Dag 2482-2486 – Lente, begrafnismakietie, “afro’s” en onthou

22 Makiete en onthou

Die week is nog maar ‘n vulletjie, maar daar het reeds so baie gebeur.

 

Die 1ste September is die offisiële arrivering van lente, maar, hier in Johannesburg, gaan draai die kwik alweer vanmiddag by 28°C. Watwou lente, hallo somer! Gister het ek die kinders se kaste uitgesorteer. Winter uit, somer in. Uit een boks het ek maklik agt sakke van Engel (11) se kleiner somersklere uitgehaal. Dit was soos Kersfees vir my en Japsnoet (7)! Sy het haar verwonder aan al die “nuwe” t-hemde, groot meisie rokke met spaghetti bandjies en net-rompe van Naartjie. Vir my was dit soos terug verlede toe, toe Engel nog klein genoeg was om in daardie hope klere in te pas. Daardie agt jarige dogtertjie met haar krulhare en wipneusie, wat my soms teen die mure uitgedryf het, maar ook my klein hart laat vermurwe het. Waarheen vlieg die tyd dan heen?

 

Gepraat van die verlede – dit sou my Ouma se 95ste verjaarsdag gewees het gister. Ja, ek onthou hoe siek sy was hier teen die einde, en hoe gefrustreerd, want sy wou net huis toe. Sy is oorlede in ‘n ICU bed, omring deur alles wat klinies en vreemd was. Dit was aaklig om te aanskou en ons het almal so magteloos gevoel. Maar gelukkig is dit nie daardie paar dae wat my herinneringe aan haar oorheers nie, want daar is net te veel mooi om eerder te onthou. Ek het al voorheen geskryf hoe sy sou sê haar gunsteling seisoen is lente, en haar gunsteling kleur was groen. Sy het gehou van die idee van alles wat begin groei en lewe en kleur kry.  Hierdie tyd van die jaar was hulle tuin ootrek van blomme, dis die pronkertjies wat ek spesiefiek onthou. En wanneer ek die soet pronkertjie geur in die lug ruik, sien ek haar voor my. ‘n Jare lange kennis van my ma is verlede week oorlede. Toe my ouers navraag doen oor ‘n begrafnis datum, het haar man gesê sy vrou wou nie ‘n begrafnis hê nie. Haar wens was dat sy veras moes word en dat daar gekuier word om braaivleis vure. ‘n Viering van iemand se lewe, eerder as ‘n wening oor haar dood. Ek hou nogal van daardie idee….

 

Dan is daar natuurlik die onlangse herrie wat homself afspeel by ‘n meisieskool in Pretoria. (http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pretoria-skool-moet-gedragskode-herskryf-na-rasseherrie/) My eerste reaksie was een van rollende oë en “wat-nou-alweer”.  Reëls is daar vir ‘n goeie rede. Daar is reëls oor die hele wêreld. Padreëls, werk reëls, godsdienstige reëls, ongeskrewe reëls.  As reëls oor hoe meisies hulle hare mag en nie mag dra nie, verontagsaam word, wat is volgende? Korter rokkies? Alkohol wat toelaatbaar moet wees vir oor 18’s? ‘n Snoepie wat sigarette verkoop? Speel ek nou “devils’ advocate” hier….. Maar toe gaan delf ek weer in die verlede en onthou my eie skooldae in Afrikaanse klein-dorpie skole. Sommige van ons rigiede reëls het mens eintlik meer belaglik laat lyk as aanvaarbaar netjies. ‘n Kuif wat 2cm bo die wenkbroue gelê het, het ‘n seunsmaat van my na so ‘n “nerd” laat lyk.  Dit het alewig gelyk asof hy sommer self in sy hare ingeklim het met sy ma se kombuis skêr. Raak jou bob haarstyl jou kraag, moet dit opgebind word. Onthou julle nog daardie silwer knippies wat ons dan oral in ons kop moes vasdruk net om al die uitval hare bymekaar te hou? Ons het gespot dat jy nie naby ‘n magneet moes kom met al daardie knippies in jou kop nie! My laerskool se winter uniform was ‘n kapoen, polonek hemp van “jeuk materiaal”. (Was dit krimpelene?) My droë, ekseem nekvel was rou gekrap aan die einde van elke skooldag. “Anyway”, ek sit nog op die draad oor hierdie een, want ek kan albei kante sien en verstaan.

 

So sit ek vroëer hierdie maand en introspeksie doen, en besef dat my lewe, hierdie tyd van die jaar, so met die seisoens verandering, altyd ‘n bietjie onderstebo voel. Ek bevraagteken die persoon wat ek is, die dinge wat ek doen of nie doen nie. Maar terselfdertyd kan ek ook nie vir myself sê wat dit is wat ek wél wíl doen en bereik nie. Ek sien hoe vroue om my groot salaris tjeks huis toe bring, nuwe motors ry, motiverings praatjies gee, ander mense se kinders opvoed, vakansie huise besit, lewens veranderinge “charity” werk doen, ekstra wiskunde klasse gee. Dinge doen! En die grootste fout wat ek maak, is om myself alewig met hierdie mense te vergelyk, myself opweeg, myself te lig vind. Dis “stupid”, ek weet, maar dis my realiteit.

 

Nou dwaal ek af. Oor twee dae is dit heerlike lente, die winter’s verby! Ons as mense gaan ook deur ons eie seisoenale veranderings.

 

En lente bring altyd hoop.

Advertisements

Dag 2481 – Oops Margaret…..

21-Margaret

Sosiale media het laat gistermiddag al hieroor begin gons. Eers was dit die gons, toe die skande, toe die grappies…..

 

Margaret, ‘n vrou van Noordwes, het die stil dorpie, Schweizer-Reneke behoorlik op die “map” gesit.

 

Sy het ‘n foto van haar, urhm, sarie (noemfie, hooha, lala, koekie), aan gestuur op whatsapp. Vir ‘n groep hokkie ma’s, in plaas van vir haar man…… “Can this get ANY worse?” sou jy wonder? Vrek ja. Die foto het soos ‘n wilde bosvuur, aangehelp deur ‘n stormsterkte wind, oor sosiale media versprei. Regoor Suid-Afrika. En heel waarskynlik, teen hierdie tyd, al ‘n paar grense en oseane ook oorgesteek. In ware Suid-Afrikaanse styl, want ons probeer mos maar altyd ‘n tragiese of stresvolle aksie omtower in iets snaaks, het die grappies die rondte begin doen. Prentjies van verkeershope met die stelling – “Traffic towards Schweizer Reneke”, ‘n ander een van ‘n man voor sy rekenaar – “My man is versot op sport, hy is heel aand op die hokkie groep”. ‘n Baie skerp inskrywing op Twitter sê – “Say what you will, but Margaret has done more for SA hockey than fikilembalula

 

Kyk, ek weet nie hóé enige iemand so iets oorleef nie. Veral nie in ‘n klein dorpie waar meeste mense mekaar ken nie. Gooi boonop tiener kinders met selfone in die mengbak, en jy sit met ‘n groot brousel.

 

Ek reken ons moet dankie sê vir die arme Margaret. Sy het ons meer bewus gemaak van die “gevare” van sosiale media. En laat dit vir ons ‘n les wees om te “double check” voor ons sommer net ‘n boodskap of foto stuur. Dis bitter maklik vir vinnige vingers om verstrengeld te raak.

 

Kom ons hoop Schweizer Reneke se Pick & Pay het ‘n “online shopping” opsie. Andersins moet die stomme vrou maar net seker maak sy is aangetrek as sy winkels toe gaan, dan sal niemand haar herken nie…..

 

OK, genoeg gelag vir een dag. Dis ‘n pragtige lente dag in Johannesburg en ek gaan vanmiddag kyk hoe Engel (11) hokkie speel.

21 Margaret2

Dag 2444–2480 – Fin, Fim, Ende, Finis, End, Einde

17 Oscar

My blog sal nie kompleet wees sonder ‘n laaste woord oor Oscar Pistorius nie.

 

Die gebeure van Valentynsdag 2013 het so deel van my lewe geword soos facebook, 702 gesprekke, James Patterson boeke, foto’s neem, probeer dieët. Jip, ek was een van daardie mense wat die saak tot vervelens toe bespreek het en dit op Twitter gevolg het. Dit was interessant om die tv prokureurs se menings en verduidelikings te hoor na die tyd, en ek moet erken, ek het “crime scene” foto’s gaan google. Ek wou alles verstaan. Ek wou weet of hy daardie aand arrogant was en op Reeva geskiet het, en of dit net bloot ‘n aaklige ongeluk was.

 

Die ITV onderhoud wat Oscar toegestaan het, was vir my ‘n interessante wending in die Oscar verhaal. Die tydsberekening nogal goed beplan ook – so net voor sy vonnis. My mening is dat hy die stewige bedraggie wat hy vir hierdie eksklusiewe onderhoud gekry het, direk in sy regsspan se rekening inbetaal het. ‘Because rumour has it that Oscar is financially ruined.’ As dit pap reën…. Net hy sal weet wat sy doel was met daardie onderhoud. Het dit sy beeld goed of sleg gedoen? Na die tyd het joernaliste getweet oor hoe dit baie duidelik was dat daar streng grense was oor wat gevra en nie gevra mag geword het nie. Dat die Britse joernalis meer ondersoekende en leiende vrae kon gevra het. Oscar se span het heel waarskynlik ‘n baie lang lys van moets en moenies gegee. Ek dink meeste van ons het naïef verwag/gehoop dit gaan baie meer soos ‘n Oprah-Winfrey-Lance-Armstrong onderhoud wees, waar moeilike en ongemaklike vrae gevra is. ( https://youtu.be/2jtDH-10m2s ) Maar dit was meer ‘n ‘arme-ek’ vertelling wat goed geredigeer is. #MyMening

 

Op vonnisdag was ek vasgenael voor die tv. Ek wou Regter Masipa se besluit eerstehands ondervind en ek wou gesigsuitdrukkings sien. Nix, wat regdeur die Oscar saak met my was, het eventueel opgegee en 8km verder ook haar televisie stel oorgeskakel.

“Jy kan my nie nou ‘drop’ nie”

het ek haar laat weet. Hierdie was die laaste laaste hekkie. Die laaste hoofstuk van ‘n baie lang boek. 7 Julie 2016 is een van die toekoms se grootste geskiedenis stories. Regsstudente gaan nog vir baie jare hieroor leer, dit ontleed, daaroor redekawel, elke detail uitrafel en probeer terugstik.

 

Ses jaar. Ek glo sy regspan het hom voorberei op tronkstraf, want hy het nogal kalm voorgekom. Dit was nie die emosionele, opgooiende, verontregte Oscar van die aanvanklike verhoor nie.   Dit was ‘n Oscar wat geweet het wat kom, en heel waarskynlik die ergste verwag het.

 

Net wanneer ek gedink het ek gaan nie sommer die naam Oscar Pistorius op Beyers Naude weg se lamppale lees nie, is dit toe wel daar. En nou is hy op “suicide watch”, maar sy familie dring daarop aan dat hy nie selfmoord probeer pleeg nie; hy het geval. Hierdie is ‘n boek vol raaisels.

 

Nou ja, fluit-fluit my Oscar storie is uit.  (Vir nou….)