Dag 2441-2443 – Niks is niks

20 Niks

Dis eintlik ‘n plofbare leë woord. Niks.

 

Daar is bitter min mense wat regtig kan sê hulle het niks.

 

Daar is mense wat vakansiehuise besit, daar is mense wat op hulle eie grond woon, mense wat motors het, mense wat duur skoene in hulle kaste pamperlang, mense wat ‘n dak oor hulle koppe het, mense wat kleingeld in hulle sakke rondra, mense wat bokse vol, geldelik niks-werd, sentimentele ‘goed’ met hulle saamdra. Daar is mense wat tweedehandse baadjies om hulle lywe vou, mense wat ‘n halwe bottel vodka ‘nurse’ asof dit hulle belangrikste besitting is, mense wat huise bou met hulle talente, mense wat boeke versamel.

 

Daar is ‘n bedelaar op die hoek, naby Dischem. Sy gesig is verkreukel van te veel ‘spirits’ en wie weet wat nog. Hy het net een arm, wel eintlik het hy een en ‘n halwe arm, tot by die elmboog. Sommige dae sit hy net op die middelmannetjie, kop tussen sy knieë, ‘n amperse moedeloosheid te bespeur. Hierdie dae is min alhoewel, want meeste van die tyd steier hy oor die pad, intimideer die publiek en met ‘n wildheid in sy oë, skree hy onverstaanbare sinne uit. Blykbaar raak hy met tye nogal aggressief ook, maar dit het ek gelukkig nog nie beleef nie. Die kinders is bang vir hom en ek probeer daardie hoek vermy. Manlief noem gereeld oor hoe hy nie kan verstaan dat die man dag-in-en-dag-uit getrou daar rondhang nie. Waar kry hy geld vir die ‘long tom’ bier wat gereeld in sy hand is? Waar slaap hy? Hy het skoene aan sy voete, klere aan sy lyf. Selfs dié arme dremmel het nie ‘niks’ nie. Terwyl hy oor die pad zig-zag, sit sy vrou op die sypaadjie voor die mediese sentrum, langs die groot kragboks. Omring deur plastiese sakke wat op die oog af vol klere of komberse is. Haar gesig is altyd pofferig en haar oë ook wild. Ons het een Sondagoggend op hulle afgekom waar hulle handgemeen geraak het, aan’t baklei oor ‘n bottel iets wat sy duidelik nie daardie dag wou deel nie. Maar natuurlik in hulle benewelde toestand, het hulle verby mekaar geslaan en gestamp, al slingerend en skellend. Sy het ook nie ‘niks’ nie.

 

Wanneer jy glo jy net ‘niks’ meer om voor te lewe nie, is dit natuurlik nie waar nie. Almal van ons het ‘iets’ om voor te lewe, hoe klein dit ook al mag wees. Maar depressie, die swart hond, jappiegriep, ‘n versmorende kombers, die donker wolk…. mense wat hierdeur gaan, sien nie daardie ‘iets’ raak nie.

 

Soveel as wat ek my lewe leef sonder hulle, is hulle tog deel van my lewensboek. Dis die vrou wat geboorte gegee het aan my man en dis die man wat, deur sy dade, maak dat my man vandag is wie hy is. Die teenoorgestelde van wat sy pa was en is. Dis amper asof Manlief se missie in die lewe is om alles te wees wat sy pa nooit was nie, om uit te styg bo daardie persoon, om aanhoudend te streef om beter te wees, om aan die wêreld te bewys dat die ooreenkomste eindig by ‘n naam op ‘n geboortesertifikaat. Dit was sy pa se 70ste verjaarsdag gister, ‘n verjaarsdag wat ‘n groot mylpaal voorstel, maar ‘n verjaarsdag wat ongesiens en ongevier, verby gegaan het. Sonder ‘fuss’, sonder partytjie, sonder ‘n duur horlosie of ‘n familiefoto, sonder die skiet van ’n vonkelwyn prop, sonder toesprake oor sy lewe, sonder ‘streamers’ en balonne. Sy enigste besoeker was sy jongste seun, wat gaan kuier het met winkelgekoopte ‘custard slices’. Kleinboet het aan Manlief genoem dat sy ouers se ‘levy’ hierdie maand by R3,000 gaan draai het, so vir ‘n spesiale geskenk, was daar nie ‘n ekstra geldjie nie.

“As hy tien woorde gepraat het, was dit baie”,

het Kleinboet in ongeloof oor die foon vertel.   In my geestesoog kon ek die ou man voor my sien. Sittend-lêend op die bank met sy moëe navy blou sweetpak broek aan, te groot vir sy lyf. Sy voel-vir-my jammer grys-blou oë, sy hangende skouers, sy een hand wat gereeld oor sy oë of oor sy bles vryf; ‘n sug. Manlief het gereken dat die ou man ten minste kon probeer vriendelik wees, want dit sou die enigste besoeker gewees het wat hy daardie winters Sondag sou kry.

“Hy het f***ol!”,

het Kleinboet frustreerd uitgebasuin.

“Eintlik het hy nie eers meer sy kinders nie.”

want Kleinboet bel of maak ‘n draai oor hy voel dis sy plig, nie oor hy ‘n behoefte het aan sy ouers se geselskap nie, en ek reken hulle weet dit is ‘jammerlike’ kuiers.

 

Na die tyd het ek en Manlief oor die hele situasie gesels, en regtelik, glo Manlief dat sy pa depressief is. Maar ten minste vir daardie paar minute kon moeite doen het om met sy kind te gesels en te probeer maak of hy bly is.

“Depressiewe mense sien dit nie so. Om hulle is dit net donker. Emosies afgestomp.”

het ek slim, en uit persoonlike ondervinding, gesê.

“So ja, ek stem saam dat hy depressief is, wie sal in sy omstandighede nie wees nie? Maar dit kom weer daarop neer dat hy nie verantwoordelikheid vat vir sy dade nie, hy blameer nog steeds ander mense vir wat fout gaan in sy lewe. Hy sit nie vandag daar en dink hoe hy brûe kan bou met die mense wat na aan hom is nie. Hy sit daar en dink oor hoe aaklig mense met hom is en wat hulle aan hom doen om sy lewe so mismoedig te maak.”

Dis ‘n afgestompte en hardkoppige sosiopaat wat dag in en dag uit net daar sit en wroeg. En dis dr Jax (my slim terapeut) wat observeer het hy is ‘n sosiopaat, nie Dr Google nie.

 

Maar hy is ‘actually damn’ bevoorreg! Want hy het ook nie ‘niks’ nie. Hy het ‘n dak oor sy kop, bokse vol sentimentele goed, ‘n ou familie Bybel, ‘n windbuks, skyfie foto’s, boeke, ‘n televisie, DVD’s, warm komberse teen die Gauteng winter.

 

En ‘n vrou wat haar kinders en kleinkinders opsy skuif, om by hom te wees.

Advertisements

Dag 2438-2440 – Engele en Lesse

19 Roxy

‘n Oproep daardie tyd van die aand is nooit goeie nuus nie.

“But never say never”,

het ek mos nou ook al geleer.

 

Manlief het die foon geantwoord, in sy oë was dieselfde twyfel en groot vraag as wat daar by my was. Ek het geglo dit was die einde van Boerboel, en vir die eerste keer daardie aand het ek snot en trane gehuil.

“Hulle het soveel fragmente verwyder as wat hulle kon, hulle het vir haar iets gegee vir pyn, ons moet haar môre oggend sesuur gaan haal.”

was Manlief se woorde na hy die oproep bëeindig het.  Boerboel het dit gemaak!

 

Ons het altwee maar sleg geslaap; die aand se gebeure het agter my toe oë bly afspeel soos ‘n fliek. Dis asof my kop nie kon verstaan wat gebeur het nie. Hier op ons erf, onder die afdak. ‘n Paar meter van ons af.  Op ‘n aand waar ons op die ingewing van die oomblik, besluit het om uit te gaan vir ete.  In die oggend se flou daglig, was die bewyse van wat gebeur het, soveel meer opvallend.  Skerper.  Die wit-grys plaveisel was vol diep-rooi, gestolde bloedsmeersels. Daar was ‘n swaar yster reuk in die lug. My sintuie het my van voor af bewus gemaak van die feit dat daar die vorige aand iets aaklig afgespeel het. Maar meer as ‘n week later, voel dit nie vir my “real” nie. Dis asof ek nog steeds nie wil glo dat dit ‘n regte patroon uit ‘n regte pistool is, wat Boerboel getref het nie. Is ek regtig so ongelooflik naïef? Of dalk is dit maar net my brein wat my beskerm teen skok of trauma?

 

Vroeg Donderdagoggend, by die veearts, was Boerboel baie bly om ons te sien. Ek glo sy was maar effe deurmekaar van die narkose en medikasie.  Al wat van die vorige aand se diep geroggel agtergebly het was die sukkel-asemhaal deur haar gebreekte neus. Die linkerkant van haar gesig was nogal geswel, wat te verwagte was. Ons het haar na ons plaaslike veearts toe geneem, waar daar voorgestel is ons haar vir die dag daar hou vir observasie.

 

Terug by die huis wat dit tyd om skoon te maak. Ons tuinier het op sy knieë elke vlekkie probeer afskrop terwyl ek bebloede handdoeke moes skoonkry en natuurlik die agterkant van my motor ook. Ons wou die kinders die ergste trauma spaar en het besluit om vir hulle te sê dat die sekuriteitswag geskrik het en dat sy pistool per ongeluk afgegaan het. Die kinders was natuurlik onsteld en wou Boerboel dadelik gaan haal om vir hulleself te sien dat sy nog lewe en dat sy OK is. Die aand terug by die veearts om haar te gaan haal, het die veearts net weer in ongeloof genoem hoe gelukkig Boerboel was. ‘n Sentimeter in die verkeerde rigting en sy kon dood gewees het. Sy het ook verduidelik dat as gevolg van haar gebreekte neus, en skerwe wat nie verwyder kon word nie, daar dalk in die toekoms probleme gaan opduik. Maar dis natuurlik ‘n wag-en-kyk situasie. Terug by die huis was Boerboel natuurlik vreeslik gepamperlang en bederf met nuwe komberse. Jack Russel het stil langs haar gaan lê daardie aand en ek het nogal gewens ek ek geweet wat deur sy honde brein gaan.

 

Ek en Manlief het tyd gehad om ons gedagtes bymekaar te kry en om daardie dag ook meer nugter te dink oor die gebeure. Ons het besef dit was ‘n onmoontlike situasie. Ons moes in die eerste plek nooit by die hek ingery het nie, want ons kon op inbrekers afgekom het en ons almal se lewens in gevaar gestel het. Ons kon nie verseker dat Boerboel nie die wag sou aanval nie. En as sy hom aangeval het, sou dit aaklig gewees het.  Die kinders kon on die kar gewees het en dus die chaos wat daarna gevolg het eerstehands beleef het.  En ja, die situasie kon soveel erger gewees het, maar dit was.  Daar was beslis Engele wat oor ons kom waak het in daardie paar sekondes. Slegs twee dae later was sy weer op haar pos in die tuin – waar die kinders was, was sy.

 

Lesse is geleer – ek moet minder naïef wees en ophou dink dinge kan nie met ons gebeur nie.

 

En ons is natuurlik ongelooflik dankbaar dat Boerboel weer haar ou self is en nog so rukkie lank kan deel wees van ons gesin.

Dag 2435-2437 – Net sekondes

18 Sekondes

Minute

Nee

Sekondes….

Dis al wat dit vat vir ‘n ongeluk om te gebeur. Vir lewe of vir dood. Vir omstandighede om te verander.

 

Woensdagaand, met die kinders by Ouma, besluit ek en Manlief om uit te gaan vir aandete. “Date night”. Oppad terug, omstreeks half 9 bel ons sekuriteits firma om te laat weet ons huisalarm gaan af en Manlief gee hulle toestemming om in ons erf in te gaan. Met die sekuriteits firma se motor nog steeds in die straat, voor ons hek, het ons die hek oopgemaak, ingery, die huilende alarm afgesit en onder die afdak gaan parkeer. Die sekuriteitswag het in ons rigting gestap, die eerste ding wat ek opgemerk het was sy pistool in sy hand. Nou kyk, ek het ‘n heilige vrees vir gewere, en ek onthou dat ek op daardie stadium besef het dat die wag nie eers weet ons is die eienaars van die huis nie.

“Moenie uitklim nie, sê net vir die ou hy moet uitloop en dan sal ons uit die kar uitklim,”

het ek vir Manlief gesê. Want sien, op ‘n vorige geleentheid, in soortgelyke omstandighede, toe ek uit my kar klim, het Boerboel beskermend geraak, teen die trappe afgehardloop en gehap na die sekuriteitswag.

 

Manlief het sy motordeur oopgemaak om met die sekuriteitswag te praat, en die volgende oomblik het Boerboel teen die trappe afgehardloop, in ons rigting. Manlief het haar naam geroep om haar te probeer stop, maar sy het nie geluister nie. Net aangehou nader draf. Toe hoor ek ‘n harde plof geluid, soos daardie stupid papier klappertjies wat die kinders op die grond neergooi wat so klap. Boerboel het ‘n klein tjank geluid gegee, omgedraai, weggehardloop en sulke draaie gehol voor die motorhuis.

“Wat het gebeur?”

wou ek weet, want ewe skielik was Manlief weer langs my in die motor. Sy gesig in sy hande.

“Hy het haar geskiet!”

Ek het iets gevra soos met wat? Dinkende dat die sekuriteitswag Boerboel geskiet het met rubberkoeëls. Nee, het hy gesê, dit was ‘n regte pistool. En toe skrik ek, en spring uit die kar uit om te kyk waar Boerboel was. En ek het die wag hoor sê,

“But she is not a vicious dog,”

wat my laat dink het hy was al by ons huis. Intussen het sy haar pad gemaak na die onderkant van die trappe en ek kon hoor hoe sy roggel en aanhoudend haar kop skud. Dis toe dat ek besef sy is heel waarskynlik in haar gesig geskiet. Teen daardie tyd het ek die bloedstrepe op die liggrys plaveisel gemerk en besef sy moes nogal erg bloei en dat ons dringend moes hulp kry. Ek het visies gehad van hoe die helfte van haar gesig dalk weg is, of haar kakkebeen vergruis is. Dit het deur my kop gegaan dat daar nie tyd was vir “panic” nie – ek moes kophou. Die man twee huise van ons is ‘n dokter en ek het straataf gehardloop in hulle rigting. My buurman het my intussen gevind, duidelik geskok, want hy het die skoot gehoor.

“They shot my dog,”

het ek dit uitgekry en toe hy aanbied om ‘n veearts te bel, het ek dit aan hom oorgelaat en het ek teruggehardloop huis toe en handskoene gaan aantrek. Teen daardie tyd het nog sekuriteits motors gearriveer en wou ek net vir Boerboel op die stoep kry, weg van al die flitsende rooi ligte en wagte in swart.

 

Eers toe kon ek haar gesig ondersoek. Ek het die ergste verwag, maar al wat ek kon sien was ‘n kleinerige gaping in haar linker wang en bloed wat onophouderlik daaruit gepomp het. Duidelik die area waar die patroon in is, maar ek kon nie sien waar dit sou uitgaan nie. Elke keer wat ek my hang weggevat het was die handskoen vol bloed. Bure het kom help, my motor voor die trappe getrek en die sitplekke afgeslaan en handdoeke gepak. Nog steeds gedisorïenteerd en hiperaktief, het hulle Boerboel ingelaai en ek het saam haar agter ingeklim. Teen daardie tyd was my denim plek-plek donker gevlek van haar bloed. Sy het aanhoudend haar kop geskud, geroggel, genies en soos wat ek my kop weggedraai het, het die bloed in my hare ingesproei. Ek was bang vir haar, bang dat sy in haar disorientasie en skok en moontlik pyn, na my sou hap. Maar sy het nie. By die nood-veaarts het hulle Boerboel verdoof, xstrale geneem, bepaal dat die koeël gesplinter het en dat daar geopereer sou moes word om soveel moontlik stukkies te verwyder. Intussen het twee verteenwoordigers van die sekuriteit firma opgedaag, uitgevra oor Boerboel en die deposito van R6,000 betaal.

 

Die veaarts het ons huis toe gestuur, met die instruksies om haar sesuur die volgende oggend te kom haal en haar dan na ons plaaslike veearts te vat. So al wat ons kon doen, was om te wag en natuurlik te bid dat sy dit deur die nag sou maak.

 

Half 12 dieselfde aand nog, het die huisfoon gelui….

Dag 2387 – 2434 – Tot hiertoe en nie verder

16 Stories

Dis meer as ‘n maand sedert my laaste inskrywing. Waar het die tyd heen gevlieg? “Life happens when you’re making other plans.

 

So, in die laaste maand het ek ‘n aanlyn geskenkwinkel begin en die Abel Lotz trilogie van Chris Karsten klaar gelees. Probeer maar deur die eerste paar hoogs Afrikaanse hoofstukke beur, dis regtig die moeite werd as jy hou van speurverhale met heelwat kinkels. Japsnoet (7) het haar ballet eksamen gedans en geslaag met 70%, Engel (10) het vir twee weke netbal gespeel en besluit daar is geen punt daaraan om in die C-span te speel nie, en besluit om eerder verder op swem te fokus. Ek het 41 geword sonder ‘n groot kattemaai, net soos ek dit wou gehad het, maar toe ek saam Ma en Kleinsus gaan ontbyt eet kry ek die grootste geskenk – Yollie het as ‘n verassing opgevlieg van die Kaap af! Ek het letterlik deurmekaar gelag en gehuil, want ek het haar juis die laaste tyd weer so begin mis.

 

Manlief het na ‘n gewik en geweeg en heelwat twyfel en introspeksie ‘n permanente pos begin in Junie, so hy begin ook nou stadig maar seker weer sy voete plant op Suid-Afrikaanse grond. Engel (10) het haar eerste rapport gekry vir die jaar, en ek is ongelooflik trots, veral in ag geneem hoe ons onsekere omstandighede haar klein wêreldjie ook onderstebo gegooi het. Bo 80% vir al haar vakke en 84% gemiddeld.  Die lang verwagte wintervakansie het uiteindelik aangebreek, waarvan daar nou net ‘n week oor is. En, ek het ‘n skoolvriendin se autobiografie in twee dae verslind. Getitel – Tot hiertoe en nie verder nie.

 

Haar boek is snaaks, “revealing”, eerlik, huil-hartseer, rou, “heart warming”, inspirerend, skokkend en baie persoonlik. Dis menslik en eg. Sy het besluit om dit van publikasie te onttrek; dié wat haar goed ken voel sy gaan seerkry. Ek kan verstaan hoekom hulle so sê, maar ek dink tog dis hartseer dat sy so baie tyd en werk in iets ingesit het wat nie gaan “buite toe” gaan nie. Sy skryf van haar eerste liefde wat ‘n verloofde geword het, en toe haar man. Van romantiese ontmoetings met ander mans, van selfmoord pogings, van twee emosioneel vernielde kindertjies wat in haar hart ingekruip het. Van ‘n egskeiding, mislukte verhoudings, ‘n diagnose van bipolariteit, haar ma se kanker en afsterwe. Maar ook van haar sukses as ‘n student, beurse oorsee, haar kleurvolle en inspirerende beroepslewe, van kinders wat terugkom…..‘n storie van eindelose hoop.

 

So kyk ek een Sondag middag op televisie, ‘n preek van die Mosaiek kerk. Dit is seker net menslik om na jou lewe te kyk, en veral die negatiewe, donker tye, en dit te sien as sleg en dat jy nooit weer daarna toe sal wil terugkeer nie. Ek kyk self terug na gebeure uit my verlede en het nog steeds vrae waarvoor ek seker nooit antwoorde sal hê nie. Die wonder oor goed kan my soms mal maak. In ‘n neutedop het dit daaroor gegaan dat alles wat oor jou pad kom, die seer, die wanhoop, die donker tye, jou maak wie jy vandag is.

 

Skoolvriendin het gereken wie sal nou oor haar wil lees? Maar daar is ‘n storie in elkeen van ons. Daar is dinge waaroor ons skaam is, oor skuldig voel, wat vernerend is. Maar dis alles deel van ons “make-up”.

 

En die belangrikste is wat mens met hierdie “make-up” doen en hoe mens die pad vorentoe aandurf.