys sal betaal (nog steeds ‘n hele entjie onder die verkoop prys), maar dan moet ons ons eetkamer stel en ons leer sitkamer stel insluit by die transaksie. Deel van my wonder hoekom ek so woedend geraak het oor die offer, want dis tog net aardse goed wat vervang kan word? Maar iets het net verkeerd gevoel en die lewe se laaste paar houe het my geleer dat ek my instink moet vertrou. En die vermetelheid om te se “then the clients wants…”. So nou ja, ons het die offer van die hand gewys en onlangs ‘n derde eiendoms agent aan boord gekry. Menige Sondag is ons huis op skou waar ek vreemdelinge toelaat in die binnekring van my veilige hawe. Voete wat oor my vloere wandel, nuuskierige oë op skilderye en persoonlike foto’s, vreemde vingers wat kombuis kaste oopmaak om die spasie te besigtig.

 

Manlief is darem weer terug vir so paar dae. So daar is ‘n ekstra paar hande wat kan help om die kar te laai vir Paasnaweek by die Vaaldam, om te help stories lees, swaar sakke hondekos die huis in te dra, die gat in die badkamermuur te vul en verf – al daardie praktiese, mans goed, jy weet? En dis natuurlik lekker om daardie paar mans arms om my te voel,  waarin ek so perfek pas.

 

Nou moet die arme man net eers oor sy voedselvergiftiging kom…..

Dag 2315-2319 Die ooievaar, bytjies en seks

9 Growing up

Na ses lang en baie stresvolle weke, het Manlief kom kuier vir 10 dae. Nie net was dit natuurlik fantasties om hom weer by die huis te hê nie, maar ek was so verlig om al die dinge wat verkeerd geloop het, in sy bekwame hande te laat. Die groen swembad, die TV kamer se dak wat tydens elke reënbui lek, die skuifhek wat nie krag het nie, ens, ens.

 

Ons lewe het amper weer normaal gevoel – saam kerk toe, braaivleis op warm hoëveld aande, “driving range” toe saam die kinders, hy wat weer fietsry, almal saam by Engel (10) se gala, ‘n Sondagmiddag met McFlurrys op Northcliff koppie. My roetine sonder hom, het eintlik heel anders gelyk so dit was amper gerusstellend om weer in ons ou patrone in te val. Een van daardie ou patrone was om soos oudergewoonte saam Binnelanders te kyk, en hom natuurlik op hoogte te bring van die 6weke wat hy gemis het. Surrogaatskap was weer ‘n groot onderwerp en die Engel (10) en Japsnoet (7) was vol vrae. Hoe kom die baba in iemand anders se maag, hoe gaan sy geboorte gee, en wat as sy nie die baba wil teruggee nie? Engel se vrae was baie dieper wat my laat besef het ek moet regtig nou my skaam in my sak druk en met haar praat oor “waar baba’s vandaan kom”. Iets wat ek al die laaste 8 maande wou doen, maar waarvoor die tyd net nooit reg was nie. Soos wat dit maar is met enige sensitiewe onderwerp wat bespreek moet word. Toe sy my dus een aand voor bed met ‘n groot stelling konfronteer, het ek besluit dis sulke tyd, alhoewel ek glad nie voorbereid was nie. I basically decided to wing it.

“How does single moms have babies? You have to have sex to have a baby?”

was, die vraag. So het ek toe maar verduidelik dat twee mense nie altyd getroud hoef te wees om ‘n baba te kan hê nie en dat verhoudings nie altyd werk nie en dan moet die ma alleen haar kinders grootmaak. Of soms skei mense, want hulle is net nie meer lief vir mekaar nie. En toe maar die verduideliking gegee van die duisende spermpies wat baklei om by die eiertjie te kom en van daar begin die baba te groei. Ek het net gebid dat sy tog nie moet vra hoe die spermpies by die eiertjie moet uitkom nie, want na al die maande se getop, weet ek nog steeds nie hoe om daardie vraag te beantwoord nie! Gelukkig was sy tevrede met die verduidelik en ek het gevra dat sy asseblief na my toe moet kom as sy iets wil weet, want nie al haar maatjies weet noodwendig van seks nie.

 

So staan ons een oggend, voor skool, in die kombuis. Terwyl ek my oggend koffie geniet, vars gemaak deur Manlief, vertel ek vir my gesin dat ek gedroom het ek kry tweeling baba’s. En ons het gespot oor hoe Engel en Japsnoet die tweeling se doeke sou moes ruil en hulle aan die slaap maak, terwyl ek en Manlief op “date nights” gaan. Japsnoet het met haar arms om my kom staan en haar handjie oor my rok se materiaal gevryf.

“Mommy, you look like you are pregnant,”

het sy ewe onskuldig gesê. Nee my kind, dis net die pasta wat jou ma gisteraand gehad het. Ons het maar almal net gegiggel. En toe haak Engel selfvoldaan af met –

“Mommy, you can’t be pregnant. You and Daddy haven’t had sex,”

Wel, hierdie mommy met haar pasta pens en tweeling drome\nagmerries, het nie geweet of sy geskok moes wees of hardop moes uitbars van die lag nie! Want hoe op aarde antwoord ‘n mens daarop? Ek wou haar natuurlik vra hoe sy dit weet, maar dit sou dalk net ‘n Pandora boks oopgevlêr het!

 

Weke later lê ‘n boek wat ek bestel het nog steeds in my kamer. Die idee daaraan om haar bloot te stel aan biologiese sketse van penisse, skrotums, vaginas en eierstokke is vir nou, net te veel.

 

 

Dag 2310-2314 Katnaels en OK wees

8 Ok wees

Meeste van die tyd is ek OK….

 

Met OK bedoel ek ek funksioneer normaal.  Sonder om van die bus af te val, of tantrums te gooi, of vir ure aaneen te wil slaap. Ek volg my daaglikse roetines sonder moeite en handhaaf ‘n redelike gemaklike atmosfeer in die huis. Na ‘n baie inspirerende en insiggewende praatjie deur Nikki Bush (www.nikkibush.com), mag die kinders nie na vyf in die middae “skerm tyd” hê nie. (Geen ipad, geen tv, geen rekenaar) Wat beteken ek speel saam hulle bal in die tuin, swem, lees stories, eet by die eetkamertafel. Ons het nou wonderlike gesprekke oor dinge wat gebeur by die skool soos “wie vat vir wie skool disco toe” en 6jarige seuntjies wat sommer reg langs die skoolswembad besluit om te verklee van hulle swemklere na skoolklere. Laasgenoemde gebeurtenis het natuurlik gesorg vir ‘n groot gelag so tussen die couscous happe!

 

Maar hierdie week voel ek net kwaad vir die wereld en ek weet dis die duiwel wat homself weer vierkantig op my skouer kom tuismaak het. Ek probeer met alle mag hom hier wegklap, maar daardie klein voetjies klou asof dit geplak is met superglue. Ek en Manlief was vreeslik opgewonde oor sy werksonderhoud verlede Vrydag. Mens hoop tog mos maar dat hierdie “die een” sal wees en dat hierdie swaard wat oor ons koppe hang uiteindelik sal lig. Halfpad deur ‘n baie goeie onderhoud laat val die onderhoudvoerder dat hulle eintlik soek vir mense om gebaseer te wees in Afrika, plekke soos Ghana en Nigerië.  ‘Great‘, net wat ons nodig het.

“Ek is te wit vir Suid-Afrika en te ‘African’ vir Engeland,”

het Manlief met ‘n gewig in sy hart gesê. Maar na slegvoel tel jy jouself weer op uit die stof van teleurstelling, skud die grondpoeier van jou knieë af en staan so regop as wat jy moontlik kan.

 

Gister, toe ek ‘n koek gaan optel vir Boeta se verjaarsdag, parkeer ek toevallig langs Manlief se eksbaas se vrou. Man, toe dans daardie duiwel darem op my skouer asof hy ‘n Red Bull in het. En hierdie OK-ek, verander in ‘n mal katwyfie wat wil uitspring en met haar lang, geslypte pienk naels hierdie vrou wil aanval terwyl ek haar toesnou:

Jou man het my man se lewe hel gemaak by die werk! As hy ook net ‘n bietjie uit sy pad gegaan het om my man te help, was dinge dalk anders! Jou man het weggestap met ‘n lekker vet handdruk pakket, en terwyl ek ‘panic’ oor skoolgeld en ‘n huis wat nie wil verkoop nie en my man wat hierdie maand sy laaste salaristjek kry, ry jy lekker rond in jou ‘fancy’ Prado!”

Ek was so kwaad en so galbitter en ek het myself daarby gehaat vir my duiwelse gedagtes.

 

Manlief se eksbaas is op die ou end nie te blameer nie. Dis nie asof iemand met ‘n geweer teen sy kop gestaan het en hom geforseer het om te bedank en hy in die proses ‘n klomp opgeboude bonusse verloor het nie. Dit was eerder die goue wortel wat voor hom gehang is wat hom die finale besluit laat neem het om van ‘n ou, en nuwe pos, te bedank. Om ‘n werksgeleentheid in Engeland na te streef, sy ‘droom posisie’, wat gemaak het dat ons besluit het om ons lewe 360grade om te keer. Maar daardie goue wortel was toe al die tyd niks anders as ‘n spookasem bal wat weggesmelt het in die Britse winter.  Droom posisie het ‘poef’ in die niet in verdwyn.

 

Wanneer een deur toeklap, maak ‘n volgende een oop, maar bliksem, hoe lank moet ons nog wag vir die regte deur om oop te gaan? Of staan ons nog al die tyd net in die verkeerde vertrek? Die swembad bly groen, iemand het ons nuwe muur stukkend gery, die huis is na ses maande nog steeds nie verkoop nie, en Manlief plak soos ‘n student in ‘n twee slaapkamer gastewoonstel. Die bitterheid en kwaad is besig om my stadig-stadig op te vreet van binne af. Ek het nog soveel duisende dinge om wel voor dankbaar te wees, dat ek regtig skuldig voel wanneer ek so #JammerVoelVirMyself. Ek wens ek kan hierdie negatiewe gevoelens in ‘n groot swartsak druk en dit saam met Donderdag se vullistrok myle vêr wegstuur sodat dit vermorsel kan word.

 

Ek wil nie meer net OK-ek wees nie…..

Dag 2277-2309 Die Boekklub en skryf

20160224_091233

Ek vind vrede en rustigheid in enige boekwinkel of biblioteek. Dit kom al van my tienerjare af, eintlik selfs nog voor dit.

 

My eerste boek herinneringe gaan terug na die dae van rooi, hardeband Siembaba boekies wat my ma maandeliks by die poskantoor gaan haal het. Binne ure was dit klaar gelees en moes ons ‘n volle 30 dae wag vir die volgende posstuk. As dogtertjie van so 10jaar oud, het ek nou weer Saartjie en Trompie boeke verslind. Vakansies het my ma my na Vereeniging se groot biblioteek toe gevat. In my kinderoë was dit een van die mees indrukwekkende geboue in die dorp. Met rye en rye boeke – en die reuk, ek wens ek kon gepaste woorde vind om dit te beskryf. Daardie onmiskenbare reuk van ou papier, voos geleesde papier, al die skatwoorde wat opgesluit is tussen duisende bundels. Binne ‘n paar dae sou my boeke deurgelees wees, en moes ek dan maar geduldig wag vir volgende uitstappie.

 

In Kimberley was die biblioteek in die dorp ‘n meer moderne gebou. En dit was naby genoeg dat ek amper elke Vrydagmiddag op my fiets kon klim om te gaan sif deur dit wat ek nog nie verslind het nie. In daardie tyd was ek ‘n alleenkind, ‘n skaam, 16jarige tiener, wat tog so graag wou deel wees van ‘n “in-groep”.   Maar vir lank was ek nie deel van enige groep nie het ek myself dus gaan verloor tussen al die Afrikaanse boeke. Die heldinne van Ena Murray, Danielle Steele en Ettie Bierman was my toevlug.

 

Dit was ook in daardie jare wat ek begin kortverhale skryf het. Lyntjies en lyntjies vol skool oefenboeke waarvan ek almal, na 25 jaar, nog steeds het. Flip, dit klink na ‘n leeftyd! Die stories het maar almal dieselfde tema gehad – “nerdy” meisie wat die hart verower van die skool se hoofseun of die eerste span rugby kaptein of die buurseun “met sy weerbarstende, blonde kuif en misterieuse groen kykers.”   So ongelooflik “soppy” en voorspelbaar! Ek het gaan wegkruip in elke karakter van elke storie. Hoe anders kan mens jou karakter laat lewe?

 

Kyk julle “Die Boekklub” op Kyknet? Ek is skaamteloos verslaaf, en weier om ‘n enkele episode uit te vee van die PVR af. ‘n Kunssinnige stadsjapie, Tom, ingesuig deur die stadslewe, se ouma sterf in ‘n klein Karoo dorpie. Dis duidelik hy is half verlore in sy bestaan en weet nie waar hy regtig inpas in die heelal nie. Hy erf deel van haar gastehuis met die voorwendsel dat hy vir ‘n jaar daar aanbly. Die res? “Is history”, soos die Engelse gesegde gaan. Die betrokke karakters kom aanvanklik eenvoudig en amper vervelig voor – ‘n oulike onderwyseres, ‘n jong man wat op ‘n plaas na sy gestremde pa omsien, ‘n pragtige bruinkop wat by haar eksentrieke ouma vakansie hou, ‘n slaghuis eienaar, ‘n boer se vrou wat koeke by die dosyne bak. Maar soos wat die storie ontwikkel, is daar ‘n gewaardwording van wat in elke aanvanklike “gewone” karakter se lewe aangaan. Die krulkop onderwyseres soen die jong boer en voel seergemaak deur sy afsydigheid, om dan eventueel te besef dat dit is omdat hy gay is. Die slaghuis eienaar se vrou is oorlede aan kanker en hy mis haar en is bang om aan te beweeg. Die pragtige bruinkop wat nêrens gaan sonder haar kamera nie, is verkrag terwyl sy oorsee gewerk het, en het gevlug na die eenvoud van haar Ouma se Karoo dorpie.   Dan is daar die dorp se bakster wat afluister hoe haar man haar ‘n “vet parakiet wat dink sy kan sing” noem, tydens ‘n dronkerige kuiersessie.  Ek sweer, dit was so goed hy het dit vir my gese, want die skok het self vir my getref.  En hoe sy besef dat dit nie saam maak hoe hard sy probeer om weer sy hart te wen nie, hy net eenvoudig nie belangstel nie.

 

Ieder en ‘n elke karakter in die storie gryp my aan, kom sit hier diep binne in my hart. Die skrywer skil elkeen soos ‘n ui, lagie vir lagie, sodat die kyker stelselmatig al hoe dieper in hulle persoonlikhede kan insien. Met elkeen kan jy simpatiseer en identifiseer. En dit is hoe ek wil skryf! Van eenvoudige mense met komplekse karakters waar elkeen hulle eie spoke het wat hulle jag, of geroeste boeie dra wat hulle daarvan weerhou om te wees wie hulle wil wees.

 

Met my skrywe wil ek ook mense laat voel soos wat ek voel oor “Die Boekklub”. Waar jy nie kan wag vir die volgende storielyn nie en waar ‘n karakter jou so aangryp dat dit jou motiveer om ‘n beter jy te wees.

 

Gaan kyk dit, dit is ‘n reeks met die ongelooflikste persoonlikheid.  Jy sal nie spyt wees nie.