Dag 2441-2443 – Niks is niks

20 Niks

Dis eintlik ‘n plofbare leë woord. Niks.

 

Daar is bitter min mense wat regtig kan sê hulle het niks.

 

Daar is mense wat vakansiehuise besit, daar is mense wat op hulle eie grond woon, mense wat motors het, mense wat duur skoene in hulle kaste pamperlang, mense wat ‘n dak oor hulle koppe het, mense wat kleingeld in hulle sakke rondra, mense wat bokse vol, geldelik niks-werd, sentimentele ‘goed’ met hulle saamdra. Daar is mense wat tweedehandse baadjies om hulle lywe vou, mense wat ‘n halwe bottel vodka ‘nurse’ asof dit hulle belangrikste besitting is, mense wat huise bou met hulle talente, mense wat boeke versamel.

 

Daar is ‘n bedelaar op die hoek, naby Dischem. Sy gesig is verkreukel van te veel ‘spirits’ en wie weet wat nog. Hy het net een arm, wel eintlik het hy een en ‘n halwe arm, tot by die elmboog. Sommige dae sit hy net op die middelmannetjie, kop tussen sy knieë, ‘n amperse moedeloosheid te bespeur. Hierdie dae is min alhoewel, want meeste van die tyd steier hy oor die pad, intimideer die publiek en met ‘n wildheid in sy oë, skree hy onverstaanbare sinne uit. Blykbaar raak hy met tye nogal aggressief ook, maar dit het ek gelukkig nog nie beleef nie. Die kinders is bang vir hom en ek probeer daardie hoek vermy. Manlief noem gereeld oor hoe hy nie kan verstaan dat die man dag-in-en-dag-uit getrou daar rondhang nie. Waar kry hy geld vir die ‘long tom’ bier wat gereeld in sy hand is? Waar slaap hy? Hy het skoene aan sy voete, klere aan sy lyf. Selfs dié arme dremmel het nie ‘niks’ nie. Terwyl hy oor die pad zig-zag, sit sy vrou op die sypaadjie voor die mediese sentrum, langs die groot kragboks. Omring deur plastiese sakke wat op die oog af vol klere of komberse is. Haar gesig is altyd pofferig en haar oë ook wild. Ons het een Sondagoggend op hulle afgekom waar hulle handgemeen geraak het, aan’t baklei oor ‘n bottel iets wat sy duidelik nie daardie dag wou deel nie. Maar natuurlik in hulle benewelde toestand, het hulle verby mekaar geslaan en gestamp, al slingerend en skellend. Sy het ook nie ‘niks’ nie.

 

Wanneer jy glo jy net ‘niks’ meer om voor te lewe nie, is dit natuurlik nie waar nie. Almal van ons het ‘iets’ om voor te lewe, hoe klein dit ook al mag wees. Maar depressie, die swart hond, jappiegriep, ‘n versmorende kombers, die donker wolk…. mense wat hierdeur gaan, sien nie daardie ‘iets’ raak nie.

 

Soveel as wat ek my lewe leef sonder hulle, is hulle tog deel van my lewensboek. Dis die vrou wat geboorte gegee het aan my man en dis die man wat, deur sy dade, maak dat my man vandag is wie hy is. Die teenoorgestelde van wat sy pa was en is. Dis amper asof Manlief se missie in die lewe is om alles te wees wat sy pa nooit was nie, om uit te styg bo daardie persoon, om aanhoudend te streef om beter te wees, om aan die wêreld te bewys dat die ooreenkomste eindig by ‘n naam op ‘n geboortesertifikaat. Dit was sy pa se 70ste verjaarsdag gister, ‘n verjaarsdag wat ‘n groot mylpaal voorstel, maar ‘n verjaarsdag wat ongesiens en ongevier, verby gegaan het. Sonder ‘fuss’, sonder partytjie, sonder ‘n duur horlosie of ‘n familiefoto, sonder die skiet van ’n vonkelwyn prop, sonder toesprake oor sy lewe, sonder ‘streamers’ en balonne. Sy enigste besoeker was sy jongste seun, wat gaan kuier het met winkelgekoopte ‘custard slices’. Kleinboet het aan Manlief genoem dat sy ouers se ‘levy’ hierdie maand by R3,000 gaan draai het, so vir ‘n spesiale geskenk, was daar nie ‘n ekstra geldjie nie.

“As hy tien woorde gepraat het, was dit baie”,

het Kleinboet in ongeloof oor die foon vertel.   In my geestesoog kon ek die ou man voor my sien. Sittend-lêend op die bank met sy moëe navy blou sweetpak broek aan, te groot vir sy lyf. Sy voel-vir-my jammer grys-blou oë, sy hangende skouers, sy een hand wat gereeld oor sy oë of oor sy bles vryf; ‘n sug. Manlief het gereken dat die ou man ten minste kon probeer vriendelik wees, want dit sou die enigste besoeker gewees het wat hy daardie winters Sondag sou kry.

“Hy het f***ol!”,

het Kleinboet frustreerd uitgebasuin.

“Eintlik het hy nie eers meer sy kinders nie.”

want Kleinboet bel of maak ‘n draai oor hy voel dis sy plig, nie oor hy ‘n behoefte het aan sy ouers se geselskap nie, en ek reken hulle weet dit is ‘jammerlike’ kuiers.

 

Na die tyd het ek en Manlief oor die hele situasie gesels, en regtelik, glo Manlief dat sy pa depressief is. Maar ten minste vir daardie paar minute kon moeite doen het om met sy kind te gesels en te probeer maak of hy bly is.

“Depressiewe mense sien dit nie so. Om hulle is dit net donker. Emosies afgestomp.”

het ek slim, en uit persoonlike ondervinding, gesê.

“So ja, ek stem saam dat hy depressief is, wie sal in sy omstandighede nie wees nie? Maar dit kom weer daarop neer dat hy nie verantwoordelikheid vat vir sy dade nie, hy blameer nog steeds ander mense vir wat fout gaan in sy lewe. Hy sit nie vandag daar en dink hoe hy brûe kan bou met die mense wat na aan hom is nie. Hy sit daar en dink oor hoe aaklig mense met hom is en wat hulle aan hom doen om sy lewe so mismoedig te maak.”

Dis ‘n afgestompte en hardkoppige sosiopaat wat dag in en dag uit net daar sit en wroeg. En dis dr Jax (my slim terapeut) wat observeer het hy is ‘n sosiopaat, nie Dr Google nie.

 

Maar hy is ‘actually damn’ bevoorreg! Want hy het ook nie ‘niks’ nie. Hy het ‘n dak oor sy kop, bokse vol sentimentele goed, ‘n ou familie Bybel, ‘n windbuks, skyfie foto’s, boeke, ‘n televisie, DVD’s, warm komberse teen die Gauteng winter.

 

En ‘n vrou wat haar kinders en kleinkinders opsy skuif, om by hom te wees.

Advertisements

3 thoughts on “Dag 2441-2443 – Niks is niks

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s