Dag 2438-2440 – Engele en Lesse

19 Roxy

‘n Oproep daardie tyd van die aand is nooit goeie nuus nie.

“But never say never”,

het ek mos nou ook al geleer.

 

Manlief het die foon geantwoord, in sy oë was dieselfde twyfel en groot vraag as wat daar by my was. Ek het geglo dit was die einde van Boerboel, en vir die eerste keer daardie aand het ek snot en trane gehuil.

“Hulle het soveel fragmente verwyder as wat hulle kon, hulle het vir haar iets gegee vir pyn, ons moet haar môre oggend sesuur gaan haal.”

was Manlief se woorde na hy die oproep bëeindig het.  Boerboel het dit gemaak!

 

Ons het altwee maar sleg geslaap; die aand se gebeure het agter my toe oë bly afspeel soos ‘n fliek. Dis asof my kop nie kon verstaan wat gebeur het nie. Hier op ons erf, onder die afdak. ‘n Paar meter van ons af.  Op ‘n aand waar ons op die ingewing van die oomblik, besluit het om uit te gaan vir ete.  In die oggend se flou daglig, was die bewyse van wat gebeur het, soveel meer opvallend.  Skerper.  Die wit-grys plaveisel was vol diep-rooi, gestolde bloedsmeersels. Daar was ‘n swaar yster reuk in die lug. My sintuie het my van voor af bewus gemaak van die feit dat daar die vorige aand iets aaklig afgespeel het. Maar meer as ‘n week later, voel dit nie vir my “real” nie. Dis asof ek nog steeds nie wil glo dat dit ‘n regte patroon uit ‘n regte pistool is, wat Boerboel getref het nie. Is ek regtig so ongelooflik naïef? Of dalk is dit maar net my brein wat my beskerm teen skok of trauma?

 

Vroeg Donderdagoggend, by die veearts, was Boerboel baie bly om ons te sien. Ek glo sy was maar effe deurmekaar van die narkose en medikasie.  Al wat van die vorige aand se diep geroggel agtergebly het was die sukkel-asemhaal deur haar gebreekte neus. Die linkerkant van haar gesig was nogal geswel, wat te verwagte was. Ons het haar na ons plaaslike veearts toe geneem, waar daar voorgestel is ons haar vir die dag daar hou vir observasie.

 

Terug by die huis wat dit tyd om skoon te maak. Ons tuinier het op sy knieë elke vlekkie probeer afskrop terwyl ek bebloede handdoeke moes skoonkry en natuurlik die agterkant van my motor ook. Ons wou die kinders die ergste trauma spaar en het besluit om vir hulle te sê dat die sekuriteitswag geskrik het en dat sy pistool per ongeluk afgegaan het. Die kinders was natuurlik onsteld en wou Boerboel dadelik gaan haal om vir hulleself te sien dat sy nog lewe en dat sy OK is. Die aand terug by die veearts om haar te gaan haal, het die veearts net weer in ongeloof genoem hoe gelukkig Boerboel was. ‘n Sentimeter in die verkeerde rigting en sy kon dood gewees het. Sy het ook verduidelik dat as gevolg van haar gebreekte neus, en skerwe wat nie verwyder kon word nie, daar dalk in die toekoms probleme gaan opduik. Maar dis natuurlik ‘n wag-en-kyk situasie. Terug by die huis was Boerboel natuurlik vreeslik gepamperlang en bederf met nuwe komberse. Jack Russel het stil langs haar gaan lê daardie aand en ek het nogal gewens ek ek geweet wat deur sy honde brein gaan.

 

Ek en Manlief het tyd gehad om ons gedagtes bymekaar te kry en om daardie dag ook meer nugter te dink oor die gebeure. Ons het besef dit was ‘n onmoontlike situasie. Ons moes in die eerste plek nooit by die hek ingery het nie, want ons kon op inbrekers afgekom het en ons almal se lewens in gevaar gestel het. Ons kon nie verseker dat Boerboel nie die wag sou aanval nie. En as sy hom aangeval het, sou dit aaklig gewees het.  Die kinders kon on die kar gewees het en dus die chaos wat daarna gevolg het eerstehands beleef het.  En ja, die situasie kon soveel erger gewees het, maar dit was.  Daar was beslis Engele wat oor ons kom waak het in daardie paar sekondes. Slegs twee dae later was sy weer op haar pos in die tuin – waar die kinders was, was sy.

 

Lesse is geleer – ek moet minder naïef wees en ophou dink dinge kan nie met ons gebeur nie.

 

En ons is natuurlik ongelooflik dankbaar dat Boerboel weer haar ou self is en nog so rukkie lank kan deel wees van ons gesin.

Advertisements

13 thoughts on “Dag 2438-2440 – Engele en Lesse

  1. Ek is bly Boerboel is beter, maar dis ‘n skrik wat ‘n mens altyd bybly. Ons het eerstehandse ervaring daarvan gehad toe ons Bull Mastiff vergiftig is – ons het swaar dae beleef totdat ons hom weer kon huis toe neem. Daarna was ons baie lugtig en het geskrik vir elke geluid in die nag.

    • Ag nee, dis aaklig. Ek is nou maar bangerig vir wat sy moontlik mag doen aan vreemdelinge wat inkom, veral omdat sy nie vir ons luister nie. En sy is eintlik so saggeaard en liefdevol as jy haar leer ken.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s