Dag 2277-2309 Die Boekklub en skryf

20160224_091233

Ek vind vrede en rustigheid in enige boekwinkel of biblioteek. Dit kom al van my tienerjare af, eintlik selfs nog voor dit.

 

My eerste boek herinneringe gaan terug na die dae van rooi, hardeband Siembaba boekies wat my ma maandeliks by die poskantoor gaan haal het. Binne ure was dit klaar gelees en moes ons ‘n volle 30 dae wag vir die volgende posstuk. As dogtertjie van so 10jaar oud, het ek nou weer Saartjie en Trompie boeke verslind. Vakansies het my ma my na Vereeniging se groot biblioteek toe gevat. In my kinderoë was dit een van die mees indrukwekkende geboue in die dorp. Met rye en rye boeke – en die reuk, ek wens ek kon gepaste woorde vind om dit te beskryf. Daardie onmiskenbare reuk van ou papier, voos geleesde papier, al die skatwoorde wat opgesluit is tussen duisende bundels. Binne ‘n paar dae sou my boeke deurgelees wees, en moes ek dan maar geduldig wag vir volgende uitstappie.

 

In Kimberley was die biblioteek in die dorp ‘n meer moderne gebou. En dit was naby genoeg dat ek amper elke Vrydagmiddag op my fiets kon klim om te gaan sif deur dit wat ek nog nie verslind het nie. In daardie tyd was ek ‘n alleenkind, ‘n skaam, 16jarige tiener, wat tog so graag wou deel wees van ‘n “in-groep”.   Maar vir lank was ek nie deel van enige groep nie het ek myself dus gaan verloor tussen al die Afrikaanse boeke. Die heldinne van Ena Murray, Danielle Steele en Ettie Bierman was my toevlug.

 

Dit was ook in daardie jare wat ek begin kortverhale skryf het. Lyntjies en lyntjies vol skool oefenboeke waarvan ek almal, na 25 jaar, nog steeds het. Flip, dit klink na ‘n leeftyd! Die stories het maar almal dieselfde tema gehad – “nerdy” meisie wat die hart verower van die skool se hoofseun of die eerste span rugby kaptein of die buurseun “met sy weerbarstende, blonde kuif en misterieuse groen kykers.”   So ongelooflik “soppy” en voorspelbaar! Ek het gaan wegkruip in elke karakter van elke storie. Hoe anders kan mens jou karakter laat lewe?

 

Kyk julle “Die Boekklub” op Kyknet? Ek is skaamteloos verslaaf, en weier om ‘n enkele episode uit te vee van die PVR af. ‘n Kunssinnige stadsjapie, Tom, ingesuig deur die stadslewe, se ouma sterf in ‘n klein Karoo dorpie. Dis duidelik hy is half verlore in sy bestaan en weet nie waar hy regtig inpas in die heelal nie. Hy erf deel van haar gastehuis met die voorwendsel dat hy vir ‘n jaar daar aanbly. Die res? “Is history”, soos die Engelse gesegde gaan. Die betrokke karakters kom aanvanklik eenvoudig en amper vervelig voor – ‘n oulike onderwyseres, ‘n jong man wat op ‘n plaas na sy gestremde pa omsien, ‘n pragtige bruinkop wat by haar eksentrieke ouma vakansie hou, ‘n slaghuis eienaar, ‘n boer se vrou wat koeke by die dosyne bak. Maar soos wat die storie ontwikkel, is daar ‘n gewaardwording van wat in elke aanvanklike “gewone” karakter se lewe aangaan. Die krulkop onderwyseres soen die jong boer en voel seergemaak deur sy afsydigheid, om dan eventueel te besef dat dit is omdat hy gay is. Die slaghuis eienaar se vrou is oorlede aan kanker en hy mis haar en is bang om aan te beweeg. Die pragtige bruinkop wat nêrens gaan sonder haar kamera nie, is verkrag terwyl sy oorsee gewerk het, en het gevlug na die eenvoud van haar Ouma se Karoo dorpie.   Dan is daar die dorp se bakster wat afluister hoe haar man haar ‘n “vet parakiet wat dink sy kan sing” noem, tydens ‘n dronkerige kuiersessie.  Ek sweer, dit was so goed hy het dit vir my gese, want die skok het self vir my getref.  En hoe sy besef dat dit nie saam maak hoe hard sy probeer om weer sy hart te wen nie, hy net eenvoudig nie belangstel nie.

 

Ieder en ‘n elke karakter in die storie gryp my aan, kom sit hier diep binne in my hart. Die skrywer skil elkeen soos ‘n ui, lagie vir lagie, sodat die kyker stelselmatig al hoe dieper in hulle persoonlikhede kan insien. Met elkeen kan jy simpatiseer en identifiseer. En dit is hoe ek wil skryf! Van eenvoudige mense met komplekse karakters waar elkeen hulle eie spoke het wat hulle jag, of geroeste boeie dra wat hulle daarvan weerhou om te wees wie hulle wil wees.

 

Met my skrywe wil ek ook mense laat voel soos wat ek voel oor “Die Boekklub”. Waar jy nie kan wag vir die volgende storielyn nie en waar ‘n karakter jou so aangryp dat dit jou motiveer om ‘n beter jy te wees.

 

Gaan kyk dit, dit is ‘n reeks met die ongelooflikste persoonlikheid.  Jy sal nie spyt wees nie. 

Advertisements

10 thoughts on “Dag 2277-2309 Die Boekklub en skryf

  1. Ek het bietjie van myself raakgelees hier… ook my fiets en die biblioteek en boeke, ek was lief vir grootdruk boeke.
    Ek weet van die Boekklub, ek mis dit in die week dan vang ek soms Sondae op… ek kry net nie lekker vat aan van die karakters nie, maar dalk kyk ek nie gereeld genoeg nie.

    • Daardie fiets dae het ek so “vry” gevoel. Daar was ‘n kunsgalery ook in die dorp, en ek het sommige middae daar ook gaan deurstap. Ek weet nie eers of my ma aldag geweet het waar ek was nie. Scary! Ek het so 6 episodes vd Boekklub na mekaar gekyk, so dit was soos ‘n lekker lang movie!!!

      • My ma het ook nie altyd geweet nie maar as die straatligte aangaan moes ons by die huis wees… lekker ou dae, toe kindwees nog makiler as vandag was.

  2. Danky Toortsie kom ek toe by jou uit. Daardie in die biblioteek boer en boeke na boeke verslind ken ek ook. Moet bieg met die ouderdom saam het ek te kieskeurig geraak in dit wat ek lees. Die ou classics doen dit aan ‘n mens 😦

    • Ek het ook uiteindelik my “settings” verander sodat my regte blog profiel opkom. Tot vandag toe is ek mal oor ‘n boekwinkel, dis asof ek in ‘n ander wereld in verdwyn en die wereld om my kan maar vergaan.

      • Hier steek ek al WEER my neus in waar dit nie hoort nie! Die ding is, jy skryf so mooi, ek is bang die mense kom nie by jou uit nie!
        Is jou blog gelys as ‘n ‘Afrikaanse’ blog? Jy doen dit in jou beheerpaneel, by Instellings. Taal: af
        As jy dit doen, kom jou blog by die Afrikaanse blogs op die lys, so as jy iets geskryf het, wys dit daar, ens.
        Natuurlik net as jy wil! Ek wil nie my wil op jou afdwing nie.
        Lekker skryf.

  3. Ek het jou weer gevind. 🙂
    Oeee ek is NET SO mal oor die Boekklub en hoop dat dit nog baie lank sal aanhou. En terloops, jy skryf so! Jy skryf soos jy graag wil skryf! Ek het hierdie skrywe van jou verskriklik geniet. Dalk moet jy jou kortverhale begin publiseer. Of doen jy dit reeds?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s