Dag 2482-2486 – Lente, begrafnismakietie, “afro’s” en onthou

22 Makiete en onthou

Die week is nog maar ‘n vulletjie, maar daar het reeds so baie gebeur.

 

Die 1ste September is die offisiële arrivering van lente, maar, hier in Johannesburg, gaan draai die kwik alweer vanmiddag by 28°C. Watwou lente, hallo somer! Gister het ek die kinders se kaste uitgesorteer. Winter uit, somer in. Uit een boks het ek maklik agt sakke van Engel (11) se kleiner somersklere uitgehaal. Dit was soos Kersfees vir my en Japsnoet (7)! Sy het haar verwonder aan al die “nuwe” t-hemde, groot meisie rokke met spaghetti bandjies en net-rompe van Naartjie. Vir my was dit soos terug verlede toe, toe Engel nog klein genoeg was om in daardie hope klere in te pas. Daardie agt jarige dogtertjie met haar krulhare en wipneusie, wat my soms teen die mure uitgedryf het, maar ook my klein hart laat vermurwe het. Waarheen vlieg die tyd dan heen?

 

Gepraat van die verlede – dit sou my Ouma se 95ste verjaarsdag gewees het gister. Ja, ek onthou hoe siek sy was hier teen die einde, en hoe gefrustreerd, want sy wou net huis toe. Sy is oorlede in ‘n ICU bed, omring deur alles wat klinies en vreemd was. Dit was aaklig om te aanskou en ons het almal so magteloos gevoel. Maar gelukkig is dit nie daardie paar dae wat my herinneringe aan haar oorheers nie, want daar is net te veel mooi om eerder te onthou. Ek het al voorheen geskryf hoe sy sou sê haar gunsteling seisoen is lente, en haar gunsteling kleur was groen. Sy het gehou van die idee van alles wat begin groei en lewe en kleur kry.  Hierdie tyd van die jaar was hulle tuin ootrek van blomme, dis die pronkertjies wat ek spesiefiek onthou. En wanneer ek die soet pronkertjie geur in die lug ruik, sien ek haar voor my. ‘n Jare lange kennis van my ma is verlede week oorlede. Toe my ouers navraag doen oor ‘n begrafnis datum, het haar man gesê sy vrou wou nie ‘n begrafnis hê nie. Haar wens was dat sy veras moes word en dat daar gekuier word om braaivleis vure. ‘n Viering van iemand se lewe, eerder as ‘n wening oor haar dood. Ek hou nogal van daardie idee….

 

Dan is daar natuurlik die onlangse herrie wat homself afspeel by ‘n meisieskool in Pretoria. (http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pretoria-skool-moet-gedragskode-herskryf-na-rasseherrie/) My eerste reaksie was een van rollende oë en “wat-nou-alweer”.  Reëls is daar vir ‘n goeie rede. Daar is reëls oor die hele wêreld. Padreëls, werk reëls, godsdienstige reëls, ongeskrewe reëls.  As reëls oor hoe meisies hulle hare mag en nie mag dra nie, verontagsaam word, wat is volgende? Korter rokkies? Alkohol wat toelaatbaar moet wees vir oor 18’s? ‘n Snoepie wat sigarette verkoop? Speel ek nou “devils’ advocate” hier….. Maar toe gaan delf ek weer in die verlede en onthou my eie skooldae in Afrikaanse klein-dorpie skole. Sommige van ons rigiede reëls het mens eintlik meer belaglik laat lyk as aanvaarbaar netjies. ‘n Kuif wat 2cm bo die wenkbroue gelê het, het ‘n seunsmaat van my na so ‘n “nerd” laat lyk.  Dit het alewig gelyk asof hy sommer self in sy hare ingeklim het met sy ma se kombuis skêr. Raak jou bob haarstyl jou kraag, moet dit opgebind word. Onthou julle nog daardie silwer knippies wat ons dan oral in ons kop moes vasdruk net om al die uitval hare bymekaar te hou? Ons het gespot dat jy nie naby ‘n magneet moes kom met al daardie knippies in jou kop nie! My laerskool se winter uniform was ‘n kapoen, polonek hemp van “jeuk materiaal”. (Was dit krimpelene?) My droë, ekseem nekvel was rou gekrap aan die einde van elke skooldag. “Anyway”, ek sit nog op die draad oor hierdie een, want ek kan albei kante sien en verstaan.

 

So sit ek vroëer hierdie maand en introspeksie doen, en besef dat my lewe, hierdie tyd van die jaar, so met die seisoens verandering, altyd ‘n bietjie onderstebo voel. Ek bevraagteken die persoon wat ek is, die dinge wat ek doen of nie doen nie. Maar terselfdertyd kan ek ook nie vir myself sê wat dit is wat ek wél wíl doen en bereik nie. Ek sien hoe vroue om my groot salaris tjeks huis toe bring, nuwe motors ry, motiverings praatjies gee, ander mense se kinders opvoed, vakansie huise besit, lewens veranderinge “charity” werk doen, ekstra wiskunde klasse gee. Dinge doen! En die grootste fout wat ek maak, is om myself alewig met hierdie mense te vergelyk, myself opweeg, myself te lig vind. Dis “stupid”, ek weet, maar dis my realiteit.

 

Nou dwaal ek af. Oor twee dae is dit heerlike lente, die winter’s verby! Ons as mense gaan ook deur ons eie seisoenale veranderings.

 

En lente bring altyd hoop.

Advertisements

6 thoughts on “Dag 2482-2486 – Lente, begrafnismakietie, “afro’s” en onthou

  1. My bui verander ook so saam met die seisoen. Verlede jaar was ons Lentedag skrikwekkend koud; hierdie jaar gaan dit hopelik beter wees (vandag 32°C – “real feel 36”) en ons het ‘n fantastiese paar lekker dae agter die rug. Snaaks, warm of koud, ek doen ook altyd introspeksie op lentedag om te bepaal hoe my lewe verloop het vir die vorige jaar. Beste wense vir jou nuwe jaar ook.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s