Dag 2528-2543 – Jaag na alles

22-hanelie

Ek het haar net vir twee jaar geken. St 8 en St 9 (graad 10 en 11)

 

En ek was heimlik jaloers op haar. Want sy was daardie meisie soos wie ons almal eintlik wou wees. Sy het ‘n erekleure skoolbaadjie gedra, vol lapelle en balkies. By ons skool was dit redelik opvallend, want waar meeste van ons strepe gedra het, was die erekleure baadjie ‘n donker blou een, met ‘n breë, geel omboorsel. Sy het akademies uitgeblink en baie aktiwiteite deelgeneem – van redenaars kompetisies tot koor sing tot hokkie speel. Sy het hoofrolle gekry in die skool revues en sy was redelik populêr onder beide seuns en meisies.

 

Die oggend van die 8ste Oktober stuur Hanna vir my ‘n whatsapp.

“Familie is gebel om hospitaal toe te gaan, die dokter sê Hanelie is moeg baklei.”

En ‘n paar minute later….

“Sy is weg”,

met ‘n prentjie van ‘n tranerige smiley mannetjie.

Weg, wat bedoel jy met weg? My logika het vir my gesê presies wat dit beteken. Weg. Maar dit was asof ek dit net nie kon verstaan nie. Sy was dan in die hospitaal, onder bekwame dokters. Sy het jong kinders, sy mag nie net “weg” wees nie.

“Ai tog – ek is so geskok. Ek het nooit besef dis so erg nie.”,

het ek twee minute later teruggeantwoord. Hanelie het oor haar getrekte strepie in die sand getree.

 

In eenvoudige taal – Hanelie het bloedvergiftiging gekry. Niemand weet waar of hoe sy dit gekry het nie. Selfs Dr Google was maar vaag, en wyd. En boodskappe van die familie was gemeng en kon op verskillende manier geïnterpreteer word. “Daar was ‘n traan in haar oog”,

het haar ma blykbaar op ‘n stadium gepos. Van blydskap, hartseer, of was haar oë net droog? Niemand sal regtig weet nie, want sy was onder sterk verdowing. Wie weet of sy bewus was van wat om haar aan die gang was. Sy was op vakansie en sy het net gekla van ‘n vreeslike seer keel. Die volgende dag was sy in die Intensiewe sorg eenheid op ‘n ventilator en ‘n dag of twee later op ‘n dialise masjien. Agt dae later was dit verby.

 

Ek het Hanelie nie geken as ‘n volwasse vrou nie. Wel ‘n bietjie kontak gehad op facebook, maar ek sou dit nie klassifiseer as ‘n vriendskap nie. Hanna het haar wel goed geken, sy het van die Kaap af gevlieg en ons is Emalahleni toe vir die gedenkdiens.

My hart was seer vir haar vriendinne. Want ek weet hoe kosbaar my vriendinne vir my is en watter groot rol hulle speel in my alledaagse bestaan. My vriendinne is deel van my soos die vetrolletjies aan my middel en die fyn plooitjies om my oë.

My hart was seer vir haar suster. Die een mens met wie jy al baklei vandat jy jou geheue het, maar met wie jy altyd opmaak. Die persoon wat, baie meer is soos jy as wat jy besef, en vica versa.

My hart was seer vir haar man en twee seuns. ‘n Man wat nou alleen die mas moet opkom met twee jong seuns, terwyl hy vir lank nog gaan rou oor sy vrou. Die blonde tiener het in sy pa se arms gesit, styf teenaan hom. Die jonger seun het nie emosie gewys nie, inteendeel. Voor kerk het hy buite in die tuin bal geskop. Tydens die diens, het hy opgetree soos ‘n tipiese 10jarige seun wat geforseer is om stil te sit in ‘n vervelige kerkdiens, en onskuldig die tyd verwyl deur saam sy maats grappies te maak en agter oop hande te giggel. Sy pa se suster het hom gereeld met groot oë aangekyk, duidelik nie beindruk met sy gedrag nie.

My hart was seer vir haar ma. Geen ma moet ‘n kind begrawe nie. Die tannie het oud en afgemat gelyk – gekleë in swart van kop tot tone. In diep rou. Vir haar, sal die wêreld nooit weer dieselfde wees nie.

 

Die dood laat mens anders na die lewe kyk. Jy wonder hoe jy sou staande gebly het as jy in daardie voorste kerkbank gesit het. Jy besef hoe jy simpel goed najaag, hoe jy jou tyd soms mors op nuttelose dinge, hoe jy stres oor iets wat oor ‘n week nie eers meer ‘n gedagte is nie. Jy tel jou eie seëninge en besef hoeveel jy eintlik het om voor dankbaar te wees. Jy maak beloftes aan jouself om jou ma meer gereeld te bel, om meer kwaliteit tyd saam jou kinders te spandeer, om meer belangstellend na jou man te luister wanneer hy praat oor sy dag by die werk. Maar ‘n paar dae later is jou goeie voornemens ‘n vergete, opgefrommelde stukkie nota papier wat iewers in ‘n laai lê. Vergete. “Because life goes on”..

 

En as ek my weer kan kry, jaag ek na wind en stres oor dinge wat volgende week nie eers meer ‘n gedagte gaan wees nie.

Dag 2512-2527 – Verandering, vernuwing, verskuiwing

1-21-jakaranda

Die Jakaranda blommetjies het begin om ‘n pers kombers oor ons buurt te gooi. Dit is Oktober…

 

Soos wat die gordyn al hoe laer sak oor 2016, raak ek weer bewus van hoe vinnig tyd verbyvlieg. En hoe ek, ongelukkig, sommige tye so verby wens omdat ek uitsien na ‘n naweek, of ‘n spesifieke kuier, of ‘n vakansie.  “Live in the now”, is een van die sjokolade boks gesegdes. En ek wens dit was so maklik om te doen soos wat dit is om daardie vier woorde te sê. So met een van my introspeksie oomblikke, het ek besef dat ek sukkel om die verlede te laat gaan. Die goed, en ongelukkig die sleg ook. Ek wil desperaatlik vashou aan goeie tye, dit oor en oor laat afspeel in my gedagtes. Met al my sintuie wil ek elke oomblik weer beleef. Terselfdertyd het ek besef dat hierdie vashou aan dit wat was, my soms weerhou om in die “nou” te leef en om nuwe herinneringe te skep. En ek besef dat die idee nie is om daardie goeie tye te probeer naboots nie, maar om dit te koester vir wat dit is/was, en terselfdertyd op nuwe avonture en ontdekkingsreise te gaan.

 

Ek mis ons ou balletgroep ma’s, en ja soms, selfs vir Beste-Este wat ons telkemale met iets nuuts geskok het. Ek mis daardie middae op die kerktrappies waar ons gekla het, gelag het, raad uitgedeel het, geluister het, die nuus bespreek het. Nou, met Japsnoet (7) wat ballet, is daar ‘n nuwe groep ma’s wat op die kerktrappe sit en gesels, maar daar is nie dieselfde kameraadskap nie. En dit laat ‘n leemte in my, want ek kon dit nog nie weer vervang nie. Ek mis die lekker dinge en tye van Engeland, soveel so, dat ek die laaste paar Vrydae middae, op die internet, na Heart FM geluister het. (‘n Britse radio stasie) En dit voer my terug na “warm and fuzzy moments”. Ek verlang na die Vrydae middae wat ek en Yollie en die kinders na skool sou kuier en swem. Pizza’s en wyn en lag dat ons huil. Ek mis ons 20’s waar ek en Manlief Vrydagaande sou gaan fliek, of dans of kuier saam vriende. Nou is ons elke Vrydagaand so gedaan na ons vyf-dag week dat hy nie eers die einde van Binneland sien nie. En, nag-uil ek, sukkel deesdae om te lees tot ten minste tienuur in die aand!

 

Ek verlang na die tye toe Engel (11) en Japsnoet (7) net begin praat het, toe ek bordkryt prentjies met hulle geteken het op die plaveisel, toe hulle met verfhandjies skoenlappers op papier gedruk het, toe ek hulle nog in my arms kon dra bed toe. Toe hulle lewens so eenvoudig was, sonder die stres van somme leer, toetse skryf, boelies afweer, ballet eksamens dans. Waar elke klein dingetjie ‘n groot avontuur was – sywurms vertroetel, blomme pluk en in hulle hare druk, op skopfietse ry, teepartytjies hou, ‘n potte orkes maak, dans op Barney en Tannie Carike CD’s. So swaar as wat daardie tye soms was, is ek so bly dat ek wel daardie tye met hulle gehad het, en nie in ‘n kantoor iewers gesit het en wonder het of hulle darem gelukkig is by die kleuterskool nie.

 

Dis vir my hartseer dat vriendskappe, soos botteltjies aarbei konfyt, ook vervaldatums het. Daar is vriendskappe wat ek mis, nie net omdat ek die vriendin mis nie, maar ook ‘n bietjie omdat ek die persoon mis wat ek in daardie tyd was toe ons vriendskap geblom het. Hetsy dit was op skool, familie vriende, op universiteit, my 20’s, my Britse vriendinne, my 30’s. Maar dit was vriendskappe wat in daardie tye belangrik was, nodig was, en vir elkeen is ek dankbaar. Gelukkig is daar ‘n paar vriendskappe wat dit gemaak het, so deur die dekades deur en duisende myle ver. Daardie klein groepie vriendinne saam wie ek op die outehuis se stoep gaan sit en lag totdat jy net valstande sien trek. Nie myne nie, ek gaan natuurlik nog my eie hê, “by the way”…. *grinnik*.

 

Wanneer mense aanbeweeg, is dit so bietjie van ‘n “wake-up call” vir my. Om nie so gemaklik te raak in my huidige vriendskappe, dat ek ‘n nuwe vriendskap by my laat verbygaan nie. Daar is ‘n paar mense in my lewe wat binnekort gaan aanbeweeg  – ‘n ander land of dorp of selfs net om hulle kinders na ‘n ander skool toe te stuur.  Daardie vriendskappe sal nie noodwendig eindig nie, maar dit sal ‘n ander dimensie aanneem – whatsapp boodskappe in plaas van kuier na skool, facebook in plaas van gereelde whatsapp geselsies.

 

So, as jy ‘n nuwe vriendin soek, soos ek, hou maar jou oë oop. Dalk vind ons mekaar êrens in die mallemeule van die lewe.