Dag 2362-2366 – Toffie vir jou, Darling?

15-Darling

Groot was my opgewondenheid toe ek sien “Kamers vol Geskenke” gaan weer ‘n draai kom maak in Johannesburg. Die kaartjies was gekoop, relings gemaak, en ek en ma en ‘n vriendin, het Donderdagoggend in ons dagboeke afgemerk gehad.

 

Kyk, ek is ‘n “sucker” vir sulke markte.   Deur my faff goedjies wat ek van tyd tot tyd maak, weet ek hoeveel van ‘n mens se tyd, en jou hart, in elke item ingaan. En dit gaan gepaard met dinge soos, helder rooi verf wat jy per ongeluk op ‘n wit tafeldoek mors, jou vingers wat jy aan mekaar vas superglue, ‘n string perels wat te kort is en weer geherstring moet word. Dit vat hope geduld, kreatiwiteit en uithouvermoë. En dis harde werk, aanhoudend. Die venue van hierdie mark is ook, in my opinie, een van die mooiste geboue in Johannesburg – St John’s College.   Wanneer jy met die lang gange afstap verdwyn jy skoon in ‘n ander era in. Die klipgeboue staan stewig op ‘n bultjie van waar jy die ongelooflikste uitsigte het oor ons stad. Daar moet hope stories vasgevang lê in daardie lang gange en dan is daar naturlik die mooiste kapel. In my geestesoog kon ek sien hoe seuns met lang toga’s en kort gesnyde hare Ave Maria sing.

 

Daar was inderdaad die mooiste items om te koop by die uitstalling. En omdat jy net met ‘n kaart kon betaal, kan mens bitter maklik swig! Van shweswe “pumps” en inkopie sakke, tot houtborde en gepatroonde tafeldoeke. Hemprokke was daar hope van, dis duidelik ‘n baie gewilde kledingstuk vir die komende winter, saam ‘n paar knielengte stewels of warm kouse met oulike pumps. Daar was ‘n groot verskeidenheid juwele – murano glas, perels en silwer. T-hemde met oulike gesegdes en die fraaiste babakleertjies. Van my vriendinne wat ook by Kamers was, het almal kommentaar gelewer oor hoe duur die items was, so nie een van ons het regtig met sakke vol goed daar weggestap nie. Die slooprokkies se pryse het gewissel van R600 – R800, en die Peppertree handsakke was hier by ‘n R1,000.   As jy gehoop het om ‘n winskopie los te slaan, was dit nie die plek vir jou nie.

 

Die kosstalletjies was eintlik my gunsteling en as dit nie so ‘n reenerige, koue dag was nie, het ek veel langer daar vertoef. (Ek het nie die memo gekry dat dit so koud sou wees nie…) Daar was prego rolls, en oesters en sjampanje en sulke deeggoedjies met karamel en sjokolade binne, melkkos, eksotiese olywe en toffies… O die toffies van Darling…..  http://darlingsweet.co.za

 

Hier het ek die plastiek kaart maar laat gesels, want glo my, jy het nog nooit ‘n toffie geproe tot jy Darling Sweets se toffies in jou mond laat smelt het nie. Daar is die interessantse smake – liquorice toffee, red wine and chocolate toffee, sour fig toffee, maar my gunsteling is honey and salt toffee. O genade…. En daar is ‘n kuns daarin in hoe om die toffies te eet; jy gooi dit nie net in jou mond en kou en sluk nie. O nee! Darling Sweets se toffies is ‘n ervaring. Jy sit een in jou mond en wag dat dit saggies begin smelt, die soutigheid is die eerste smaak wat jou tong begin proe en wanneer jy die toffie stadig kou, want jy moet oppas vir jou stopsels, is dit ‘n hemelse smaak van soete kondensmelk en heuning. En as mens eers begin het, kan jy wragtig nie ophou nie. Outomaties land een na die ander in jou mond.   En as jy weer sien is dit klaar en jou hart sak tot onder in jou pantoffels waar jy op die bank sit en ‘n boek lees.   Wel, nou weet julle hoe my Sondagmiddag verloop het!

 

Nou ja, die mark wás duur en as jou bankbalans dit toelaat, kan jy daar wegstap met die mooiste ware vir jou huis en kosbare geskenke vir jou familie en vriendinne.

 

En indien nie, kan jy nog steeds op jou lysie afmerk dat jy daar was en te lekker gekuier het en met jou oë gekoop het.  En dat jy huis toe is met ‘n sak vol toffies. 

Advertisements

Dag 2354-2361 – Leef deur hulle

14 Leef deur

‘n Middagtee, verlede Saterdag, was nie net vol heerlik bederf nie, maar op die ou end nogal heel opvoedkundig.  Van dit wat ek NIE wil wees nie, en dit wat ek eintlik graag wil wees.

 

n Vriendin van my het Saterdag haar 40ste verjaarsdag in styl gevier. ‘n Middagtee by die Michelangelo hotel in Sandton. Die drie tafels was pragtig gedek en met roosblare gestrooi. Dit het so mooi vrolik en vroulik gelyk.  Die spyskaart het nie teleurgestel nie, en ek was innerlik ongelooflik dankbaar dat ek nie ‘n fiemies eter is nie! Vars sushi met salm, warm groente samoosas, mini quiches, klapper tertjies, ‘n Lindt sjokolade fontein en ‘n Lindt sjokolade koek. Dit was nou bederf uit die boonste rakke!

 

Onder die sowat dertig vroue was daar darem ‘n paar wat ek geken het en dit was lekker om ‘n hier en daar ou, en toevallig nuwe, bekende gesigte te sien. Ek en E het by dieselfde tafel opgeëindig, en soos die gewoonte maar is, vra mens eers uit oor die kinders. Kyk, almal van ons is natuurlik tot die dood toe trots op ons kinders. Of hulle nou Springbok-atleet-Wiskunde-genie’s is of nie. Maar goeiste, dit was al waaroor E kon praat. Van die oudste dogtertjie se atletiek prestasies en haar 90% gemiddeld in Gr 4, tot die jongste enetjie se provinsiale kleure in gimnastiek. Watter natuurlike talent hulle het in hulle onderskeie sporte en die resultate wat die afrigters met hulle ander deelnemertjies kry. Twee ure later het ek nog steeds nie geweet hoe dit met haar gaan nie. Ek weet nie of haar man nog die lang pad van Potchefstroom af ry Midrand toe vir werk nie, ek weet nie of sy nog fietsry nie, ek weet nie of sy toe wel haar eie besigheid begin het nie, en ek weet ook nie wat hulle saamdoen as gesin oor naweke nie? Behalwe vir haar dogters se prestasies, weet ek wel dat hulle later hierdie jaar op ‘n eksotiese vakansie gaan na die Ooste, en dat een van hulle staffies op die plaas is. En toe vind ek later uit met “die plaas”, sy bedoel haar vriendin se plaas…. Dit was so “versigtig” bewoord in die aanvanklike gesprek.  Weet sy dat ek Engeland toe sou gaan en nie meer gaan nie? Nee. Weet sy dat ek ‘n klein fotografie besigheid tot stand gebring het? Nee. Weet sy dat my kinders ook netbal speel? Nee. Het sy na daardie lekker kuier middag enige iets meer geweet van die nege vrouens wat saam haar om daardie tafel gesit het? Nee. Want sy was te vasgevang in die “ek” van haar kinders se prestasies…..

 

Na die groot eet het almal begin rondskuif na ander tafels toe en ek het gaan sit by ‘n ander groepie vrouens. Een van hulle is ‘n werkende ma wat ek al so af-en-toe by ballet gesien het en gegroet het, so dit was lekker om haar beter te kon leer ken. Sy het onder andere vertel hoe sy vir haar kinders vertel sy is baie lief vir haar werk en dat sy daarvan hou om mense te help, en daarom kan sy nie altyd by al hulle aktiwiteite wees nie. En dat haar kinders ook nou al vrede gemaak het daarmee dat Pappa en Mamma gereeld op “date nights” gaan, want sy verduidelik vir hulle dat hulle ook tyd saam nodig het. Toe een van my vriendinne haar uitvra oor haar werk en die omstandighede waaronder sy soms moet werk, het ek besef wat sy doen – sy is ‘n narkotiseur. En sy het daaroor gepraat asof dit sommer net nog ‘n werk is, sonder om la-di-da of “braggerig” voor te kom. Want ek het gedink dis “damn impressive“!  Ons het gepraat oor die boks oefen klas wat sy twee maal ‘n week bywoon en oor haar dogtertjie se 7de verjaarsdag partytjie wat sy self reël en sommer by die huis gaan hou. En dit van ‘n ma wat oorgenoeg geld het om die beste partytjie beplanner in haar “estate” te vra om die partytjie van die jaar aan mekaar te slaan. So ‘n vrou wat haar loopbaan liefhet, wat mense se lewens in haar hande hou, wat werk aan haar huwelik en haar kind se eie partytjie reël, is vir my soveel meer indrukwekkend as een wat duidelik net vir en deur haar kinders leef.

 

Daar was ‘n paar lewenslesse vir my in daardie middag. As ‘n spesie van die vroulike tuisbly ma geslag, het ek die reg om meer te wees as net ‘n vrou vir my man en ‘n ma vir my kinders. There is more to life than being a slave of your household. Ek het die reg om met tye myself eerste te sit, om die kinders in ander se sorg te plaas terwyl ek iets vir myself doen. Dit hoef nou wel nie iets “earth shattering” te wees soos om te gaan help in ‘n oorlog geteisterde Somalië nie, maar selfs as dit ‘n oggend saam ‘n vriendin is by ‘n damesoggend, is dit ook “awesome”. Om net deur jou kinders te leef, is ongesond en half “hartseer” ook. Want nog ‘n vriendin, vir wie ek ek kan-nie-onthou-wanneer-laas gesien het nie, se lewe is juis so. Sy om selfs oor naweke ‘n tydjie af te knyp om te kuier, want as haar 7-jarige dogtertjie nie by een van vyf of ses dansklasse moet wees nie, is haar seuntjie besig om ‘n krieket wedstryd te help wen.   Sy moet haar persoonlike lewe beplan om haar jong kinders se onmoontlike kalender.

 

So het ek ook besef dat ek moet ophou skuldig voel wanneer ek wel iets vir myself doen, en in daardie oomblikke dan ook aanvaar dat iets dalk deur die krake gaan val, en dat dit OK is. Verlede week Woensdag het ek ‘n fotografie sessie gehad, en toe ek half 8 die aand by die huis instap, lê Engel (10) en Japsnoet (7) in skoolklere voor die TV. En as Engel hierdie week huis toe kom met ‘n swak toetspunt oor sy nie Woensdagmiddag gestudeer het nie, is dit ook maar OK. “”But actions have consequences, en as daar ‘n straf uitgedeel moet word is dit iets waarmee sy gaan moet saamleef.

 

Die geheim is natuurlik dat die “ek-tyd” gespandeer moet word aan dinge waarvan ek hou om te doen. En dat dit nie dinge moet wees waarmee ek ander kan beïndruk by ‘n volgende kuier nie. Ek hou van blog en ek moet vrede maak daarmee dat daar net ‘n handjievol mense is wat my blogs “actually” lees. Dis vir my terapeuties om te skep met my hande en “so what” as ek nie my eie winkeltjie het waar ek allerhande mooi goedjies verkoop nie. Ek sien die vreugde op ‘n vriendin se gesig wanneer ek vir haar ‘n opgedollie’de boksie gee met selfgestringe pêrels daar binne. En sy weet dis spesiaal net vir haar uitgekies.

 

Nou ja, dit is dus tyd vir my om by ‘n boekklub of fotografie klub of Pilates groep aan te sluit, of wat ook al ek nodig het om my “ek” te wees.

 

Ek het darem alreeds ietsie gereel vir “date night” om ons huweliksherdinking te vier.

Dag 2347-2353 – Tasse pak en Plan B

13 Plan B

Afrikaans is my hartstaal.

 

Dis die taal waarin ek dink, baklei, bid, dissiplineer, redeneer, skryf, filosofeer…. Dis die taal waarin woorde vir my die maklikste kom. Maar verlede Donderdagaand wat die laaste spyker in die Londen doodskis gekap is, was dit snaaks genoeg in Engels wat ek emosioneel was en ook geskryf het –

 

So it is official

  • We are not moving to England
  • Manlief should be home in a weeks’ time
  • In a weeks’ time he will be just another unemployed, educated, white Afrikaans male
  • I am crying because I am happy to be staying in joburg for a little longer, because I will be staying with my friends, because I will be here for my family, because I am so f**cking scared I can’t breath, because I am unvelievably angry at the universe, because I at least know where I won’t be going, because I don’t know how my life is going to change, because I don’t understand why this happened, because wrong decisions will bring us to where we need to be, because I am embarassed, because bad things happen to good people, because life is not fair and that sucks, because there is always hope.

 

HOPE”

 

Manlief het laat weet dat Firma Engeland hom ‘n belaglike salaris aanbied om permanent aan te bly. Dat dit nie naastenby die pakket is wat hulle hom destyds gegee het toe hy by Animal Friends gaan werk het nie. En dit was die pakket waarop ons ‘n nuwe lewe kon maak in Engeland. Hy het voorgestel dat hy aanbly op ‘n maand-tot-maand kontrak, maar hulle het dit nie aanvaar nie.   Hy het dus tot die finale konklusie gekom dat Engeland nie bestem is vir ons nie. Dat die legkaart stukkies net nie in mekaar wil pas nie, en dat mens nie vormpies inmekaar kan forseer wat duidelik nie vir mekaar gemaak is nie. Dus gaan hy sy tasse pak en terugkom Johannesburg toe. En basies van voor af begin.  Dit was soos die skok van daardie Maandag in Desember van voor af.

 

‘n Dag later het hy effe begin twyfel of hy tog die regte besluit geneem het, want enige werk is tog seker beter as geen werk? Maar terselfdertyd voel ons dat Firma Engeland hom vir die wolwe gegooi het.   Hy het goeie geleenthede in Johannesburg weggegooi omdat hy die standvastigheid geoffer is van ‘n belowende loopbaan in Engeland.  En die hoop van ‘n nuwe, veiliger lewe vir my en die kinders.   Nooit het ons gedink dinge sou so skeef vir ons verloop nie.  “Once bitten, twice shy”; ons het saam besluit dat hy net nie vir mense kan werk wat hy nie vertrou nie. Wat vir my bitter teleurstellend is, is dat dit Afrikaanse Afrikaners is wat hom in daardie moeras ingestuur het. Ons “eie mense” wat die rooi tapyt van geleenthede voor hom uitgerol het en toe die slagyster om sy been toeslaan, woordeloos gestaan en staar het. Want hulle het naief nooit ‘n Plan B vir Manlief gehad nie. Hulle het met sy loopbaan ge”juggle” soos ‘n onervare nar met drie sirkusballe. Dit help my natuurlik niks om bitter te wees hieroor nie. Om kwaad te wees vir Firma Engeland gaan nie ons huislening betaal of vir hom oornag ‘n nuwe werk laat kry nie. Ons moet nou beheer neem oor ons eie toekoms en ‘n plan A, B en C hê.

 

Intussen probeer ek die angstigheid van my bors afhou. Want die onsekerheid vreet aan my, en sal nog doen. Vir ‘n hele rukkie.

 

 

Dag 2342-2346 – Vrae en totsiens en bollemakiesie

1-20151012_202429-001

Manlief het weer gisteraand in die maag van ‘n Boeing ingeklim. Vir ‘n derde keer hierdie jaar, verruil hy die strate van Johannesburg vir die strate van Londen.

 

Elke groet is anders, maar die universele tema is dieselfde. Wat lê vir ons voor tot en met sy volgende terugreis? Gaan daar hierdie keer dalk ‘n werksonderhoud uitnodiging wees? Gaan daar uiteindelik meer sekerheid vir hom, vir ons wees? Wanneer moet ek finaal begin uitgooi en bokse bou?

 

Tegnies gaan hy nou ook terug as werkloos, want alhoewel daar partye is wat staatmaak op sy teenwoordigheid in die opvolgende paar weke, gaan hy terug sonder ‘n kontrak. Want Firma Londen sleep hulle voete en kan nie ‘n besluit maak nie. Permanent of kontrak basis, hierdie salaris of daardie salaris. “Like a cat on a hot tin roof”….., spring Manlief maar effe benoud rond terwyl hy fokus op die huidige projek.

 

Vir die eerste paar dae is daar gewoonlik ‘n swaarigheid in my hart. En moet ek weer my lewe aanpas. Terselfdertyd moet ek twee dogtertjies ook ektra styf onder my vlerk toevou, want hierdie situasie maak vir hulle glad nie sin nie. Hulle vrae kom van ‘n ander plek af as myne –

“Why does daddy have to go back?”,

“When are we moving to England?”,

“It is not fair that he has to be there by himself”.

Sondagaand was Engel (10) reg om die volgende aand saam met hom terug te vlieg. Sy het haar sente gaan tel en uitgewerk hoeveel geld sy uit haar spaarrekening moet trek om self te betaal vir haar vliegkaartjie. En sy het nie ‘n saak gehad met ons argumente van wat gaan sy doen as Manlief vir nege ure by die werk is?  As mens se hart harder praat as jou kop, is daar weinig kere logiese denke by betrokke.

 

Om die situasie en ons besluite nog meer gekompliseerd te maak, het daar verlede week die moontlikheid van ‘n werksgeleentheid in Johannesburg opgeduik. Eintlik is daar ‘n opsie van drie geleenthede binne een firma. Na ‘n paar onderhoude en informele ontmoetings, glo Manlief sy kanse is regtig goed om ‘n goeie pos aangebied te word.  Een van die poste is alhoewel om verplaas te word Windhoek toe en selfs dalk Kenya. Ons is so ongelooflik dankbaar vir hierdie positiewe nuus.   Maar, met elke nuwe ontwikkeling, maak my maag sulke bollemakiesie draaie – tipies van daardie “rollercoaster ride” waar jou voete so in die lug hang en jy verbete vasklou aan die harnas wat jou veilig hou. My kop het al klaar weer mal gegaan met scenario’s –                                                                                              As ons bly, gaan ons nog steeds die huis verkoop? As ons bly kan ons weer mediese fonds kry en kan ek Engel dermatoloog toe vat en oogkundige toe. As ons bly, moet ek dalk ‘n oggend werk soek?                                                                                                                                        As ons Engeland toe gaan, sal ons maar die huis verhuur? As ons Engeland toe gaan kan ek seker ontslae raak van al die skoolklere. As ons Engeland toe gaan moet ek dalk iemand kry om solank die kinders Frans te leer?                                                                                                As ons Windhoek toe gaan moet ek dalk begin kyk na skole, ballet, blyplek, ‘n gym….

 

STOP!!!!!