The why

blue-banner

https://qandqsite.wordpress.com/2017/01/25/the-why/

Advertisements

Dag 2455-2621 – Oop bladsye

1-20161226_181614

En toe word dit weer sulke tyd…..

 

2016 was op sy laaste bene. Die son het asemrowend mooi gesak oor die Atlantiese oseaan en ‘n koelerige windjie het ons genoop om ons skouers toe te gooi. Braaivleis en paptert en J.C. le Roux, wat ‘n manier om 2016 vaarwel te roep! Ek het reeds vroeg Desember al die kopskuif gemaak dat 2017 ‘n goeie en voorspoedige en positiewe jaar gaan wees. Dit kan nie altyd net goed gaan nie, dis nou maar die realiteit waarmee die lewe ons gooi. Maar dis of 2016 ‘n besondere harde en uitdagende jaar vir meeste van ons was. Ons was maar net te bly om die einde van hom te sien!

 

Nuwejaars voorneme – jy wil hulle nie maak nie, maar dit voel so half verkeerd om nie ten minste één te hê nie.  Manlief wil weer terugklim op die fiets, Kleinsus wil meer van ‘n balans in haar lewe hê, Engel (11) het in haar dagboek geskryf sy wil 85% vir Engels kry en gewig verloor (eish), dié een wil meer reis en daardie een wil spaar vir ‘n motorfiets. Sommige mense se doelwitte is heel eenvoudig, soos om ‘n groentetuin te kweek of meer boeke te lees. Dan is daar dié wat meer gekompliseerd is en harde werk, selfs bloed en sweet, gaan verg. Soos om Kilimanjaro te gaan klim of weer te begin swot. Myne? Ek wil leer om reguit, en mooi, te stik, sodat ek tafeldoeke en “table runners” kan maak. Dis ‘n redelike eenvoudige voorneme, kort en spesifiek, sonder tierlantyntjies.

 

My ander een is meer op ‘n “sielsvlak” en kan nie regtig gemeet word nie.   Ek kan nie ‘n sertifikaat of ‘n medalje of ‘n goue sterretjie vir hom kry nie.  En dit is om dankbaar te wees vir dit wat ek wél het en nie obsessief te wees oor dit wat ek nié het nie. Makliker gesê as gedaan, veral danksy sosiale media. Kom ons wees nou maar eerlik, dis lekker om op facebook te pos van eksotiese vakansies, talentvolle kinders met medaljes om hulle nekkies, ‘n blink nuwe kar, maratons wat gehardloop is, naweke by rivier huise of wildsplase, ‘n foto saam ‘n bekende of ‘n foto van Boeta met sy elektroniese “scooter”. Dit is so maklik om vasgevang te raak in ander se lewens en om amper bitter te raak oor my eie tekortkominge. Hoekom kan ons nie ook ‘n vakansiehuis bekostig in Wilderness nie, hoekom kan ek nie rondry in ‘n blink nuwe motor nie, hoekom kan ons nie op ‘n R80,000 Mauritius vakansie gaan nie? Sal hierdie dinge my gelukkiger maak? Miskien? OK, heel waarskynlik. Is ek slegter af sonder hierdie dinge? Nie regtig nie. So, ek gaan nou wel nie in 2017 die wonderlike herinneringe hê van kayak ry in die turquoise waters van Mauritius nie. My kinders mag dalk ook nie einde 2017 spog met stringe medaljes en trofees vir atletiek, hokkie of redenaars kompetisies nie. “So what?” Daar lê ‘n hele, onvoorspelbare, jaar vol leë bladsye voor – een waarin ek my energie kan instoot in my gesin, my stokperdjies, waarin ek oop kan wees vir nuwe idees en uitdagings.  Meer as genoeg geleentheide vir hope spesiale foto’s en herinneringe.  ‘n Jaar waarin ek kan fokus op my gesondheid, kan skaaf aan my “minder goeie eienskappe”, gehalte tyd spandeer saam spesiale mense. En om die slegte te bêre waar dit hoort. In die verlede.

 

So, wat is jou Nuwejaars voornemens? Doelwitte vir hierdie 365 dae (oops, minus 15 dae) wat soos ‘n oop boek voor ons lê?