Dag 2354-2361 – Leef deur hulle

14 Leef deur

‘n Middagtee, verlede Saterdag, was nie net vol heerlik bederf nie, maar op die ou end nogal heel opvoedkundig.  Van dit wat ek NIE wil wees nie, en dit wat ek eintlik graag wil wees.

 

n Vriendin van my het Saterdag haar 40ste verjaarsdag in styl gevier. ‘n Middagtee by die Michelangelo hotel in Sandton. Die drie tafels was pragtig gedek en met roosblare gestrooi. Dit het so mooi vrolik en vroulik gelyk.  Die spyskaart het nie teleurgestel nie, en ek was innerlik ongelooflik dankbaar dat ek nie ‘n fiemies eter is nie! Vars sushi met salm, warm groente samoosas, mini quiches, klapper tertjies, ‘n Lindt sjokolade fontein en ‘n Lindt sjokolade koek. Dit was nou bederf uit die boonste rakke!

 

Onder die sowat dertig vroue was daar darem ‘n paar wat ek geken het en dit was lekker om ‘n hier en daar ou, en toevallig nuwe, bekende gesigte te sien. Ek en E het by dieselfde tafel opgeëindig, en soos die gewoonte maar is, vra mens eers uit oor die kinders. Kyk, almal van ons is natuurlik tot die dood toe trots op ons kinders. Of hulle nou Springbok-atleet-Wiskunde-genie’s is of nie. Maar goeiste, dit was al waaroor E kon praat. Van die oudste dogtertjie se atletiek prestasies en haar 90% gemiddeld in Gr 4, tot die jongste enetjie se provinsiale kleure in gimnastiek. Watter natuurlike talent hulle het in hulle onderskeie sporte en die resultate wat die afrigters met hulle ander deelnemertjies kry. Twee ure later het ek nog steeds nie geweet hoe dit met haar gaan nie. Ek weet nie of haar man nog die lang pad van Potchefstroom af ry Midrand toe vir werk nie, ek weet nie of sy nog fietsry nie, ek weet nie of sy toe wel haar eie besigheid begin het nie, en ek weet ook nie wat hulle saamdoen as gesin oor naweke nie? Behalwe vir haar dogters se prestasies, weet ek wel dat hulle later hierdie jaar op ‘n eksotiese vakansie gaan na die Ooste, en dat een van hulle staffies op die plaas is. En toe vind ek later uit met “die plaas”, sy bedoel haar vriendin se plaas…. Dit was so “versigtig” bewoord in die aanvanklike gesprek.  Weet sy dat ek Engeland toe sou gaan en nie meer gaan nie? Nee. Weet sy dat ek ‘n klein fotografie besigheid tot stand gebring het? Nee. Weet sy dat my kinders ook netbal speel? Nee. Het sy na daardie lekker kuier middag enige iets meer geweet van die nege vrouens wat saam haar om daardie tafel gesit het? Nee. Want sy was te vasgevang in die “ek” van haar kinders se prestasies…..

 

Na die groot eet het almal begin rondskuif na ander tafels toe en ek het gaan sit by ‘n ander groepie vrouens. Een van hulle is ‘n werkende ma wat ek al so af-en-toe by ballet gesien het en gegroet het, so dit was lekker om haar beter te kon leer ken. Sy het onder andere vertel hoe sy vir haar kinders vertel sy is baie lief vir haar werk en dat sy daarvan hou om mense te help, en daarom kan sy nie altyd by al hulle aktiwiteite wees nie. En dat haar kinders ook nou al vrede gemaak het daarmee dat Pappa en Mamma gereeld op “date nights” gaan, want sy verduidelik vir hulle dat hulle ook tyd saam nodig het. Toe een van my vriendinne haar uitvra oor haar werk en die omstandighede waaronder sy soms moet werk, het ek besef wat sy doen – sy is ‘n narkotiseur. En sy het daaroor gepraat asof dit sommer net nog ‘n werk is, sonder om la-di-da of “braggerig” voor te kom. Want ek het gedink dis “damn impressive“!  Ons het gepraat oor die boks oefen klas wat sy twee maal ‘n week bywoon en oor haar dogtertjie se 7de verjaarsdag partytjie wat sy self reël en sommer by die huis gaan hou. En dit van ‘n ma wat oorgenoeg geld het om die beste partytjie beplanner in haar “estate” te vra om die partytjie van die jaar aan mekaar te slaan. So ‘n vrou wat haar loopbaan liefhet, wat mense se lewens in haar hande hou, wat werk aan haar huwelik en haar kind se eie partytjie reël, is vir my soveel meer indrukwekkend as een wat duidelik net vir en deur haar kinders leef.

 

Daar was ‘n paar lewenslesse vir my in daardie middag. As ‘n spesie van die vroulike tuisbly ma geslag, het ek die reg om meer te wees as net ‘n vrou vir my man en ‘n ma vir my kinders. There is more to life than being a slave of your household. Ek het die reg om met tye myself eerste te sit, om die kinders in ander se sorg te plaas terwyl ek iets vir myself doen. Dit hoef nou wel nie iets “earth shattering” te wees soos om te gaan help in ‘n oorlog geteisterde Somalië nie, maar selfs as dit ‘n oggend saam ‘n vriendin is by ‘n damesoggend, is dit ook “awesome”. Om net deur jou kinders te leef, is ongesond en half “hartseer” ook. Want nog ‘n vriendin, vir wie ek ek kan-nie-onthou-wanneer-laas gesien het nie, se lewe is juis so. Sy om selfs oor naweke ‘n tydjie af te knyp om te kuier, want as haar 7-jarige dogtertjie nie by een van vyf of ses dansklasse moet wees nie, is haar seuntjie besig om ‘n krieket wedstryd te help wen.   Sy moet haar persoonlike lewe beplan om haar jong kinders se onmoontlike kalender.

 

So het ek ook besef dat ek moet ophou skuldig voel wanneer ek wel iets vir myself doen, en in daardie oomblikke dan ook aanvaar dat iets dalk deur die krake gaan val, en dat dit OK is. Verlede week Woensdag het ek ‘n fotografie sessie gehad, en toe ek half 8 die aand by die huis instap, lê Engel (10) en Japsnoet (7) in skoolklere voor die TV. En as Engel hierdie week huis toe kom met ‘n swak toetspunt oor sy nie Woensdagmiddag gestudeer het nie, is dit ook maar OK. “”But actions have consequences, en as daar ‘n straf uitgedeel moet word is dit iets waarmee sy gaan moet saamleef.

 

Die geheim is natuurlik dat die “ek-tyd” gespandeer moet word aan dinge waarvan ek hou om te doen. En dat dit nie dinge moet wees waarmee ek ander kan beïndruk by ‘n volgende kuier nie. Ek hou van blog en ek moet vrede maak daarmee dat daar net ‘n handjievol mense is wat my blogs “actually” lees. Dis vir my terapeuties om te skep met my hande en “so what” as ek nie my eie winkeltjie het waar ek allerhande mooi goedjies verkoop nie. Ek sien die vreugde op ‘n vriendin se gesig wanneer ek vir haar ‘n opgedollie’de boksie gee met selfgestringe pêrels daar binne. En sy weet dis spesiaal net vir haar uitgekies.

 

Nou ja, dit is dus tyd vir my om by ‘n boekklub of fotografie klub of Pilates groep aan te sluit, of wat ook al ek nodig het om my “ek” te wees.

 

Ek het darem alreeds ietsie gereel vir “date night” om ons huweliksherdinking te vier.

Advertisements

8 thoughts on “Dag 2354-2361 – Leef deur hulle

  1. Ek lees altyd graag hier.Jy skryf pragtig en het ‘n nugter uitkyk op die lewe.Jy laat my terudink aan my eie besige jare met my kinders(vier van hulle)Laat ek jou bietjie vertel van hulle prestasies…die oudste was altyd…lol ek trek jou been,hoor!
    Ek weet presies waarvan jy praat..sulke mense is ‘n absolute pyn iewers!

  2. Is mos net wat ek ook sê, ek het nie my lewe neergelê toe ek kinders gehad het nie. Jy moet gelukkig wees met jouself en dan sal jou man en kinders ook die voordeel daaruit trek. Sterkte vorentoe en hou op om te luister na praatjies wat jou verveel anders bly daar nie genoeg tyd oor om jouself te geniet nie.

  3. Ek het ook al sulke mense tëegekom. Ek wonder soms of hulle nie so aangaan oor iets om die aandag van iets anders af te lei nie. So amper asof hulle bang is hulle sal vrae oor iets anders moet antwoord. Of dit kan wees dat hulle net dink hulle kinders is beter as al die ander!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s