Dag 3214-3238 – Wanneer oukei nie meer genoeg is

1-IMG_7538

 

Dr Jax was in menige terapie sessies my “voice of reason”.  Sy was eerlik en reguit, maar terselfdertyd ook simpatiek en ondersteunend op die regte tye.

 

Sy het my gehelp om situasies te identifiseer wat moontlik my angstigheid kan aanvuur.  Ek kan, meeste van die tyd, uitpluis watter situasies om te vermy of hoe om daardeur te kom wanneer hulle onvermydelik is.  Ek sien makliker die tekens van depressie raak en meeste van die tyd kry ek dit reg om die swart wolk te lig.  Sy het my geleer om minder emosioneel te reageer op mense se woorde. “It is not always about you”.  Ek het met tye myself so emosioneel gekasty en afgebreek oor stellings wat net dit was – stellings.

“Jy was nie beplan nie,”

beteken nie

Ek het jou nie lief nie”.

Dis bloot ‘n klein deel van my lewensstorie. ‘n Storie van hoe oningelig my ma se generasie was.  Hoe sy nie geweet het as sy vir ses maande van die Pil afgaan, sy kon swanger raak nie. Hoe my jong ouers ewe skielik vir ‘n ander toekoms moes beplan.  Hoeveel flippen dekades was dit nie deel van my kruk nie?  Dat ek geglo het dat ek so ongelooflik “unwanted” was.  Dat ek geglo het ek was bloot ‘n weeskatjie wat uit jammerte en plig gevoer en gehuisves is.  Dit het ure se terapie gevat om my te oortuig dat “unwanted” nooit die boodskap of die realitieit was nie.

 

Ek moet ‘n nuwe Dr Jax soek.  Dr Jax is nie meer net ‘n “whatsapp en afspraak” weg nie. Sy woon nou in Nelspruit, en dis vier ure se ry ver.  Ons het so ver gekom! Ek en sy.  Ek wil nie ‘n nuwe Dr Jax hê nie, ek wil nie weer elke derm ryg en die verlede gaan oopkrap nie.  So, vir ‘n paar maande nou al, sit ek die soeke na ‘n nuwe terapeut, opsy.  Daar is altyd iets belangriker, meer dringend, eenvoudiger om uit te sorteer.  Wanneer ‘n emosionele krisis opduik, gaan huil ek alleen, vee die snot en trane af, trek my Superwoman uniform aan, lig my kop bo die stroom en doen krisis beheer. Want dis oukei om oukei te wees.  Vele van my vriendinne, is nes ek, oukei.  Ons ondersteun mekaar, kla by mekaar en wroeg deur die dryfsand.  Ons vind altyd iets om aan vas te klou sodat ons nie totaal verswelg word deur die suigende massa nie.  Ons is almal oukei!

 

Heimlik weet ons dat oukei nie ‘n “fool proof plan”nie.  Oukei laat ons in die steek met tye.  Oukei wees maak dat ons ons humeur verloor wanneer klein Sannie onthou sy moes haar sport klere, wat papnat op die wasgoed perd hang, hê vir skool. Oukei wees maak dat ons ‘n helder geel paaltjie in die skool se parkeerarea in sy kanon inry, want ons is altyd aan die jaag van een plek na die ander.  Oukei wees maak dat ons dit heeltemal verloor as klein Sannie alweer nie gekies is vir ‘n netbalwedstryd nie, en mamma dan soos ‘n oorverhitte stoomtrein op die netbal afrigter afstorm.  Oukei wees is soos om te hardloop op ‘n “treadmill” – jy word fiks, maar bereik jy regtig iets?

 

Om te erken dat ek ‘n nuwe Dr Jax nodig het, is vir my soos om te erken ek kan nie meer sonder hulp opstaan nie.  En dis vrek moeilik.  Dit voel of ek gefaal het, of ek alweer ‘n swakkeling is.  Dis self erkenning van my kwesbaarheid.  En ek wil nie daardie self bejammerende, half verdrinkende, dobberende skepsel wees nie.  Ek WIL daardie Superwoman wees!

 

As Dr Jax moet sien wat ek skryf oor myself, sou sy beslis vir my gesê het ek gaan haal alweer die bobbejaan agter die bult. Sy sou vir my sê dis oukei om soms net oukei te wees, maar dat dit ook oukei is om hulp te gaan soek.

 

Nou moet ek net daardie laaste stap vat en die nuwe Dr Jax se telefoon nommer skakel….

Advertisements

Dag 3038 – 3213 Berge, angs en ooraktiewe breinselle

2019-03 Suitcase

Kom ek vertel julle wat gaan aan in ‘n angstige, depressiewe vrou se kop….

 

Wanneer jy, in ‘n bui, laat by die huis instap, haar net ‘n liggiese piksoen gee, en dan ‘n halfuur spandeer aan ‘n werksoproep, vat sy dit nogal persoonlik op.  Jy was twaalf ure by die werk, en sy het jou gemis.  En ja, sy wil “down time” hê en die leisels bietjie oorgee aan die ander ouer. Na haar middag van worstel deur graad 4 Wiskunde, ‘n vak wat nooit haar forté was nie, en sy heen en weer gery het tussen hoërskool en laerskool, het haar energievlakke ‘n laagtepunt bereik. Jy het onverwags laat weet jy kon nie die kinders by swemoefening gaan haal nie.  Dis hoekom aandete nou net tuna slaai is, die botterhoender en vars pampoentert skielik af van die spyskaart af.  Dalk more-aand?

 

Sy vertel jou dat jou nuwe werksverantwoordelikhede “big time” suig.  Want sy is gefrustreerd en emosioneel alleen.  Haar familie eenheid is nie hoe sy dit wil hê nie. Jy is twee weke in ‘n maand van die huis af weg.  En sy voel soos ‘n alleenouer wat, genadiglik, darem is sonder die finansiële druk van ‘n enkel ouer.  Sy moet “bad cop” en “good cop” speel.  Julle altwee weet maar te goed dat die “bad cop” deel vir haar ‘n groot uitdaging is.  Want, onthou, sy het haar eie kinderherinneringe in haar brein in getatattoeer, van haar “bad cop” ma.  Reëls, reëls, raas, baklei, omkoop, nog reëls, ‘n tronk van beperkinge, manipuleer, outokraat wees.  En sy het gesweer dat dit nooit haar ouerskapstyl sou wees nie.

Wanneer sy een aand in twee maande, die geleentheid kry om ‘n fotosessie projek te kry, is dit vir haar soos ‘n drywende boomstomp in ‘n vinnig vloeiende rivier.  Dis ‘n uitlaat vir haar kreatiwiteit, ‘n geleentheid om uit haar ma-boks te klim. Vier ure van ‘n fantasie uitleef, van menslike interaksie, van voel dat sy iets méér beteken.  Wanneer jy dus, op die laaste minuut, Londen toe moet vlieg, en nie daardie aand na julle kinders kan omsien nie, kom staan dit soos ‘n blok van ‘n dinosurus voor haar. En sy moet begin gunste vra van ander. Iets wat sy haat.  Sy moet dalk moontlik ‘n saamry geleentheid bedel vir Japsnoet, van die skool af huis toe.  Sy moet die buurvrou en vriendinne in die omgewing vra of haar kinders hulle kan bel as daar dalk iets skeefloop by die huis.  Wie gaan ‘n hand bysit as Engel moontlik hulp nodig het met die model wat sy besig is om te bou vir ‘n klasprojek?  Wie gaan sorg dat Japsnoet vir ‘n laaste keer haar Wiskunde leerwerk deurgaan vir donderdag oggend se klastoets?  Wie gaan seker maak dat hulle aandete eet, gaan bad en betyds in die bed kom? En sy het visies van wat as iets met haar gebeur oppad huis toe, deur die onvoorspelbare strate van Johannesburg? Wie sal gaan seker maak dat die kinders ok is en alles aan die gang hou totdat sy weer op die been is?

 

Wanneer jy na twee weke weg, weer die “leierskap posisie” in die huis wil oorneem, wil hied en gebied, tref sy ‘n emosionele laagtepunt.

Het julle die swembad geback wash, wie se boeke lê hier, plug julle die tv uit as dit loadshedding is?

Haar onrealistiese, oorsensitiewe brein sê vir haar dat wat sy die afgelope tyd, sonder jou, vermag het, net nie goed genoeg was nie.  Die balle wat sy met heelwat beplanning en sweet, in die lug gehou het, het voor haar voete neergeval en oopgebars.  Jy raas met die kinders oor hulle fone na ses nog in hulle kamers is, jy raak gefrusteerd met haar handsak wat op die kombuis kas lê, die hondekos emmers sonder deksels. Jy maak aanmerkings oor die bokse boeke op die studeerkamer se vloer.   Het jy dan nie gesien hoeveel “ligter” die kinders se kamers is nie?  Speelgoed en klere en ongebruikte skryfbehoeftes vul nie meer hulle spasies nie, dis weggegee!  Hoekom sien jy net dit wat jy wil sien?

 

Jy weet nie hoe sy sommige aande sukkel om aan die slaap te raak nie, want daardie oor-analiserende brein van haar werk oortyd. Sy bekommer haar oor of julle huwelik hierdie nuwe werksomstandighede van jou gaan oorleef? Sy vra haarself gereeld af of wat sy doen wel genoeg is – vir jou en vir julle kinders.  Sy stres oor die feit dat haar jongste kind se juffrou bedank het en sy nie weet wie haar gaan vervang nie.  Sy stres oor julle graad 8 kind en hoeveel sy moet betrokke wees by haar en hoeveel sy moet terugstaan.   En besef jy nie hoeveel energie dit van haar verg, om na ‘n paar rondrol aande, haar tam lyf, half ses in die oggend, uit die bed te kry nie?

 

 

Moet haar nie verkeerd verstaan nie – sy waardeer elke opoffering wat jy vir haar maak.  Sy is ongelooflik dankbaar dat sy ‘n tuisbly ma kan wees en dat sy vyf ure van haar oggend vir haarself het voor haar “skof” begin.  Vyf ure waarin sy inkopies gaan doen, maaltye maak om te vries, kaste regpak, en ja, gym toe gaan en saam vriendinne gaan onbyt eet.  Dit beteken vir haar die wêreld dat sy julle kinders self by die skool kan gaan haal, dat sy netbal wedstryde kan kyk, die kinders self kan rondry na buitemuurse aktiwiteite toe en hulle kan help met huiswerk en take.  Maar terselfdertyd dink sy nie hy besef hoe ‘n ondankbare taak hierdie soms kan wees nie. Soms is daar ‘n dik lip as sy vyftien minute laat is vir die hoërskool kind omdat sy eers die laerskool kind moes gaan haal het.  Sy is die een wat vir ure om die eetkamer tafel sit en vir ‘n tienjarige moet liggaamsdeel name en provinsies leer – ‘n tienjarige wat vinnig belangstelling verloor en gereeld wegglip om water te gaan drink of toilet toe te gaan.  Alles natuurlik verskonings om nie te leer nie.  Besef jy dat sy amper elke dag uit die huis uitgaan en lyk of sy op ‘n piekniek gaan?  Dis ‘n vergete sak met dansskoene in, ekstra water, ekstra kos, ekstra handdoeke vir swem. En dan is hierdie een vies oor daar grondbootjiebotter op haar rolletjie is eerder as koue vleis, en hoekom het ma die lang danshempie ingepak as ma dan weet sy hou meer van die “crop top”?

 

‘n Angstige vrou oordink elke situasie en oorweeg elke scenario.  Soms speel dit in haar gedagtes af soos ‘n gruwel film.  Miershope word berge en as miershope eers berge word……  berge is nie so maklik om af te breek soos miershope nie. Sy raak totaal en al paniekbevange wanneer sy in ‘n situasie is waaroor sy nie beheer het nie.  En sy is betreklik min in sulke situasies.  Want sy is altyd “daar”.  Vir jou, vir julle kinders, vir haar vriende, vir haar familie. Daar is tye wat sy in ‘n sweet, met ‘n bonsende hart wakker word nadat sy gedroom het jy het ‘n “affair”.  Haar logiese brein lag vir haar “komaan, moenie verspot wees nie”.  Haar angstige brein fluister in haar oor, “maar wat as…?

 

So, wanneer jy weer terugkom van ‘n lang en ver besigheids reis af, nadat sy vir twee weke die huishouding op haar nou skouers gedra het, sal sy dit waardeer as jy net bietjie “chill”.  Wees bly om weer terug te wees by jou vrou en jou kinders en wees bly dat hulle jou gemis het en graag tyd saam jou wil spandeer.  Probeer om jou perfektionistiese oog af te skakel en kyk bo-oor die tydskrif op die eetkamer tafel en die springmielie vlokkies op die tv kamer se mat. Wees eerder bitter dankbaar dat sy nie haar kar gepak het en gery het tot haar petrol opgeraak het nie.  Want sy fantaseer gereeld daaroor!  Om net te verdwyn sodat haar siel kan rus kry en dat “my soms ondankbare gesin kan besef hoeveel ek werklik vir hulle doen.

 

Die lewe is te kort om te skree oor mieliepitte op die mat.

Dag 3037 – Onskuld verlore vir ontelbaarheid

2018-09-27-onskuld-e1538053992980.jpg

Facebook, twitter, afrikaanse koerante en engelse koerante, gespreksradio programme, het van Maandag af gegons oor een onderwerp.

 

Die verkragting van ‘n 6-jarige meisie.

 

En nee, dit was nie ‘n stiefpa of ‘n hormonale neef nie, dit het nie gebeur in ‘n sinkdakhuisie terwyl haar ouers by die werk was nie, en sy het nie in ‘n verlate, donker straat gestap nie.  Dit het gebeur by ‘n familie restaurant in voorstedelike Pretoria.  ‘n “Roofdier” het haar dopgehou in die kleurvolle speelarea met sy glybane en klim-en-klouter en kinderoppassers.  Hy het haar gevolg na die badkamers, haar wreed verkrag.  Sy is kaal en bloedend gevind.  Ontstoke kliënte het die verkragter, begin aanval, waartydens iemand die badkamer gesluit is, en ‘n ambulans het hom eventueel weggeneem.

 

Daar word gegons en veroordeel.  Wie se skuld was dit? Opinies word die lug ingegooi.

  • Die ma se skuld. Hoe kan sy toelaat dat haar 6 jarige kind alleen na ‘n publieke toilet toe gaan?  Mens doen dit mos nie? Is sy mal?
  • Die sogenaamde ooggetuie. Hoekom het hy nie gaan ondersoek instel toe hy iets verdag opmerk nie? Hoekom net daar sit en dan na die tyd vertel hoe hy gesien het die man hou die meisie dop?
  • Die restaurant en die oppassers. Hoekom het hulle toegelaat dat die meisie die speel area verlaat sonder ‘n ouer?  Hoekom het hulle nie onraad vermoed oor ‘n man wat net gesit en water drink het nie? En dan word daar gekritiseer oor hoe onpersoonlik die retaurant se media verklaring is.
  • Die staat. Want misdadigers kom te maklik en te vinnig los.  Misdadigers is nie bang vir die gereg nie.  Die publiek vereis dat die doodstraf moet terugkom.

 

Wat maak dit saak wie te blameer is?  Dit het gebeur.  En geen optogte voor die restaurant of geswets op sosiale media gaan dit ontdoen of verander nie.  ‘n Dogtertjie se onskuld is vir ewig van haar weggeneem.  ‘n Kind wat heel waarskynlik nog met blonde Barbies speel, wat prentjies teken van feetjies en “unicorns”, wat wegkruipertjie speel met ander seuntjies en dogtertjies van haar ouderdom.  Sy is op die ouderdom waar sy nog nie eers bewus is van die liggaamlike veranderinge wat sy eventueel sal deurgaan nie, en waar sy dalk nog nie eers weet van menstruasie nie.  Wat weet meeste kinders van daardie onskuldige ouderdom van molestering en verkragtig?

 

Laat ons as ouers, eerder ‘n groot lewensles hieruit leer.  Dit het beslis vir my ‘n helse “wake-up call” gegee; vir die perversheid wat teenwoordig is en watter tipe monsters onder ons rondloop.  Gemasker as gewone mans en vrouens.

 

My dogters gaan hulle oë rol en dink ek is oudtyds en oorbesermend.  Ek verstaan dit.  Op dertien wil jy hê jou ouers moet bietjie skiet gee.  Jy wil gaan fliek saam maats, of in ‘n groep gaan melkskommels drink by Spur. Jy wil in ‘n winkel gaan rondkyk terwyl jou ouers sit en koffie drink, jy wil alleen na ‘n publieke toilet toe gaan. Op 9 wil jy by ‘n maatjie gaan oorslaap en dalk nie meer hê jou ma moet saamgaan na ‘n partytjie toe nie.  Ongelukkig gaan ek doodernstig en openlik met hulle moet praat.  Weer moet verduidelik van molestering en verkragting en dat “nee” aanvaarbaar is in enige ongemaklike situasie.  Sonder om in te veel detail in te gaan, gaan ek vir hulle hierdie storie ook moet vertel. Sodat hulle besef dis “real” en dat dit nie iets is wat ek opgemaak het om hulle af te skrik nie.

 

Die lewe is nie onskuldig nie….

Dag 3000’ish – Mevrou van Rooyen is onwelkom

3000

Die rooi gevaar, mevrou van Rooyen kom kuier, “red curse”, ek is siek, , “shark week”, daai tyd van die maand, “having the painters in”, “a visit from Aunt Flo”.  Dis maar ‘n paar van die byname wat ons gee vir die woord -menstrueer.

 

Engel het, ‘n paar dae voor haar 13de verjaarsdag, uiteindelik die verassings besoekie gekry.  Haar eerste volwaardige maanstonde.  Dit het gepaard gegaan met “ek het niks gebring nie, Ma” en Ma wat gou in die garage se winkel moes inhol oppad huis toe van Ballito af.  Manlief wat net sy oë gerol, want hoekom moet ons by ‘n winkel stop as ons nog nie eers die strand dorp verlaat het nie?  (Moet ek dit regtig uitspel?)  En die 9jarige Japsnoet wat onskuldig nuuskierig wou weet wat ons gaan koop, want sy wil nooit uitmis op sweeties koop nie.  En daar was ook die knaende lae maagpyn wat daarmee gepaard gaan, waarvoor Panado omtrent so effektief is soos ‘n pak smarties.  Garage kafees verkoop nie Nurofen for periods nie.

 

Hulle sê (julle weet daardie onbekende hulle waarna almal verwys, want hulle is so ongelooflik wys) dat jy jou menstruasie moet verwelkom en vier.  Soos ‘n goeie blogger haar betaam, het ek bietjie gaan navorsing doen. Die Nootka mense van Kanada hou ‘n groot fees, waarna die meisie ver uitgevat word die diepsee in.  Daar word sy gelos en moet sy terugswem land toe.  Eers daarna word sy dan as volwaardig vrou erken deur haar hele gemeenskap.  Die Dagara meisies van Wes Afrika gaan deur ‘n seremonie, gevolg deur ‘n periode van mentorskap oor seks, intimiteit en die helende krag van menstruerende vroue.  In sommige dele van Indië word daar vrolik fees gevier en die meisie word bederf met geld, geskenke en pragtige klere. Japanese families vier hierdie mylpaal deur rooi rys en rooi bone te eet.   Vir die meer modernes onder ons was daar voorstelle soos ‘n groot familie ete om jou dogter se vrouwees te vier.  Ek dink as ek vir ‘n reeds selfbewus Engel ‘n “period party” reël, vergewe sy my NOOIT nie.  ‘n Vriendin het my vertel toe haar oudste begin menstrueer, en sy eers twee dae later uitvind, was sy so oorstelp dat sy sommer begin huil het. Darem van vreugde.  Maar haar dogter wou die berge inhardloop van skaamte oor haar ma se reaksie.

“Mom, please stop crying, that is why I didn’t want to tell you!”. 

‘n Onderwyseres by Engel se skool het vertel toe haar dogter by die skool begin menstrueer het, was die arme meisiekind in so ‘n toestand, sy moes haar maar huis toe vat.

 

Feit is, dit maak nie saak hoe fisiek voorbereid ons amper tieners is op die koms van die rooi gevaar nie, dit tref hulle soos ‘n tsunami.  En kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, vrou tot vrou – menstruasie is kak sleg. Daar is geen manier om dit mooi in te kleur en versier nie.  Menstruasie is nie oor fees te vier nie, dis die begin van een helse persoonlike verantwoordelikheid. Dit gaan gepaard met ten minste twee keer ‘n dag stort, honderde besoeke aan die toilet met jou mooi “pad” sakkie, sekere klere wat jy nie kan dra nie, die gestres oor ‘n moontlike lekkasie, ‘n vier dag konstante “stickiness”, en ‘n gesukkel met tamponne op swemdae en hoop die toutjie hang nie uit nie.  En daardie sluimerende maagpyn wat jou vanuit nêrens tref, en jou soms so onderstebo gooi dat jy noodgedwonge jou kop in die naaste toiletbak moet gaan druk. En daar gaan die maagpyn pil wat jy so pas gesluk het ook.

 

Kan julle raai dat ek elke vyf dae van elke maand, gehaat het met ‘n passie?  Ek was een van daardie ongelukkiges wat vir baie jare my sosiale lewe moes beplan om my swaar maandstondes.  Geen “game drive” naweke of piekniek langs die rivier nie.  Simpel verskonings maak, want dis makliker as om die eintlike rede te moet gee. Gimnastiek kompetisies was ‘n nagmerrie, want ek kon nie regkom met tamponne nie.  “I must have been quite a sight” in my pienk leotard. As volwassene het dit nie makliker geraak nie, inteendeel, raai wie se “period” het die dag voor haar troue begin?  Het enigeen van julle al probeer om ‘n doekie te ruil, in ‘n klein publieke toilet, met ‘n Cinderella-laag-op-laag netrok aan?  As ek op ‘n jonger ouderdom geweet het hoeveel makliker dit sou gewees het op die Pil, het ek dit veel vroeër begin gebruik. Maar ek was bang “ek tel gewig op”.

 

Genadiglik het ons dogters dit effe makliker as wat ons gehad het.  Daar is “pantyliners”, “applicator tampons”, gewone tamponne, doekies met vlerkies, “extra long” doekies vir slaaptyd, selfs doekies met mooi versierings.  Al wat ek onthou, en gebruik het, was daardie matras dik New Freedom doekies.  Ek sweer die vervaardigers het net ‘n bol van daardie oprol watte gevat en ‘n lagie tissuepapier oorgevou.  Mens kon nie anders as om te loop soos ‘n “cowboy” met daardie goed in jou broekie nie.  Dit was net plainweg vernederend.

 

So nee, in ons huis gaan daar nie fees gevier word met rooi fluweel koek en goud-rooi baniere en rooi ballonne nie.  Ons sal elke maand en sy maagpyn en aggresiewe buie vat soos dit kom. En haar leer om altyd voorbereid te wees op Mev van Rooyen se onwelkome, ongenooide besoeke.

 

Verwysings

https://www.drnorthrup.com/celebrating-a-girls-first-period/

http://blog.gladrags.com/656/the-curse-cultural-celebrations-of-menarche-by-eve-agee/

Gelukkige Moedersdag! Happy Mother’s Day!

5 Mothers day

Is there anything specific you would like for Mother’s Day?

 

It is one of those days that many people immediately complain about –

Just a money making scheme

You should spoil your mom whenever you feel like it and not only on Mother’s Day

The whole thing is so commercialised

Of course there is truth in this. Walk into Woolies and there they are; the big curly-swirly signs announcing that Mother’s Day is on the 14th May. And that you could spoil that special mom of yours with pink slippers, a fluffy (and very expensive) gown, or buy-2-and-save-25%-Minnie-Mouse-fleece pajamas. Red Square has 25% off on all their fragrances and takealot.com has huge discounts on coffee filters, food steamers and fitness goodies. And yes, I then jumped on the bandwagon too by advertising my tissue boxes, trinket boxes and discounted, personalised shopping bags. Because let’s face it, us moms have more than enough bubblebath and body creams and as much as we love chocolates we could do without!

 

The idea of Mother’s Day didn’t just fall out of the sky –

“The modern holiday of Mother’s Day was first celebrated in 1908, when Anna Jarvis held a memorial for her mother at St Andrew’s Methodist Church in Grafton, West Virginia. St Andrew’s Methodist Church now holds the International Mother’s Day Shrine.[6] Her campaign to make “Mother’s Day” a recognized holiday in the United States began in 1905, the year her mother, Ann Reeves Jarvis, died. Ann Jarvis had been a peace activist who cared for wounded soldiers on both sides of the American Civil War, and created Mother’s Day Work Clubs to address public health issues. Anna Jarvis wanted to honor her mother by continuing the work she started and to set aside a day to honor all mothers because she believed that they were “the person who has done more for you than anyone in the world”.Thank you, Wikipedia x

 

I must admit, I love these “commercialised” days.  It gives us an ideal opportunity to spoil and thank our moms, who, at the best of times, we take for granted. We expect them to just always be there for us, because that is what mothers do, right? And there is nothing quite as special as giving a gift that is carefully thought through and chosen, and to then see the happiness on that person’s face when they receive it.

 

So what do I want for Mother’s Day? I suggested to Andries that he take the girls to Clicks, and let them pick a handful of items they think I would like. I am really looking forward to seeing what the three of them came up with!

 

To all the mothers out there – whether you are single, divorced, happily married, young or old – happy mother’s day. And treasure those handmade cards and hugs and kisses you will be receiving.

 

And pretend to absolutely LOVE that cold mug of tea that is brought to you in bed.

https://qandqsite.wordpress.com/2017/05/13/happy-mothers-day/

Dag 2622-2641 – Baksteen mure en telefoontjie speel

3-baksteenmuur

Hierdie week moes ek ongelukkig weer ‘n lewensles leer op die harde manier. “Hindsight is a wonderful thing”, gaan die gesegde mos. As ek terugkyk kan ek so duidelik sien die foute wat ek gemaak het. Hoe kon ek dit nie toe sien nie?

 

Onthou julle die speletjie “Telefoontjie”? Ons het dit so graag op laerskool gespeel. Jy staan in ‘n kring en een maatjie fluister vir die maatjie langs hom ‘n sin. Die sin mag nie weer herhaal word nie, en die maatjie moet oorfluister wat dit is wat hy gehoor het, en so het dit aangegaan. Die laaste persoon in die sirkel moes dan die sinnetjie hardop sê. En die eindboodskap was NOOIT dieselfde as die begin boodskap nie. Nie net was dit ‘n lawwe speletjie nie, dit was ook bedoel om ons iets te leer. Van hoe boodskappe wat oorgedra word, verkeerd verstaan word, en hoe die persoon wat die boodskap nie mooi gehoor het nie, sy eie afleiding kan maak of oordra wat hy dink hy gehoor het.  So maats, moenie stories oordra nie.

 

‘n Vriendin, ek noem haar sommer Suzie, vertel my so twee weke terug van hoe haar seun, by die skool, geboelie word deur die ouer seuns. Hy is so maer outjie,Tienie, in graad 5, met ‘n sagte geaardheid, glad nie bakleierig nie. Die eerste week van skool, word hy toe sommer van die trappe afgestamp deur twee van die ouer seuns.

“Tienie ken nie hulle name nie, maar hy het gesien wie dit is. Hulle het verlede jaar ‘n ander seun geslaan.”

Ek noem toe vir Suzie dat ek die genoemde seun se ma ken en dat ek vir haar sal vra wie die seuns is, en dan kan sy ten minste met die name skool toe gaan en die geboelie addresseer. So vertel sy my toe verder dat Tienie van lankal af so geteroriseer word deur die ouer seuns. Onder andere deur Rory wat deel is van die “gang” wat vir Tienie van die trappe afgestamp het. Die ma wie se seun laasjaar geslaan is, stuur toe vir my die twee seuns se name. Plaas ek dit net daar gelos het, maar toe moes grootbek Pixie vir haar gaan staan en vertel hoekom ek die name wil hê.

They are apparently in a gang with Rory?”

stuur ek na haar boodskap met die name. En haar boodskap terug,

“OMG, Rory is in this gang too.”

En dis toe nou presies hier waar die boodskap heeltemal skeef trek en die situasie sleg hand uitruk. Want sien, ek het ‘n vraag gevra, maar die ma het duidelik verstaan ek maak ‘n stelling. My afleiding van haar boodskap was dat dit wat ek haar gevra het, bevestig. Maar dit kom toe uit dat haar boodskap een was van verbasing, en nie van bevestiging nie. Kan julle sien wat ‘n gemors hierdie is?

 

Ek het vir Suzie die name gestuur, ingenome gevoel met my goeie daad vir die dag, en daarvan vergeet. Volgende oomblik bel Rory se ma vir Suzie om te hoor wat haar kind, Rory, aan Tienie gedoen het. En so ontken Suzie dat Rory ooit iets gedoen het aan Tienie, en dat sy nooit gesê het Rory is in ‘n “gang” nie. So is Suzie toe ook vies vir my, want Tienie word toe deur hierdie seuns genader en vra hoekom daar oor hulle geklik word.

“We bumped you because you were in our way,”

is toe nou ook sommer die verduideliking.

 

‘n Paar dae later, wag Rory se ma my in by die skoolsnoepie. ‘n Intimiderende, kort donkerkop vrou. Een wie se reputasie ek ook al ken – een van daardie ma’s wat nie skroom om ‘n helse drama te maak en die hoof se kantoordeur te gaan afbreek as daar ‘n probleem is nie. Sy was eintlik heel skaflik en heimlik bewonder ek haar vir die feit dat sy die “guts” het om aangesig tot aangesig met mense te gaan praat. Sy wou weet of dit ek is wat sê Rory is deel van ‘n “gang” wat jonger seuns boelie. Want toe sy vir Suzie bel kon sy skaars ‘n woord inkry en Suzie het my dadelik blameer.

“Look, it was Suzie who told me.”

was my antwoord aan haar,

“But you don’t know me and you don’t know Suzie so who are you going to believe? I was trying to help her find names, and she said the boys who pushed Tienie down the stairs, were the ones who beat up another boy last year.”

 

Twee dae lank was ek vreeslik ontsteld, want deel van my het gevoel ek moes my naam skoon kry. Dis vir my baie erg om geblameer te word vir iets wat ek nie gedoen het nie. Maar hoe sou ek my onskuld kon bewys sonder om nog meer mense te betrek wat boonop in vertroue vir my ook dinge vertel het? Ek het tot die besef gekom alhoewel, dat maak nie saak hoe ek hierna kyk nie, dit gaan ‘n gemors bly. En dis ‘n kwessie van “he said, she said”, en almal jok nou om hulle eie basse te red. Soos ‘n klomp hoërskool meisies wat gevang is met een sigaret.

Sy het die sigaret skool toe gebring.

Maar sy het dit aangesteek.

En sy het die eerste teug gevat!

Dit was sy wat die stompie after die pawiljoen gegooi het!”

 

Ek is bitter teleurgesteld in Suzie wat in die eerste plek nie die vrymoedigheid gehad het om te erken dat haar seun wel verlede jaar geboelie is deur Rory nie. Ek is teleurgesteld dat sy soos ‘n onvolwasse skoolmeisie die blaam van haarself probeer lig het deur my vir die wolwe te gooi. Maar teleurstelling in myself is nog erger. Want as ek terugkyk, het ek oop oë in hierdie baksteenmuur ingehardloop. Ek weet Suzie hou daarvan om te skinder, en om allerhande staaltjies te vertel van mense in ons skool. Hoekom het ek myself so verstrengel gekry in ‘n visnet wat net stywer en stywer om my begin span het? Dr Jax het destyds vir my gesê “nat kak spat”. En wow, hoe het dit nie gespat nie. Hoekom het ek nie die tekens gesien nie?

 

Dis nou heel duidelik dat Suzie my vermy by die skool. Voel sy sleg oor sy so blatant gejok het? Of glo sy sy was reg en is sy kwaad oor sy dalk nie wou gehad het ek moes inmeng nie? Dis ‘n donker wolk wat oor my hang. Die volwasse ding om te doen is om met haar te gaan praat hieroor en dit uit te klaar. Maar ek is nog steeds so kwaad en seergemaak dat ek net nie die regte woorde in my kop kan vind nie. Ek is bevrees as ek nou ‘n gesprek met haar moet hê, gaan dit net lelik raak en van voor af ‘n modder geslingery word. Die lafhartige uitweg is om haar ook te vermy, en te hoop dat dit sal oorwaai. Maar dan is ek mos nie veel beter as een van daardie skoolmeisies agter die pawiljoen nie?

 

Die positiewe wat ek hieruit vat, is die volgende – hou my ore op die grond en my mond styf toe.

Dag 2455-2621 – Oop bladsye

1-20161226_181614

En toe word dit weer sulke tyd…..

 

2016 was op sy laaste bene. Die son het asemrowend mooi gesak oor die Atlantiese oseaan en ‘n koelerige windjie het ons genoop om ons skouers toe te gooi. Braaivleis en paptert en J.C. le Roux, wat ‘n manier om 2016 vaarwel te roep! Ek het reeds vroeg Desember al die kopskuif gemaak dat 2017 ‘n goeie en voorspoedige en positiewe jaar gaan wees. Dit kan nie altyd net goed gaan nie, dis nou maar die realiteit waarmee die lewe ons gooi. Maar dis of 2016 ‘n besondere harde en uitdagende jaar vir meeste van ons was. Ons was maar net te bly om die einde van hom te sien!

 

Nuwejaars voorneme – jy wil hulle nie maak nie, maar dit voel so half verkeerd om nie ten minste één te hê nie.  Manlief wil weer terugklim op die fiets, Kleinsus wil meer van ‘n balans in haar lewe hê, Engel (11) het in haar dagboek geskryf sy wil 85% vir Engels kry en gewig verloor (eish), dié een wil meer reis en daardie een wil spaar vir ‘n motorfiets. Sommige mense se doelwitte is heel eenvoudig, soos om ‘n groentetuin te kweek of meer boeke te lees. Dan is daar dié wat meer gekompliseerd is en harde werk, selfs bloed en sweet, gaan verg. Soos om Kilimanjaro te gaan klim of weer te begin swot. Myne? Ek wil leer om reguit, en mooi, te stik, sodat ek tafeldoeke en “table runners” kan maak. Dis ‘n redelike eenvoudige voorneme, kort en spesifiek, sonder tierlantyntjies.

 

My ander een is meer op ‘n “sielsvlak” en kan nie regtig gemeet word nie.   Ek kan nie ‘n sertifikaat of ‘n medalje of ‘n goue sterretjie vir hom kry nie.  En dit is om dankbaar te wees vir dit wat ek wél het en nie obsessief te wees oor dit wat ek nié het nie. Makliker gesê as gedaan, veral danksy sosiale media. Kom ons wees nou maar eerlik, dis lekker om op facebook te pos van eksotiese vakansies, talentvolle kinders met medaljes om hulle nekkies, ‘n blink nuwe kar, maratons wat gehardloop is, naweke by rivier huise of wildsplase, ‘n foto saam ‘n bekende of ‘n foto van Boeta met sy elektroniese “scooter”. Dit is so maklik om vasgevang te raak in ander se lewens en om amper bitter te raak oor my eie tekortkominge. Hoekom kan ons nie ook ‘n vakansiehuis bekostig in Wilderness nie, hoekom kan ek nie rondry in ‘n blink nuwe motor nie, hoekom kan ons nie op ‘n R80,000 Mauritius vakansie gaan nie? Sal hierdie dinge my gelukkiger maak? Miskien? OK, heel waarskynlik. Is ek slegter af sonder hierdie dinge? Nie regtig nie. So, ek gaan nou wel nie in 2017 die wonderlike herinneringe hê van kayak ry in die turquoise waters van Mauritius nie. My kinders mag dalk ook nie einde 2017 spog met stringe medaljes en trofees vir atletiek, hokkie of redenaars kompetisies nie. “So what?” Daar lê ‘n hele, onvoorspelbare, jaar vol leë bladsye voor – een waarin ek my energie kan instoot in my gesin, my stokperdjies, waarin ek oop kan wees vir nuwe idees en uitdagings.  Meer as genoeg geleentheide vir hope spesiale foto’s en herinneringe.  ‘n Jaar waarin ek kan fokus op my gesondheid, kan skaaf aan my “minder goeie eienskappe”, gehalte tyd spandeer saam spesiale mense. En om die slegte te bêre waar dit hoort. In die verlede.

 

So, wat is jou Nuwejaars voornemens? Doelwitte vir hierdie 365 dae (oops, minus 15 dae) wat soos ‘n oop boek voor ons lê?

Dag 2528-2543 – Jaag na alles

22-hanelie

Ek het haar net vir twee jaar geken. St 8 en St 9 (graad 10 en 11)

 

En ek was heimlik jaloers op haar. Want sy was daardie meisie soos wie ons almal eintlik wou wees. Sy het ‘n erekleure skoolbaadjie gedra, vol lapelle en balkies. By ons skool was dit redelik opvallend, want waar meeste van ons strepe gedra het, was die erekleure baadjie ‘n donker blou een, met ‘n breë, geel omboorsel. Sy het akademies uitgeblink en baie aktiwiteite deelgeneem – van redenaars kompetisies tot koor sing tot hokkie speel. Sy het hoofrolle gekry in die skool revues en sy was redelik populêr onder beide seuns en meisies.

 

Die oggend van die 8ste Oktober stuur Hanna vir my ‘n whatsapp.

“Familie is gebel om hospitaal toe te gaan, die dokter sê Hanelie is moeg baklei.”

En ‘n paar minute later….

“Sy is weg”,

met ‘n prentjie van ‘n tranerige smiley mannetjie.

Weg, wat bedoel jy met weg? My logika het vir my gesê presies wat dit beteken. Weg. Maar dit was asof ek dit net nie kon verstaan nie. Sy was dan in die hospitaal, onder bekwame dokters. Sy het jong kinders, sy mag nie net “weg” wees nie.

“Ai tog – ek is so geskok. Ek het nooit besef dis so erg nie.”,

het ek twee minute later teruggeantwoord. Hanelie het oor haar getrekte strepie in die sand getree.

 

In eenvoudige taal – Hanelie het bloedvergiftiging gekry. Niemand weet waar of hoe sy dit gekry het nie. Selfs Dr Google was maar vaag, en wyd. En boodskappe van die familie was gemeng en kon op verskillende manier geïnterpreteer word. “Daar was ‘n traan in haar oog”,

het haar ma blykbaar op ‘n stadium gepos. Van blydskap, hartseer, of was haar oë net droog? Niemand sal regtig weet nie, want sy was onder sterk verdowing. Wie weet of sy bewus was van wat om haar aan die gang was. Sy was op vakansie en sy het net gekla van ‘n vreeslike seer keel. Die volgende dag was sy in die Intensiewe sorg eenheid op ‘n ventilator en ‘n dag of twee later op ‘n dialise masjien. Agt dae later was dit verby.

 

Ek het Hanelie nie geken as ‘n volwasse vrou nie. Wel ‘n bietjie kontak gehad op facebook, maar ek sou dit nie klassifiseer as ‘n vriendskap nie. Hanna het haar wel goed geken, sy het van die Kaap af gevlieg en ons is Emalahleni toe vir die gedenkdiens.

My hart was seer vir haar vriendinne. Want ek weet hoe kosbaar my vriendinne vir my is en watter groot rol hulle speel in my alledaagse bestaan. My vriendinne is deel van my soos die vetrolletjies aan my middel en die fyn plooitjies om my oë.

My hart was seer vir haar suster. Die een mens met wie jy al baklei vandat jy jou geheue het, maar met wie jy altyd opmaak. Die persoon wat, baie meer is soos jy as wat jy besef, en vica versa.

My hart was seer vir haar man en twee seuns. ‘n Man wat nou alleen die mas moet opkom met twee jong seuns, terwyl hy vir lank nog gaan rou oor sy vrou. Die blonde tiener het in sy pa se arms gesit, styf teenaan hom. Die jonger seun het nie emosie gewys nie, inteendeel. Voor kerk het hy buite in die tuin bal geskop. Tydens die diens, het hy opgetree soos ‘n tipiese 10jarige seun wat geforseer is om stil te sit in ‘n vervelige kerkdiens, en onskuldig die tyd verwyl deur saam sy maats grappies te maak en agter oop hande te giggel. Sy pa se suster het hom gereeld met groot oë aangekyk, duidelik nie beindruk met sy gedrag nie.

My hart was seer vir haar ma. Geen ma moet ‘n kind begrawe nie. Die tannie het oud en afgemat gelyk – gekleë in swart van kop tot tone. In diep rou. Vir haar, sal die wêreld nooit weer dieselfde wees nie.

 

Die dood laat mens anders na die lewe kyk. Jy wonder hoe jy sou staande gebly het as jy in daardie voorste kerkbank gesit het. Jy besef hoe jy simpel goed najaag, hoe jy jou tyd soms mors op nuttelose dinge, hoe jy stres oor iets wat oor ‘n week nie eers meer ‘n gedagte is nie. Jy tel jou eie seëninge en besef hoeveel jy eintlik het om voor dankbaar te wees. Jy maak beloftes aan jouself om jou ma meer gereeld te bel, om meer kwaliteit tyd saam jou kinders te spandeer, om meer belangstellend na jou man te luister wanneer hy praat oor sy dag by die werk. Maar ‘n paar dae later is jou goeie voornemens ‘n vergete, opgefrommelde stukkie nota papier wat iewers in ‘n laai lê. Vergete. “Because life goes on”..

 

En as ek my weer kan kry, jaag ek na wind en stres oor dinge wat volgende week nie eers meer ‘n gedagte gaan wees nie.