Dag 2310-2314 Katnaels en OK wees

8 Ok wees

Meeste van die tyd is ek OK….

 

Met OK bedoel ek ek funksioneer normaal.  Sonder om van die bus af te val, of tantrums te gooi, of vir ure aaneen te wil slaap. Ek volg my daaglikse roetines sonder moeite en handhaaf ‘n redelike gemaklike atmosfeer in die huis. Na ‘n baie inspirerende en insiggewende praatjie deur Nikki Bush (www.nikkibush.com), mag die kinders nie na vyf in die middae “skerm tyd” hê nie. (Geen ipad, geen tv, geen rekenaar) Wat beteken ek speel saam hulle bal in die tuin, swem, lees stories, eet by die eetkamertafel. Ons het nou wonderlike gesprekke oor dinge wat gebeur by die skool soos “wie vat vir wie skool disco toe” en 6jarige seuntjies wat sommer reg langs die skoolswembad besluit om te verklee van hulle swemklere na skoolklere. Laasgenoemde gebeurtenis het natuurlik gesorg vir ‘n groot gelag so tussen die couscous happe!

 

Maar hierdie week voel ek net kwaad vir die wereld en ek weet dis die duiwel wat homself weer vierkantig op my skouer kom tuismaak het. Ek probeer met alle mag hom hier wegklap, maar daardie klein voetjies klou asof dit geplak is met superglue. Ek en Manlief was vreeslik opgewonde oor sy werksonderhoud verlede Vrydag. Mens hoop tog mos maar dat hierdie “die een” sal wees en dat hierdie swaard wat oor ons koppe hang uiteindelik sal lig. Halfpad deur ‘n baie goeie onderhoud laat val die onderhoudvoerder dat hulle eintlik soek vir mense om gebaseer te wees in Afrika, plekke soos Ghana en Nigerië.  ‘Great‘, net wat ons nodig het.

“Ek is te wit vir Suid-Afrika en te ‘African’ vir Engeland,”

het Manlief met ‘n gewig in sy hart gesê. Maar na slegvoel tel jy jouself weer op uit die stof van teleurstelling, skud die grondpoeier van jou knieë af en staan so regop as wat jy moontlik kan.

 

Gister, toe ek ‘n koek gaan optel vir Boeta se verjaarsdag, parkeer ek toevallig langs Manlief se eksbaas se vrou. Man, toe dans daardie duiwel darem op my skouer asof hy ‘n Red Bull in het. En hierdie OK-ek, verander in ‘n mal katwyfie wat wil uitspring en met haar lang, geslypte pienk naels hierdie vrou wil aanval terwyl ek haar toesnou:

Jou man het my man se lewe hel gemaak by die werk! As hy ook net ‘n bietjie uit sy pad gegaan het om my man te help, was dinge dalk anders! Jou man het weggestap met ‘n lekker vet handdruk pakket, en terwyl ek ‘panic’ oor skoolgeld en ‘n huis wat nie wil verkoop nie en my man wat hierdie maand sy laaste salaristjek kry, ry jy lekker rond in jou ‘fancy’ Prado!”

Ek was so kwaad en so galbitter en ek het myself daarby gehaat vir my duiwelse gedagtes.

 

Manlief se eksbaas is op die ou end nie te blameer nie. Dis nie asof iemand met ‘n geweer teen sy kop gestaan het en hom geforseer het om te bedank en hy in die proses ‘n klomp opgeboude bonusse verloor het nie. Dit was eerder die goue wortel wat voor hom gehang is wat hom die finale besluit laat neem het om van ‘n ou, en nuwe pos, te bedank. Om ‘n werksgeleentheid in Engeland na te streef, sy ‘droom posisie’, wat gemaak het dat ons besluit het om ons lewe 360grade om te keer. Maar daardie goue wortel was toe al die tyd niks anders as ‘n spookasem bal wat weggesmelt het in die Britse winter.  Droom posisie het ‘poef’ in die niet in verdwyn.

 

Wanneer een deur toeklap, maak ‘n volgende een oop, maar bliksem, hoe lank moet ons nog wag vir die regte deur om oop te gaan? Of staan ons nog al die tyd net in die verkeerde vertrek? Die swembad bly groen, iemand het ons nuwe muur stukkend gery, die huis is na ses maande nog steeds nie verkoop nie, en Manlief plak soos ‘n student in ‘n twee slaapkamer gastewoonstel. Die bitterheid en kwaad is besig om my stadig-stadig op te vreet van binne af. Ek het nog soveel duisende dinge om wel voor dankbaar te wees, dat ek regtig skuldig voel wanneer ek so #JammerVoelVirMyself. Ek wens ek kan hierdie negatiewe gevoelens in ‘n groot swartsak druk en dit saam met Donderdag se vullistrok myle vêr wegstuur sodat dit vermorsel kan word.

 

Ek wil nie meer net OK-ek wees nie…..

Advertisements

14 thoughts on “Dag 2310-2314 Katnaels en OK wees

    • Dit is prysloos – ek het nogal besef hoe min kwaliteit tyd ek met hulle spandeer en die minder “screen time” skep geleentheid vir ons om dinge aktief saam te doen ook

      • Ek het ‘n niggie wie se man al maande sonder werk sit. My keel trek sommer toe.

        Ek weet dis nie eintlik wat die mense soek nie maar hier in die aftree-oord is daar ‘n groot behoefte aan ‘n veilig Uber-taxidiens. As ek my werk sou verloor het sou ek dit vir ‘n tydelike oplossing oorweeg.

        Baie sterkte

  1. Ek weet nie wat om te sê nie. Behalwe dat ek baie sal bid vir werk vir hom. Dis een van my grootste vrese, om my week te verloor. Ek het ook al met ‘n man gesit wat ‘n jaar lank sonder werk was. Dit vreet aan als in mens se bestaan. Maar uiteindelik het hy weer werk gekry. Goeie werk. Dis net, mens bly vir altyd half bang daarna.

    • Dit is so. Ek glo regtig dat alles sal regkom, maar tyd is nie aan ons kant nie. Hierdie is iets wat ‘n huwelik kan maak of breek, maar ons staan sterk

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s