Dag 2385-2386 – Sommer net Saterdag

16 Rainy saturday

Wanneer my foon lui en ek die skool se nommer op my skerm herken, klem my hart maar altyd saam. My logika sal sê “moenie worry nie, dis niks ernstig nie”, maar ‘n ma se hart “worry” tog mos maar terwyl jy visies het van gebreekte arms of so iets.

 

So Dinsdag was dit Engel (10) wat in die skool se siekeboeg opgeland het. In Liggaams Opvoeding het hulle op die hokkieveld rondgehardloop en dit het haar allergiese asma laat opvlam. Haar bors het toegetrek en sy was vreeslik duiselig. Woensdag was dit Japsnoet (7) se beurt met ‘n toe neus en ‘n koors wat hier by net oor die 38 gaan draai het. R1,000 later,  na ‘n dokters besoek en anti-biotika en kortisoon en druppels vir die “nebuliser”, met ligte bronchitis, doen sussie weer vanoggend wawiele die hele huis vol.  Raai wie voel beter?!

 

Met die weervoorspellers se belofte van reën oor meeste dele van Gauteng vandag, het ek gistermiddag laat ‘n pot groentesop op die stoof gesit. En soos voorspel, val daar al heel oggend ‘n sagte misreen oor ons tuin. Sulke trietsige weer laat my altyd terugdink aan ons tyd in Engeland. Nostalgie, verlange, hartseer, dit wat was? “A mixed bag really.” Ons woonstel op die derde verdieping het gesorg vir die mooiste uitsigte.  Vanuit die kombuis kon jy die St Albans katedraal sien, so skottelgoed was was nie te sleg nie.  Die sitkamer venster het uitgekyk oor die St Albans golfbaan – groen in die somer, bruin-en-geel bont in die herfs, en kaal takke in die lang winter.   Een ding was verseker, sulke weer in Engeland was ‘n gereelde verskynsel en ons het dus maar warm aangetrek, onder sambrele weggekruip en dorp toe gestap.  Anders sou ons bitter min uitgekom het!  Ons sou gaan koffie drink, warm pasteie koop, en DVD’s gaan uitneem.  Hierdie weer het maar deel van jou lewe geword en ja, soms het dit my onder gekry, want in Johannesburg is ons ongelooflik bederf met selfs wintersdae van son.

 

Maar vandag, lekker warm toegevou in ons nagklere en slaapkouse het ons vier, na ‘n lekker ontbyt, ‘n fliek gekyk op Box Office. The Great Gilly Hopkins. Oor ‘n meisie, seker so oud soos Engel, wat rondgepos word van een huis na ‘n ander, totdat sy uiteindelik by ‘n familie kom wat nie gaan opgee op haar nie. Waar ‘n klein seuntjie opkyk na haar, waar ‘n rooikop buurdogter nie ophou probeer om haar maatjie te wees nie, en waar ‘n onderwyseres haar slegte gedrag ignoreer en dit omdraai in ‘n positiewe energie. Ai, ek het sooo lekker gehuil, omdat ek wou, omdat ek kon. Dit het my ook net weer laat besef hoe ‘n groot verantwoordelikheid ons het teenoor hierdie mensies wat aan ons toevertrou word.   Van die oomblik wat daardie hartkloppie sigbaar is op ‘n swart en wit skerm in ‘n dokterskamer, is dit daar. Daardie wete van dat jy as ouer besig is om ‘n mensie te skep en voor te berei vir ‘n groot, onbekende wêreld daar buite, is eintlik iets om skoon angstig oor te raak. Maar daardie onderwerp los ek eerder vir ‘n ander dag, want daar is nog heelwat oor te skryf en debateer. En ek glo op daardie onderwerp sal daar baie te sê wees en sal daar ‘n wye verskeidenheid menings geuiter word.

 

Vir nou geniet ek die klank van die reën op die herfsblare. My gemaklike, grys “stokies” wat my voete lekker warm hou, die “luxury” van geen grimering en die afwesigheid van ‘n stywe bra wat my winterdroë vel laat jeuk. Die reuk van vroeër se Nespresso koffie hang nog in die lug en ek kan nie wag om op my “leesbank” te kom uitstrek met my Abel Lotz boek nie (geskryf deur Chris Karsten).

 

En dalk, net dalk, as die familie mooi vra, sal ek pannekoek maak met kaneelsuiker daaroor gestrooi…..

Dag 2361-2384 – Anti-klimaks

14 Anticlimax.JPG

Na maande van drama en onsekerheid en emosioneel leef van dag tot dag, het alles ewe skielik tot ‘n halt gekom.

 

In ‘n kwessie van vier kort weke het Manlief sy eenrigting Londen-Johannesburg kaartjie bespreek, sy twee sakke gepak, vriende gegroet en die Britse winter vaarwel geroep . Ek het laerskool onderwysers, die swem afrigter en die ballet juffrou laat weet dat ons nie meer weggaan nie, stadig maar seker my vriende ingelig, opgehou “de-clutter”, winter skool uniforms gaan uitkrap en ons het die huis van die mark afgehaal. Laasgenoemde was soos die spreekwoordelike “nail in the coffin”. Daardie laaste dingetjie op die lys wat geskrap is.  Die laaste stap wat geneem moes word om “bly” ons realiteit te maak en ons wortels weer te anker.  Vir ons lewens om terug te keer na “normaal.”

 

Manlief het werk, ons hoef nie meer te stres oor wie ons honde kinders ‘n nuwe tuiste gaan gee nie, daar is nie meer tydig en ontydig vreemde kopers voete deur ons huis nie, Japsnoet (7) floreer ewe skielik by die skool en haar lees is ongelooflik en Engel (10) wil sommer weer teruggaan ballet toe. Dit voel asof meeste dinge wonderbaarlik net in plek in  geval het, asof legkaart stukkies in mekaar in begin gly. En daardie “rollercoaster” wat net nie wou ophou hoola-hoop nie, het nou sy spore gevind. So hoekom voel ek so half verlore?  Onrustig, “unfocussed”?  Dis amper asof die ewe skielike afwesigheid van drama en gereelde, wisselvallige emosies, gelei het tot ‘n tipe van anti-klimaks.   Vir so lank was dit deel van my alledaagse bestaan, van my as mens, dat dit so vreemd voel om dit nie meer te beleef nie.

 

Moet my nie verkeerd verstaan nie – woorde kan nie my dankbaarheid uitdruk oor die feit dat Manlief werk het nie. En dat ‘n gewig van my skouers af is en ons meer langtermyn kan beplan nie.  Dinge kon so ongelooflik skeef geloop het vir ons, op soveel vlakke. En soms voel dit of ek myself moet knyp om te besef dat dit nie net alles ‘n droom was nie, dat ons regtig hierdie opdraende, duwweltjie besaaide kronkelpad gestap het en heel anderkant uitgekom het. Ek reken vir my lê daar nou baie introspeksie voor. Wat wil EK hê en wat wil EK bereik? Is dit genoeg om net ‘n tuisbly ma te wees met ‘n klein fotografie besigheid wat my nie oormatig besig hou nie? Wat gaan my gelukkig maak en my die wete gee dat ek meer is as net ‘n ma vir my kinders en vrou vir my man? Teruggaan gym toe, iets kreatiefs doen soos kunsklasse of klavierlesse, “tap dancing” vir volwassenes, photoshop kursus, ‘n aanlynwinkel begin?

 

Net ek kan besluit wat my gelukkig gaan maak en wat om te doen om die anti-klimaks “downer” te omskep in ‘n blydskap.