Move on

2-move-on

https://qandqsite.wordpress.com/2017/02/03/moving-on/

Advertisements

Dag 2482-2486 – Lente, begrafnismakietie, “afro’s” en onthou

22 Makiete en onthou

Die week is nog maar ‘n vulletjie, maar daar het reeds so baie gebeur.

 

Die 1ste September is die offisiële arrivering van lente, maar, hier in Johannesburg, gaan draai die kwik alweer vanmiddag by 28°C. Watwou lente, hallo somer! Gister het ek die kinders se kaste uitgesorteer. Winter uit, somer in. Uit een boks het ek maklik agt sakke van Engel (11) se kleiner somersklere uitgehaal. Dit was soos Kersfees vir my en Japsnoet (7)! Sy het haar verwonder aan al die “nuwe” t-hemde, groot meisie rokke met spaghetti bandjies en net-rompe van Naartjie. Vir my was dit soos terug verlede toe, toe Engel nog klein genoeg was om in daardie hope klere in te pas. Daardie agt jarige dogtertjie met haar krulhare en wipneusie, wat my soms teen die mure uitgedryf het, maar ook my klein hart laat vermurwe het. Waarheen vlieg die tyd dan heen?

 

Gepraat van die verlede – dit sou my Ouma se 95ste verjaarsdag gewees het gister. Ja, ek onthou hoe siek sy was hier teen die einde, en hoe gefrustreerd, want sy wou net huis toe. Sy is oorlede in ‘n ICU bed, omring deur alles wat klinies en vreemd was. Dit was aaklig om te aanskou en ons het almal so magteloos gevoel. Maar gelukkig is dit nie daardie paar dae wat my herinneringe aan haar oorheers nie, want daar is net te veel mooi om eerder te onthou. Ek het al voorheen geskryf hoe sy sou sê haar gunsteling seisoen is lente, en haar gunsteling kleur was groen. Sy het gehou van die idee van alles wat begin groei en lewe en kleur kry.  Hierdie tyd van die jaar was hulle tuin ootrek van blomme, dis die pronkertjies wat ek spesiefiek onthou. En wanneer ek die soet pronkertjie geur in die lug ruik, sien ek haar voor my. ‘n Jare lange kennis van my ma is verlede week oorlede. Toe my ouers navraag doen oor ‘n begrafnis datum, het haar man gesê sy vrou wou nie ‘n begrafnis hê nie. Haar wens was dat sy veras moes word en dat daar gekuier word om braaivleis vure. ‘n Viering van iemand se lewe, eerder as ‘n wening oor haar dood. Ek hou nogal van daardie idee….

 

Dan is daar natuurlik die onlangse herrie wat homself afspeel by ‘n meisieskool in Pretoria. (http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pretoria-skool-moet-gedragskode-herskryf-na-rasseherrie/) My eerste reaksie was een van rollende oë en “wat-nou-alweer”.  Reëls is daar vir ‘n goeie rede. Daar is reëls oor die hele wêreld. Padreëls, werk reëls, godsdienstige reëls, ongeskrewe reëls.  As reëls oor hoe meisies hulle hare mag en nie mag dra nie, verontagsaam word, wat is volgende? Korter rokkies? Alkohol wat toelaatbaar moet wees vir oor 18’s? ‘n Snoepie wat sigarette verkoop? Speel ek nou “devils’ advocate” hier….. Maar toe gaan delf ek weer in die verlede en onthou my eie skooldae in Afrikaanse klein-dorpie skole. Sommige van ons rigiede reëls het mens eintlik meer belaglik laat lyk as aanvaarbaar netjies. ‘n Kuif wat 2cm bo die wenkbroue gelê het, het ‘n seunsmaat van my na so ‘n “nerd” laat lyk.  Dit het alewig gelyk asof hy sommer self in sy hare ingeklim het met sy ma se kombuis skêr. Raak jou bob haarstyl jou kraag, moet dit opgebind word. Onthou julle nog daardie silwer knippies wat ons dan oral in ons kop moes vasdruk net om al die uitval hare bymekaar te hou? Ons het gespot dat jy nie naby ‘n magneet moes kom met al daardie knippies in jou kop nie! My laerskool se winter uniform was ‘n kapoen, polonek hemp van “jeuk materiaal”. (Was dit krimpelene?) My droë, ekseem nekvel was rou gekrap aan die einde van elke skooldag. “Anyway”, ek sit nog op die draad oor hierdie een, want ek kan albei kante sien en verstaan.

 

So sit ek vroëer hierdie maand en introspeksie doen, en besef dat my lewe, hierdie tyd van die jaar, so met die seisoens verandering, altyd ‘n bietjie onderstebo voel. Ek bevraagteken die persoon wat ek is, die dinge wat ek doen of nie doen nie. Maar terselfdertyd kan ek ook nie vir myself sê wat dit is wat ek wél wíl doen en bereik nie. Ek sien hoe vroue om my groot salaris tjeks huis toe bring, nuwe motors ry, motiverings praatjies gee, ander mense se kinders opvoed, vakansie huise besit, lewens veranderinge “charity” werk doen, ekstra wiskunde klasse gee. Dinge doen! En die grootste fout wat ek maak, is om myself alewig met hierdie mense te vergelyk, myself opweeg, myself te lig vind. Dis “stupid”, ek weet, maar dis my realiteit.

 

Nou dwaal ek af. Oor twee dae is dit heerlike lente, die winter’s verby! Ons as mense gaan ook deur ons eie seisoenale veranderings.

 

En lente bring altyd hoop.

Dag 2277-2309 Die Boekklub en skryf

20160224_091233

Ek vind vrede en rustigheid in enige boekwinkel of biblioteek. Dit kom al van my tienerjare af, eintlik selfs nog voor dit.

 

My eerste boek herinneringe gaan terug na die dae van rooi, hardeband Siembaba boekies wat my ma maandeliks by die poskantoor gaan haal het. Binne ure was dit klaar gelees en moes ons ‘n volle 30 dae wag vir die volgende posstuk. As dogtertjie van so 10jaar oud, het ek nou weer Saartjie en Trompie boeke verslind. Vakansies het my ma my na Vereeniging se groot biblioteek toe gevat. In my kinderoë was dit een van die mees indrukwekkende geboue in die dorp. Met rye en rye boeke – en die reuk, ek wens ek kon gepaste woorde vind om dit te beskryf. Daardie onmiskenbare reuk van ou papier, voos geleesde papier, al die skatwoorde wat opgesluit is tussen duisende bundels. Binne ‘n paar dae sou my boeke deurgelees wees, en moes ek dan maar geduldig wag vir volgende uitstappie.

 

In Kimberley was die biblioteek in die dorp ‘n meer moderne gebou. En dit was naby genoeg dat ek amper elke Vrydagmiddag op my fiets kon klim om te gaan sif deur dit wat ek nog nie verslind het nie. In daardie tyd was ek ‘n alleenkind, ‘n skaam, 16jarige tiener, wat tog so graag wou deel wees van ‘n “in-groep”.   Maar vir lank was ek nie deel van enige groep nie het ek myself dus gaan verloor tussen al die Afrikaanse boeke. Die heldinne van Ena Murray, Danielle Steele en Ettie Bierman was my toevlug.

 

Dit was ook in daardie jare wat ek begin kortverhale skryf het. Lyntjies en lyntjies vol skool oefenboeke waarvan ek almal, na 25 jaar, nog steeds het. Flip, dit klink na ‘n leeftyd! Die stories het maar almal dieselfde tema gehad – “nerdy” meisie wat die hart verower van die skool se hoofseun of die eerste span rugby kaptein of die buurseun “met sy weerbarstende, blonde kuif en misterieuse groen kykers.”   So ongelooflik “soppy” en voorspelbaar! Ek het gaan wegkruip in elke karakter van elke storie. Hoe anders kan mens jou karakter laat lewe?

 

Kyk julle “Die Boekklub” op Kyknet? Ek is skaamteloos verslaaf, en weier om ‘n enkele episode uit te vee van die PVR af. ‘n Kunssinnige stadsjapie, Tom, ingesuig deur die stadslewe, se ouma sterf in ‘n klein Karoo dorpie. Dis duidelik hy is half verlore in sy bestaan en weet nie waar hy regtig inpas in die heelal nie. Hy erf deel van haar gastehuis met die voorwendsel dat hy vir ‘n jaar daar aanbly. Die res? “Is history”, soos die Engelse gesegde gaan. Die betrokke karakters kom aanvanklik eenvoudig en amper vervelig voor – ‘n oulike onderwyseres, ‘n jong man wat op ‘n plaas na sy gestremde pa omsien, ‘n pragtige bruinkop wat by haar eksentrieke ouma vakansie hou, ‘n slaghuis eienaar, ‘n boer se vrou wat koeke by die dosyne bak. Maar soos wat die storie ontwikkel, is daar ‘n gewaardwording van wat in elke aanvanklike “gewone” karakter se lewe aangaan. Die krulkop onderwyseres soen die jong boer en voel seergemaak deur sy afsydigheid, om dan eventueel te besef dat dit is omdat hy gay is. Die slaghuis eienaar se vrou is oorlede aan kanker en hy mis haar en is bang om aan te beweeg. Die pragtige bruinkop wat nêrens gaan sonder haar kamera nie, is verkrag terwyl sy oorsee gewerk het, en het gevlug na die eenvoud van haar Ouma se Karoo dorpie.   Dan is daar die dorp se bakster wat afluister hoe haar man haar ‘n “vet parakiet wat dink sy kan sing” noem, tydens ‘n dronkerige kuiersessie.  Ek sweer, dit was so goed hy het dit vir my gese, want die skok het self vir my getref.  En hoe sy besef dat dit nie saam maak hoe hard sy probeer om weer sy hart te wen nie, hy net eenvoudig nie belangstel nie.

 

Ieder en ‘n elke karakter in die storie gryp my aan, kom sit hier diep binne in my hart. Die skrywer skil elkeen soos ‘n ui, lagie vir lagie, sodat die kyker stelselmatig al hoe dieper in hulle persoonlikhede kan insien. Met elkeen kan jy simpatiseer en identifiseer. En dit is hoe ek wil skryf! Van eenvoudige mense met komplekse karakters waar elkeen hulle eie spoke het wat hulle jag, of geroeste boeie dra wat hulle daarvan weerhou om te wees wie hulle wil wees.

 

Met my skrywe wil ek ook mense laat voel soos wat ek voel oor “Die Boekklub”. Waar jy nie kan wag vir die volgende storielyn nie en waar ‘n karakter jou so aangryp dat dit jou motiveer om ‘n beter jy te wees.

 

Gaan kyk dit, dit is ‘n reeks met die ongelooflikste persoonlikheid.  Jy sal nie spyt wees nie. 

Dag 2273-2276 – Een rigting vorentoe

7 Hope

Ons drie “girls” is nou al vir twee weke en ses dae alleen.   Dankie tog vir whatsapp en facetime en dat ons nie meer soos donkiejare terug, afhanklik is van telegramme en briewe nie. Manlief sê juis vanoggend dat dit verskriklik erg moes gewees het in tye van oorlog. Waar die mans hulle families sou verlaat het om in ‘n oorlog te veg wat nie eers noodwendig hulle oorlog was nie. Waar die man en vrou se enigste vorm van kommunikasie met mekaar geskrewe briewe was. Wat weke sou vat om hulle bestemmings te bereik. Hulle het nie eers geweet wanneer hulle mekaar weer sou sien nie, en in watter toestand haar eggenoot eventueel sy pad sou terugvind huis toe nie.

 

Ek sal eerlik wees – dit is nie maklik nie. Soos wat ek ouer word, word ek in baie opsigte emosioneel meer onafhanklik. Ek het nie my man en kinders, of mense, om my nodig 24 uur ‘n dag nie. Ek het besef ek het ‘n besliste balans nodig tussen my eie geselskap en om tussen ander te wees. ‘n Kuns wat ek die laaste jaar of so redelik goed bemeester het. Dis maar deel van my “emotional survival”. Maar hierdie is anders – “virtual hugs and airblown kisses” is nie heeltemal dieselfde as die sagte aanraking van ‘n hand op myne nie. Hierdie afstand gee beslis ‘n grootter waardering vir mekaar, want hoe gaan die gesegde – “distance makes the heart grow fonder”.   Japsnoet vra gereeld hoe lank dit sal wees voor ons weer vir Daddy sien. Die 20ste Februarie kom hy darem vir ‘n week huis toe. Maar selfs vier weke in ‘n 7jarige se lewe voel soos ‘n leeftyd.

“Daddy will be away for a little bit longer than last time,”

is my standaard antwoord. Engel (10) nou weer wil net wanneer, en of, ons gaan trek Engeland toe.

“It is so nice being able to walk everywhere and feel safe,”

was die wysheid uit haar mond gisteroggend oppad skool toe. Projekteer ons op ‘n onbewustelike manier tog ons vrese op ons kinders? Dis donker julle kan nie meer swem nie, ons moet die alarm aansit, draai op julle vensters wanneer ons by die robot stop, het jou maatjie se pa al ooit iets gedoen wat jou ongemaklik laat voel? Genade, al die monsters waarteen ons ons kosbaarste besitting, ons kinders, moet beskerm.

 

Manlief bly op die oomblik in ‘n bed en ontbyt in St Albans, Hertfordshire. Ironies genoeg, reg agter die woonstelle waar ons vir vier jaar gewoon het. Hy doen ‘n bietjie werk vir Firma Engeland, maar tussendeur het hy al ‘n paar positiewe onderhoude gehad met agentskappe en was daar darem ‘n handjievol mense wat hom in direkte kontak gesit het met maatskappye in Londen. Het jy al ooit ervaar hoe klein jou netwerk skielik word wanneer jy mense begin opvat op hulle offers?

“Ek het baie kontakte; jy sal nooit sukkel om ander werk te kry nie; bel my die dag as jy werk soek; ek ken so-en-so persoonlik”.  

Dit is juis daardie grootpraters wat stil-stil uit jou lewe verdwyn en heimlik hoop jy kontak hulle nie weer nie. Daardie grootpraters is ewe skielik vreeslik goed daarmee om hulleself baie, baie klein te maak. So gereeld is dit dan dié van wie jy dit amper die minste verwag, wat moeite doen en daar is vir jou.

 

Die skooljaar het begin teen ‘n spoed van 120km/h! Ek is alreeds uitgeput van al die rondry en kosblikke pak en wit skoolsokkies merk, maar ek kla regtig nie. Die besig bly is noodsaaklik vir my “emotional survival” en dis belangrik dat die kinders se lewens so normaal as moontlik voortgaan. Elke dag sê ek dankie vir Japsnoet (7) se ongelooflike Gr 1 juffrou en ek bewonder Engel (10) vir haar selfvertroue en skielike volwassenheid. Sy gee die honde kos sonder om te kibbel, sy bring handdoeke wanneer reënwater teen die TV kamer se muur afloop, sy troos as sy sien ek voel hartseer en soggens hoef ek haar nie twee keer te vra om op te staan nie. Japsnoet is my kind wat sal agterkom as ek ‘n nuwe rok aanhet of my sal komplimenteer op ‘n nuwe kleur naelpolitoer. Engel nou weer, is die een wat op ‘n emosionele vlak meer “connected” is, asof sy ‘n aanvoeling het vir die feit dat haar ma die laaste tyd net ‘n bietjie minder “weerstand” van haar kant af nodig het! Hulle is een van die grootste redes vir my opstaan en aangaan en baklei teen die duiwel wat so op my skouer kom rus.

 

Manlief het, soos te verwagte, ook maar sy oomblikke van twyfel en tye wat hy terugkyk en wonder hoekom hy sekere dinge nie anders gedoen het nie. Daar was reeds heelwat nuwe lewenslesse en die wete dat ons in die toekoms sekere dinge anders sal doen en benader.

 

Maar vir nou klou ek net vas aan die idee van hoop.

Dag 2269-2272 – Pleisters en rowe

6 Pleister

Dit was eers toe Manlief sy nuutgevonde, werklose status met Firma Engeland bespreek het, dat ‘n gevoel van totale “despair” sy greep op my gekry het. Want alhoewel ek 24uur daarna na die gebeure nog baie geskok was, was ek nie “angstig paniekerig” nie.   My verwagting was dat Firma Engeland net eenvoudig vir Manlief ‘n ander posisie sou offer en dat daar dus eintlik nie ‘n krisis was nie. Firma Engeland het dan so hard “gevry” na my man en hulle sal hom sekerlik wil behou? No problem…Right?

 

En toe die onverwagse onthulling – Firma Engeland het nie vir Manlief ‘n permanente pos nie.  Hulle het glad nie verwag dat Animal Friends weer sou koue voete kry nie, en dus het hulle nooit die nut gesien van ‘n Plan B nie.  Maar dis nie wat ons wou hoor nie?!  Hulle het ingestem om hom sy salaris te betaal vir drie maande, dat hulle nog steeds sal betaal vir ons trek Engeland toe, dat hy kan kontrak werk by hulle doen en vry is om vir ander werksgeleenthede te soek.

 

Voordat ek en die kinders die Dinsdagmiddag terug is Heathrow toe, het ons in Chelsea gaan eet by ‘n Italiaanse restaurant. Vir die kinders se onthalwe het ons probeer om “normaal” op te tree en aan te gaan asof alles inderdaad “normaal” was. Maar ons het nie regtig geweet wat om vir mekaar te sê nie.  Ons onderskeie koppe was net te vol vrae en ek kon nie regtig my emosies identifiseer nie.  Dit was soos om ‘n bondel veelkleurige handdoeke in ‘n tuimeldroer om en om te sien spin. En die groet, al sou hy drie dae later teruggekom Johannesburg toe, was net soveel erger. Die laaste ding wat ons wou gehad het, was om in daardie onsekere tyd op twee verskillende kontinente te wees. Ek het in totale “klein dogtertjie mode” ingegaan nadat ons hom gegroet het op Paddington treinstasie. Ek wou net my ma hê. Want net ma’s weet hoe om ‘n seerplek beter te laat voel. Ek wou soos ‘n weerlose kind in die sirkels van haar arm klim en hê dat sy moes sê dat alles OK gaan wees. Dat haar vlekrooi mercurochrome en ‘n Band-Aid pleister die seer gaan wegvat.

 

My ma het toe wel gekom en stil na my storie geluister. My eie verslaentheid was te lees in haar bruin oë. Dit was so goed ek kyk in ‘n spieël. En my ma, wat op my ouderdom, deur presies dieselfde gegaan het met my pa, het ook nie veel woorde gehad nie. Maar sy kon beslis identifiseer met waardeur ek gaan, en sy het ook ‘n goeie idee van hoe die pad gaan lyk wat voor my lê.

 

Vir twee dae, terwyl ek gewag het vir Manlief om huis toe te kom, het ek myself toegelaat om deur die emosies te gaan – om my kussing nat te huil, om gemorskos te eet, om gin & tonics te drink, om die “worst case scenarios” deur my kop te laat hardloop. Ek glo dis soos wanneer mens rou – daar is mos vyf stappe. Ontkenning, woede, onderhandeling (met God), depressie, aanvaarding. Daarsonder gaan die pleister “useless” wees en gaan die rofie nooit ordentlik gesond word nie.

 

Kersfees en Nuwe Jaar het onder ‘n grys wolk gekom en gegaan. Ons het aanvanklik besluit om die nuus net met ons naaste familie te bespreek, terwyl ons maar nog self daarmee “deal” en tot ons effe meer helderheid het. Dit was dus moeilik om vrae te beantwoord oor Manlief se werk en of ons ‘n huis gevind het en of ons spesifieke skole in gedagte het. Ons het maar subtiel die onderwerp elke keer in ‘n ander rigting in gelei!  “Denial” – as mens nie daaroor praat nie, bestaan dit nie regtig nie.  Die feit dat Manlief se ouers ekstra spanning op hom gesit het die laaste twee maande, het natuurlik nie sy gemoedstoestand gehelp nie, maar dis nou weer ‘n lang storie vir ‘n ander dag se blog. (Hy het besluit om nie sy ouers te vertel nie.)

 

En toe, op Saterdag, 9 Januarie was sy sitplek bespreek vir ‘n retoerkaartjie Londen toe.  

Dag 2666–2668 – Omd*£^@$ sonder ‘n kompas

6 No more job

Hoe kon ons lewe in slegs 24uur so handomkeer, 360grade, bollemakiese, sonder enige waarskuwing of gevaarligte, omdonder? Nie omval, onderstebo keer, uitmekaar val nie.

Nee.

Omdonder….

 

Die wind was letterlik uit my seile. Hier vaar ons nog rustig op ons bootjie, met ‘n ligte, gemaklike briesie wat ons rustig vorentoe stuur. Hier en daar was daar ‘n effense rukwindjie wat ons van koers af gedruk het of ‘n dreigende donderwolk op die horison. Maar andersins het ons bootjie redelik die kompasnaald gevolg. Skielik, onverwags, was die briese net weg. Weg! En toe is ons gestrand in die middel van êrens en nêrens. Klein golfies het stadigaan begin spat teen die rante, soos wat die stormweer, wat eintlik al die tyd net weggekruip het, opgebou het. Dit was oppad, en al wat ons kon doen, was om ons reenjasse aan te trek en vas te gryp aan die kante.

 

Weke later sukkel ek nog om ten volle die emosies te verwoord. Dis een van daardie dinge wat jy slegs begryp as dit persoonlik met jou gebeur. Ja, jy kan jouself probeer indink in hoe jy sou gevoel het as die situasie joune was – die skok, die hartseer, die kwaad, die bitter, die vrae, die analiseer, ens, ens.

“Ek kan myself net indink hoe jy moet voel.”,

sal mens so maklik, simpatiek, aan ‘n ander persoon sê wanneer hulle deur ‘n moeilike tyd gaan. Maar jy weet nooit regtig 100% hoe jy sal reageer totdat jy nie self in daardie persoon se skoene staan nie. Nooit nie.

 

Anyway, na my innerlike “tantrum”, het ek eventueel my “big girl panties” aangetrek, my oë droog gevee, grimering aangesit en ons Sondag in Londen aangepak met entoesiasme. Tot dusver het ek vertrou dat hierdie die pad is wat vir ons bestem is en dat alles gaan uitwerk presies nes dit moet. En daarin moes ek net aanhou vertrou. Laatmiddag het Manlief ‘n vae sms gekry van sy baas by Animal Friends in Amesbury. Sy het gevra dat hy dringend die volgende oggend 10uur in die kantoor moes wees vir ‘n vergadering. Hy was half vies, want dit het beteken dat ons ‘n groot deel van die dag saam, sou verloor. Maar, het hy gereken, daar is duidelik iets baie ernstig aan die gang, en die Maandagoggend is hy vroeg weg per trein.

 

Toe hy eventueel die middag eers terugkom, het hy langs my op die bank kom sit waar ek besig was om ‘n autobiografie te lees. Sy woorde was iets soos:

“Moenie nou paniekerig raak nie, want ek het jou ondersteuning nodig.”

“…..OK…..?”

“Animal Friends het besluit hulle wil nie meer ‘n Besturende Direkteur hê nie. So ek het nie meer ‘n werk nie.”

Na amper twee maande, wanneer ek aan daardie oomblik dink, kan ek nie regtig in woorde beskryf wat in daardie paar sekondes deur my kop gegaan het nie.

Verbasing, skok, verslaentheid, ongeloof, sprakeloosheid, trek hy my been?

Ek het gesweer dat ek hom verkeerd verstaan het. Dit was asof die paar woorde wat hy gespreek het en wat ek gehoor het, nie bymekaar gepas het nie. En tog het ek geweet dat ek dit wel reg gehoor het, want die boodskap was oorgedra sonder fieterjassies of ‘n gekompliseerde verduideliking of hoë besigheids woorde. Eventueel, toe ek half meer tot my sinne kom, het dieselfde vraag net oor en oor by my opgekom.

 

Maar hoe is dit dan moontlik?

Dag 2665 – Wat nou?!

5 2015 London collage

Om Londen met Engel (10) en Japsnoet  (7) te deel en ervaar, was ‘n jarelange droom wat uiteindelik waar geword het. Die vier van ons wat net dwaal deur strate en tuine en oor brûe wandel, muffins eet by Starbucks, eekhorings afneem in Hyde Park – menigmale het ek het dit  oor en oor in my kop afgespeel.

 

Ek het altyd gewonder watter dinge hulle sou fassineer en wat ‘n blywende indruk sou laat.  En ek was nogal verras oor sommige dinge, en ander dinge het ek natuurlik verwag. Na die eerste dag van myle se stap en op en af klim op moltreine, was Japsnoet se eerste vraag –

“Can we take the car today?”,

Al het ek my bes probeer om haar voor te berei op al die stap, was dit nog steeds vir haar ‘n skok! Sy het darem wel die busry geniet, en het aangedring dat ons elke keer heel bo, en heel voor moes sit. Vir enige toeris is Big Ben sekerlik een van dié dinge wat hulle die graagste wil sien in Londen. Maar snaaks genoeg, toe ons by Westminster stasie uitstap in die straat in, was dit nie die groot “wow” vir hulle wat ek gedink het dit sou wees nie. Maar toe hulle oor die Thames kyk en die London Eye gewaar, was daar groot opgewondenheid en het hulle gesmeek om te gaan opklim. Gelukkig het ons die vorige aand reeds kaartjies vir ons “vlug” bespreek.   Japsnoet was ewe skielik effe skrikkerig, en het so ewe Manlief se hand gevat en gesê –

“Don’t worry Daddy, if you are scared I will hold your hand.”

Ons het natuurlik die mooiste foto’s geneem van bo uit die lug uit, en die mooiste selfie van ons vier. Manlief se kommentaar was nog so ewe –

“Nou is ons rerig on top of the world.”

In sy mening, op meer as een net manier.

 

Daar was die bekoring van Hamleys, ‘n speelgoed winkel waar ongewone speelgoed gedemonstreer word tot groot vermaak van elke blinkoog kind. Die M&M winkel getooi in helder kleure en die reuk van sjokolade permanent in jou neus. Tower Bridge wat vir ver uitstrek oor die donker Thames rivier en mini kersmarkies wat oral oor Londen gepaddastoel was. Dit was ook ‘n groot avontuur om Buckingham Palace te sien en die kinders het gewonder of hulle die Koninging te siene sou kry.

 

Saterdagoggend, 5 Desember was dit tyd om af te ry Winchester toe, ‘n dag wat eintlik die belangrikste dag van ons vakansie’tjie was. Wat sou die kinders dink van die dorp en die omgewing?  Wat sou hulle dink van die skole waar ons by verby sou ry?  En dan is daar natuurlik die onvoorspelbare Engelse weer. Ek en Japsnoet veral is sulke somer kinders wat hou van die son op ons lywe en die helderblou Afrika lug. Engel is die een wat ek kan sien makliker sal aanpas by die weersomstandighede en omgewing. Sy was reg van die begin af ongelooflik opgewonde oor die moontlikheid om in Engeland te gaan woon.  Die Winchester kersmark en die opelug ysskaatsbaan het ‘n groot indruk op hulle gemaak.  Daar was kersversierings van hout en pannekoeke met smeltende sjokolade smeer. Die luggie was snerpend koud en Japsnoet veral, het gereeld genoem dat sy koud kry. Ek aan die ander kant, het toe al vir ‘n tweede keer Winchester beleef. Na ons eerste besoek in Oktober, het ek vir Manlief gesê ek wou nie daar bly nie. Ek is ‘n stadsmens wat naby die buzz van Londen wil wees, wat op treine wil ry, wat ‘n groot keuse van winkel sentrums om my wil hê. Maar daar was ek, terug in Winchester, en ek moes myself forseer om met positiwiteit na alles om my te kyk. Ek moes in die toekoms in kyk, sien waar ons sou gaan kos koop, waar ons sou parkeer vir die dorp, waar ons moontlik sou gaan stap oor naweke, waar is die plaaslike hospitaal, met watter grootte kar gaan ek die maklikste oor die weg kom in die nou straatjies? Ons het na ‘n huis gaan kyk, wat baie klein was en dit het my weereens laat wonder waarheen ek gaan gaan met al my kameras en lense, bokse vol kraletjies, foto albums en drie dekades se dagboeke.  Ek weet dit is alles aardse besittings, maar dis terselferdtyd ook die dinge wat my aan die gang hou, wat deel is van my en wie ek is.

 

Sondagoggend toe my selfoon my wakker sing,  het ‘n groot paniek in my hart kom lê. Ek wil nie in Winchester gaan bly nie! Dis klein, dis geïsoleerd en ons ken letterlik nie ‘n enkele persoon daar nie. Maar ek is “stuck.” Daar is nie ‘n ander opsie nie!  Wat de hel gaan ek maak!? Ek gaan hiermee móét “deal”! Maar hoe?

 

Ek het my stukkende hart heel probeer huil. Sonder veel sukses.  Ek het gevoel ek staan op ‘n punt waar omdraai en terugstap net eenvoudig nie ‘n opsie was nie.  Ek het met myself geraas en gemaan –

“Come on, droog jou trane af en trek aan jou big girl panties.   Jy kan mos nie nou wil uitmekaar val nie!  Die besluit is gemaak.”

 

‘n Groot mismoedigheid het swaar oor my kop kom hang….

Dag 2555-2664 – Die tweede laaste hekkie van 2015

IMG_8572

Die jaar, 2015, sal ek verseker in die argiewe opskryf as ‘n jaar van vele oppe en affe en onsekerehede. Trane van blydskap, trane van hartseer, bewyse van die ongelooflikste wonderwerke en nog steeds meer vrae as antwoorde. As ek nou terugkyk, is die feit dat ek dit tot die 31ste Desember gemaak het, sonder om op te eindig in slaapterapie/skokterapie/wat-ook-al-se-terapie, vir my net weer ‘n bewys dat mens soms sterker is as wat jy besef jy is.

 

‘n Dag voor Manlief by Firma W moes begin werk, kom die epos deur met ‘n kontrak van Firma Engeland. Een van hulle filiale, Animal Friends Insurance, wil hom graag aan boord hê. Die pakket is baie goed, daar is winsdeling betrokke, ‘n goeie bonus en die firma betaal vir ons trek. Hulle verwagting is dat hy in November en Desember slegs vir twee weke in elke maand, daar moet wees, en eers in Januarie voltyds moet begin werk. Hy word geadviseer om nie die volgende oggend aan te meld by Firma W nie, want dit kan beteken dat hy sy kontrak begin en hy sal dus ‘n drie maande kennis periode moet werk. Dit was ‘n stresvolle dag vir hom. Want so bly soos hy was dat hy uiteindelik Firma Engeland se offer skriftelik gehad het, moes hy Firma W in die steek laat. Die hele manier wat hy die situasie moes benader, het so teen sy beginsels gegaan, maar daar was geen ander manier nie. Daardie aand laat eers, kry Manlief sy nuwe-eks-baas, in die hande om die boodskap oor te dra dat hy nie die volgende dag sou kon begin werk nie. Dit moes sekerlik een van die moeilikste gesprekke denkbaar gewees het om te hê en, soos te verwagte, was nuwe-eks-baas baie ontsteld. Maar Manlief het geweet dit sou altyd ‘n onaangename gesprek gewees nie, en dat dit heel waarskynlik ‘n toegeslane deur sou wees wat vir altyd gesluit sou bly.

 

Vuur en vlam, en vol energie en opgewondenheid, het Manlief in November by Animal Friends gaan aansluit. Die moderne kantore is in Amesbury in Wiltshire, in ‘n kantoorpark buite die dorpie. Hy het die gebruik gehad van ‘n helder pienk firma motor, wat hy darem mansgenoeg was om nie voor skaam te kry nie, en ‘n hotelkamer baie naby aan die kantoor. Die eerste week het hy nog half onseker sy voete probeer vind in sy nuwe omgewing, hy moes toekyk hoe mense om hom waarskuwings kry en afgedank word, maar terselfdertyd het die eienaars maklik die leisels oorhandig aan hom. Vir my het die trek Engeland toe meer realisties begin raak.  Stadig maar seker het ek ons huis begin “declutter”. Hoe meer spasie mens het, hoe meer gaar mens mos maar op en in realiteit weet ek my huis se inhoud gaan nooit in ‘n huis inpas in Engeland nie! Boeke, klere in verskillende groottes, twee dekades se CD’s, Pyrex bakke, wynglase sonder maats, ‘n eindelose lys van ongebruikte, opgegaarde items.

 

Die kinders se skooljaar het op ‘n hoë noot geëindig. Japsnoet het gegegradueer van Gr 0 en is geallokeer na ‘n baie goeie Gr 1 onderwyseres wat sy ten minste vir so twee maande sal hê. Engel het ‘n prys gewen vir top leser in Gr 4 en sy het akademiese kleure verwerf. My hart het so geswel van trots, want Gr 4 was beslis nie ‘n maklike skooljaar nie en net 12 leerlinge het bo 80% gemiddeld gekry.  Japsnoet kan met stampe en stote en bietjie “omkoop”, darem sinnetjies lees.  Vir ons kinders was dit dus ‘n goeie en positiewe jaar.

 

Met groot opgewondenheid, en ‘n bietjie senuweeagtigheid van my kant af, het ek en die kinders die aand van die 2de Desember op ‘n vliegtuig geklim oppad Londen toe. Ek was half benoud om alleen met hulle te vlieg, maar Engel was ‘n groot hulp en sy het saam tasse gedra en seker gemaak ons vergeet niks nie.  Die idee daaragter om Engeland te besoek, was om bietjie van die toeriste dinge in Londen te gaan doen.  En om hulle te gaan wys hoe hulle nuwe tuisdorp in Engeland lyk.

 

Winchester.

Dag 2510-2554 – Die bekoring van Engeland

2015_10 UK trip

Op ‘n warm Saterdagaand, 10 Oktober, was ons tasse diep binne die maag van ‘n Airbus 380. World Traveller Plus is een stappie bo Ekonomie klas – ekstra been spasie, ‘n drankie voor jy opstyg, metaal messe en vurke, en ‘n kompartement langs my vir my ekstra bagasie. Altyd handig in my geval. Nie ‘n slegte begin nie, het ek gereken.!

 

Met ons aankoms by Heathrow lughawe het die proses relatief vinnig verloop, danksy ons Britse paspoorte. Dit was koelerig en die son het nog nie heeltemal sy geel kop gelig nie. Ons tuiste vir die vyf dae was ‘n meenthuis in Chelsea, ‘n pragtige voorstad van Londen. Later die middag het ons in Salisbury gearriveer, een van die dorpe waar ons sou kon bly as Manlief die posisie sou geoffer word. Die dorpie is pragtig en skoon met ‘n rivier wat daardeur vloei en daar was swane wat honger gepik het na stukkies brood. ‘n Vroëe aandete het bestaan uit vis en skyfies en ertjies by “The Kings’ Head Inn,” en volgens ‘n ou tradisie, ‘n shandy om die dors mee te lus. En ja, ons kon nie anders as om rand/pond te vergelyk nie. Oktober was dit al eina….

 

Ons bed vir die aand was ‘n dubbelkamer in die “Red Lion Hotel”, ‘n kleinerige, tradisionele plekkie net af van die hoofstraat af. Die ou, swaargeraamde portrette teen die mure was effe spookerig, amper asof ek kon voel hoe die ou here en dames se leë oë my volg wanneer ek verby hulle gewandel het. Gelukkig was ek daardie aand so gedaan dat ek nie te lank daaroor kon tob nie!

 

Die volgende oggend het ons vir Nick ontmoet in ‘n oulike koffiewinkeltjie in Winchester. Nick is ‘n “hervestigings agent” en ons dag saam met hom het behels om letterlik van een huis besigtiging na ‘n ander te gaan, om hom ‘n idee te gee wat ons sou soek in ‘n woning. Na 11 wonings in en om Winchester, het ons koppe behoorlik gedraai en was ons verlig om te kon terugkeer na die relatiewe rustigheid van ons tydelike tuiste in Chelsea.

 

Die res van daardie week was ek en Manlief effe soos skepe in die nag. Hy het gewerk in die stad en ek en my kamera het die toeriste ding gedoen. If you are tired of London, you are tired of life – ek het my enkels sat gestap. My tweede laaste in Engeland, het ek spandeer in die dorp, St Albans, waar ons vir ses jaar gewoon het. Soos wat die Thameslink trein al nader aan die stasie gekom het, het die trane net vrylik geloop oor my wange – dis die plek waar ek groot hartseer, maar ook groot blydskap ervaar het, so die konnotasie is maar bittersoet. Ek het stadig na die dorp toe gestap, met ‘n koue windjie wat hard probeer het om deur my digte baadjie te waai. Soveel dinge was nog dieselfde, maar net soveel dinge het verander ook. Ek het ‘n ou vriendin, Clare, ontmoet, ons het mekaar nege jaar laas gesien. Wat ‘n blye ontmoeting! Danksy die wonder van facebook het ons darem ‘n redelike idee gehad van wat in die ander een se lewe aangaan, en kon ons oor vele ander dinge gesels. Toe die reën gietend neersak het ons besluit om in die “abbey” in die park te gaan skuiling soek. Die koffiewinkeltjie was na al die jare nog steeds daar, en dit het presies dieselfde gelyk. En volgens ‘n ou tradisie van my en Clare, het ons besluit op “cream teas”. Dit het bestaan uit ‘n pot “English Breakfast tea”, gevolg deur ‘n tuisgebakte botterbroodjie, ‘n potjie aarbei konfyt en ‘n bakkie stywe, vars room. Vir die Britte is ‘n “cream tea” iets wat jy blykbaar eintlik in die middag geniet, en sy het herroep hoe vreemd dit vir haar was dat ek dit selfs in die oggende wou doen! Dit was so lekker om saam met haar terug te gaan na daardie dae wat ons die dorp se strate plat geloop het met ons Preg Perego stootkarretjies, in ‘n desperate poging om ons skreeuende baba’s aan die slaap te kry. “Memory lane” kan so ‘n lekker pad wees om te stap en dit het my ook laat dink aan hoe vêr ons almal gekom het.

 

Weg van Suid-Afrika, en sy kombers wat gemaklik en gerusstellend om my vou, was dit makliker om ‘n ingeligde en minder emosionele besluit te maak. Terug in die ou bekende strate van Londen, waar ek in die donker in die strate kon stap en veilig gevoel het op treine, het my gedagtes meer in mekaar begin inpas. ‘n Lewe weg van my land, het net bietjie meer sin begin maak.

 

Ek het begin dink – “I can actually do this….”