Dag 2486-2511 September in woorde en prentjies

In Johannesburg, het ons reeds hierdie maand, ‘n paar seisoene beleef.

 

Lente het binne ure verander in somer en my moulose rokke het vorentoe geskuif in my kas. Nie lank daarna, het die Augustus winde ‘n paar aande gou ‘n laaste draai kom gooi, net om die sade en grasse lekker op te lig om ons hooikoors goed aan te wakker. Verlede naweek, terwyl daar sneeu op bergtoppe in Kwazulu Natal gaan lê het, het Johannesburg ‘n koue front beleef. En kon ek darem vir ou laas my gunsteling bruin “boots” aantrek en ‘n serp om my nek vou. Daar was  ‘n paar druppels reën ook wat ons droë tuin kon voed.

 

Verandering is nie altyd maklik nie en verloop ook nie noodwendig seepglad nie. Dit bring wel vernuwing.   September het gekom met sy eie lysie van uitdagings. Manlief is bevorder by die werk wat ‘n groot prestasie is en ons laat besef het hoe geseënd ons eintlik is. Dit gaan ongelukkig gepaard met lang werksure en ekstra stres en meer balle wat in die lug gehou moet word. Maar hy floreer. En ek kan fokus op die dinge wat ons nodig het as ‘n gesin, eerder as om my dood te bekommer oor ‘n huis wat nie wil verkoop nie of waar mens kan sny aan uitgawes. Natuurlik kry sekere dae my onder, en ek het gereeld my tye waar ek wonder “is this what my life is all about”. Maar dan gaan fliek ek saam met Nix, of kry ‘n nuwe stokperdjie; wat die donker wolke wegdryf wat so op my skouers wil kom rus. Ek kry dit nogal reg om nie toe te laat dat hulle my vir te lank versmoor nie.

 

Na weke se baklei oor oefening toe gaan, het ek, met ‘n effe swaar hart, besluit om Engel (11) se span swem te staak. Sy was so amper verlig hieroor, en het glad nie teengestribbel nie. Net gevra of sy en haar pa nog oor naweke by die gym kan gaan swem en of sy nog vir die skool kan swem. Natuurlik is ek verlig dat ons middae effe rustiger gaan wees, maar dit kom met sy eie uitdagings. Tegnologie is wonderlik, maar terselfdertyd ‘n euwel. Vat skerms weg van die kinders af, en hulle weet ewe skielik nie wat om met hulleself aan te vang nie. Japsnoet (7) is die ergste, want sy kla aanhoudend hoe verveeld sy is en min van my voorstelle vul haar met opwinding. So het ek dus ‘n nuwe doelwit gekry om op te fokus – om my kinders te leer speel sonder skerms. As’t ware “back to basics”.

 

Met die ure wat so effe weghol van my, het ek ook weer meer tydskrifte bymekaar gemaak as wat ek kan lees. So ek is baie dankbaar vir ‘n vakansie wat voorlê. Ek het dit darem reggekry om hierdie maand Sam Cowen se boek, From whiskey to water, klaar te lees. En besef hoe naïef ek is oor sekere dinge in die lewe, onder andere oor alkoholisme en verslawing. Sy het gehou van die persoon wie sy was toe sy gedrink het, die alkohol wat onophoudelik deur haar are gevloei het, het haar selfvertroue gegee.                                       “… drinking made me feel part of the pack.” “I felt safer with a drink in me.”                                     Sy was trots op die feit dat daar tye was wat haar vriendekring se drank rekening die hoogste een van die dag was. Sy het gereken sy is verantwoordelik deur in ‘n parkeerarea haar roes af te slaap, eerder as om onder die invloed huis toe te bestuur. En daar was te veel tye waar sy ure van haar lewe “verloor” het omdat sy net nie kan onthou wat gebeur het nie.

 

Verder was September tot dusver gevul met universiteite wat gesluit is a.g.v. geboue wat verwoes is en studente en polisie wat mekaar met klippe bestook. Die stof oor die Gupta’s wil maar net nie gaan lê nie (wat positief is) en ons geliefde Desmond Tutu is in en uit die hospitaal.  Die realiteit dat een van my goeie vriendinne, oor twee maande terugtrek Engeland toe, is iets waaraan ek nie te veel dink nie. Dit sou een of ander tyd moes gebeur, maar dit maak dit nie noodwendig makliker nie. Engel het op kamp gegaan vir vier dae. Met haar terugkoms het ek besef hoe “groot” sy geword het, hoe minder afhanklik sy van ons is, maar ook dat dáár ‘n heel anderse lys van uitdagings is vir haar.

 

Ons het Erfenisdag gevier met slaai en brood en groot stukke vleis. Ek kon met my vingers rond grou in moddergrond – my nuutste projek is om vetplante te kweek.

 

Ons leef eintlik nog baie goed in Afrika.