Dag 2622-2641 – Baksteen mure en telefoontjie speel

3-baksteenmuur

Hierdie week moes ek ongelukkig weer ‘n lewensles leer op die harde manier. “Hindsight is a wonderful thing”, gaan die gesegde mos. As ek terugkyk kan ek so duidelik sien die foute wat ek gemaak het. Hoe kon ek dit nie toe sien nie?

 

Onthou julle die speletjie “Telefoontjie”? Ons het dit so graag op laerskool gespeel. Jy staan in ‘n kring en een maatjie fluister vir die maatjie langs hom ‘n sin. Die sin mag nie weer herhaal word nie, en die maatjie moet oorfluister wat dit is wat hy gehoor het, en so het dit aangegaan. Die laaste persoon in die sirkel moes dan die sinnetjie hardop sê. En die eindboodskap was NOOIT dieselfde as die begin boodskap nie. Nie net was dit ‘n lawwe speletjie nie, dit was ook bedoel om ons iets te leer. Van hoe boodskappe wat oorgedra word, verkeerd verstaan word, en hoe die persoon wat die boodskap nie mooi gehoor het nie, sy eie afleiding kan maak of oordra wat hy dink hy gehoor het.  So maats, moenie stories oordra nie.

 

‘n Vriendin, ek noem haar sommer Suzie, vertel my so twee weke terug van hoe haar seun, by die skool, geboelie word deur die ouer seuns. Hy is so maer outjie,Tienie, in graad 5, met ‘n sagte geaardheid, glad nie bakleierig nie. Die eerste week van skool, word hy toe sommer van die trappe afgestamp deur twee van die ouer seuns.

“Tienie ken nie hulle name nie, maar hy het gesien wie dit is. Hulle het verlede jaar ‘n ander seun geslaan.”

Ek noem toe vir Suzie dat ek die genoemde seun se ma ken en dat ek vir haar sal vra wie die seuns is, en dan kan sy ten minste met die name skool toe gaan en die geboelie addresseer. So vertel sy my toe verder dat Tienie van lankal af so geteroriseer word deur die ouer seuns. Onder andere deur Rory wat deel is van die “gang” wat vir Tienie van die trappe afgestamp het. Die ma wie se seun laasjaar geslaan is, stuur toe vir my die twee seuns se name. Plaas ek dit net daar gelos het, maar toe moes grootbek Pixie vir haar gaan staan en vertel hoekom ek die name wil hê.

They are apparently in a gang with Rory?”

stuur ek na haar boodskap met die name. En haar boodskap terug,

“OMG, Rory is in this gang too.”

En dis toe nou presies hier waar die boodskap heeltemal skeef trek en die situasie sleg hand uitruk. Want sien, ek het ‘n vraag gevra, maar die ma het duidelik verstaan ek maak ‘n stelling. My afleiding van haar boodskap was dat dit wat ek haar gevra het, bevestig. Maar dit kom toe uit dat haar boodskap een was van verbasing, en nie van bevestiging nie. Kan julle sien wat ‘n gemors hierdie is?

 

Ek het vir Suzie die name gestuur, ingenome gevoel met my goeie daad vir die dag, en daarvan vergeet. Volgende oomblik bel Rory se ma vir Suzie om te hoor wat haar kind, Rory, aan Tienie gedoen het. En so ontken Suzie dat Rory ooit iets gedoen het aan Tienie, en dat sy nooit gesê het Rory is in ‘n “gang” nie. So is Suzie toe ook vies vir my, want Tienie word toe deur hierdie seuns genader en vra hoekom daar oor hulle geklik word.

“We bumped you because you were in our way,”

is toe nou ook sommer die verduideliking.

 

‘n Paar dae later, wag Rory se ma my in by die skoolsnoepie. ‘n Intimiderende, kort donkerkop vrou. Een wie se reputasie ek ook al ken – een van daardie ma’s wat nie skroom om ‘n helse drama te maak en die hoof se kantoordeur te gaan afbreek as daar ‘n probleem is nie. Sy was eintlik heel skaflik en heimlik bewonder ek haar vir die feit dat sy die “guts” het om aangesig tot aangesig met mense te gaan praat. Sy wou weet of dit ek is wat sê Rory is deel van ‘n “gang” wat jonger seuns boelie. Want toe sy vir Suzie bel kon sy skaars ‘n woord inkry en Suzie het my dadelik blameer.

“Look, it was Suzie who told me.”

was my antwoord aan haar,

“But you don’t know me and you don’t know Suzie so who are you going to believe? I was trying to help her find names, and she said the boys who pushed Tienie down the stairs, were the ones who beat up another boy last year.”

 

Twee dae lank was ek vreeslik ontsteld, want deel van my het gevoel ek moes my naam skoon kry. Dis vir my baie erg om geblameer te word vir iets wat ek nie gedoen het nie. Maar hoe sou ek my onskuld kon bewys sonder om nog meer mense te betrek wat boonop in vertroue vir my ook dinge vertel het? Ek het tot die besef gekom alhoewel, dat maak nie saak hoe ek hierna kyk nie, dit gaan ‘n gemors bly. En dis ‘n kwessie van “he said, she said”, en almal jok nou om hulle eie basse te red. Soos ‘n klomp hoërskool meisies wat gevang is met een sigaret.

Sy het die sigaret skool toe gebring.

Maar sy het dit aangesteek.

En sy het die eerste teug gevat!

Dit was sy wat die stompie after die pawiljoen gegooi het!”

 

Ek is bitter teleurgesteld in Suzie wat in die eerste plek nie die vrymoedigheid gehad het om te erken dat haar seun wel verlede jaar geboelie is deur Rory nie. Ek is teleurgesteld dat sy soos ‘n onvolwasse skoolmeisie die blaam van haarself probeer lig het deur my vir die wolwe te gooi. Maar teleurstelling in myself is nog erger. Want as ek terugkyk, het ek oop oë in hierdie baksteenmuur ingehardloop. Ek weet Suzie hou daarvan om te skinder, en om allerhande staaltjies te vertel van mense in ons skool. Hoekom het ek myself so verstrengel gekry in ‘n visnet wat net stywer en stywer om my begin span het? Dr Jax het destyds vir my gesê “nat kak spat”. En wow, hoe het dit nie gespat nie. Hoekom het ek nie die tekens gesien nie?

 

Dis nou heel duidelik dat Suzie my vermy by die skool. Voel sy sleg oor sy so blatant gejok het? Of glo sy sy was reg en is sy kwaad oor sy dalk nie wou gehad het ek moes inmeng nie? Dis ‘n donker wolk wat oor my hang. Die volwasse ding om te doen is om met haar te gaan praat hieroor en dit uit te klaar. Maar ek is nog steeds so kwaad en seergemaak dat ek net nie die regte woorde in my kop kan vind nie. Ek is bevrees as ek nou ‘n gesprek met haar moet hê, gaan dit net lelik raak en van voor af ‘n modder geslingery word. Die lafhartige uitweg is om haar ook te vermy, en te hoop dat dit sal oorwaai. Maar dan is ek mos nie veel beter as een van daardie skoolmeisies agter die pawiljoen nie?

 

Die positiewe wat ek hieruit vat, is die volgende – hou my ore op die grond en my mond styf toe.