Op Blouberg se Strand

Op ‘n koue wintersmiddag is ons hier weg (uit Engeland). En Vrydagmiddag het ons geland in sonnige Suid-Afrika en ‘n blasende suidooster. Welkom in Kaapstad!

My sussie en haar gesin het hulle Kaapse paasvakansie maande vooruit bespreek. En wat aanvanklik ‘n gespottery was, oor hoe lekker dit sou wees as ons by hulle kon aansluit, het eventueel ‘n plan en toe ‘n realiteit geword. Die oomblik wat ek uit die motor geklim het in Bloubergstrand, en uitgekyk het oor die majestieuse Tafelberg, het ek Laurika se nostalgiese stem gehoor. Sy het nou maar net eenvoudig ‘n manier om woorde in die mooiste musiek te omtower. 

Die golwe weet waar breek die branders – hulle dink hulle’s vry

En dis presies hoe ek gevoel het. Vry. Asof ek vir die eerste keer in maande net soveel ligter was. Asof die swaarheid net weggeval het. Want alhoewel Kaapstad nie my tuiste was nie, sien ek nog steeds Suid-Afrika as my hart se tuiste, en ek was van plan om elke minuut met elke sintuig te geniet. 

Die eerste week het ons toeriste dinge gedoen om my sussie se jong kinders te akkomodeer. Tafelberg se kabelkar met die mooiste uitsig, en hope foto’s, op ‘n helder dag. Burgers en melkskommels by Spur, ‘n piekniek op ‘n wynplaas met die ongelooflikste uitsig oor Noordhoek en haar eindelose strand. Daar was wit draai roomyse op die strand en brander baljaery in die koue Atlantiese oseaan. Braai’s en springbokkies en Simba Fruit Chutney chips en Woolworths malva poeding. Ek het my susterkinders so ongelooflike gemis en die tyd saam met hulle was ‘n pleister op ‘n wond wat vir maande net nie wou genees nie. En elke dag het ek my susterkind se ligbruin hare in ‘n ander haarstyl omtower. Die eerste paar dae was sy skepties, maar toe word dit roetine. Ons het almal weer begin “kleur” kry van oggendstappies langs die see en koffie daarna terwyl ons gesit en kyk het hoe honde op die strand en tussen rotse baljaar. Hoe het ek gewens dat ek daardie sonskyn, en die reuk van seewier, kon bottel en terugbring Engeland toe. 

Een stel familie is terug Johannesburg toe en die volgende stel het gearriveer. My pa en ma. Alhoewel ons tyd saam net vier dae was, was dit so kosbaar en het ons die beste gemaak van elke oomblik. Ons het die heerlikste ontbyt gehad in Melkbosstrand, by die Damhuis restaurant, en daarna ‘n ent langs die see gestap. Daar het my pa met ‘n wildvreemde tannie, wat met haar hond gestap het, begin gesels en uitgevra oor haarself en die area. Nou weet ek waar ek dit vandaan kry – my liefde om met wildvreemde mense geselsies aan te voer. Franschoek en ‘n middagete by die gewilde Reuben’s restaurant was ‘n groot bederf, en ek en my ma het rustig in die hoofstraat afgedwaal en hier en daar by ‘n winkel ingeloer. Ons het op ‘n reënerige dag Kalkbaai en Simonstad besoek, gebraai en gestap en gesels en gesels. 

Mense praat van “Kaapstad wat voel soos ‘n ander land”, en ek het dit nooit regtig verstaan nie. Totdat ek dit self beleef het. As iemand wat vir amper 20 jaar in Johannesburg gewoon het, en aangepas het by die veranderinge in terme van sekuriteit, beurtkrag, sypaadjies vol bossies, smouse op elke hoek, het ek maar altyd aanvaar dat Kaapstad dieselfde is. Ek weet Kapenaars stry dat daar ook moord en roof en kapings is, dat hulle onveilig voel om in die donker huis toe te ry verby plekke soos Khayelitsha en Mitchells Plein. Maar in vergelyking met Johannesburg is die verskil vir my soos dag en nag. Ons het ‘n huis gehuur in ‘n kompleks, waarvan daar nie eers ‘n sekuriteitshek by die ingang van die kompleks was nie. In die oggende, wanneer ons gaan stap het, het ek nie vir ‘n oomblik bang of bedreig gevoel nie, want daar was soveel ander mense wat ook gestap of gedraf het. Sypaadjies is onderhou en daar lê nie rommel in die strate nie. Geen wonder daar is hope Gautengers wat Kaap to semigreer nie, want as jy nie kan landuit nie, is Kaapstad en haar woonbuurte glad nie ‘n slegte Plan B nie. 

Ons het via Dubai teruggekeer Engeland toe. Daar het ons vertoef vir so drie dae. ‘n Avontuur vertelling vir ‘n ander keer. Die tyd saam met my sussie en haar kinders het my weer moed gegee om aan te gaan aan hierdie kant. En ek hoop ek het genoeg mooi herinneringe gebou met die susterskinders sodat hulle darem, wanneer ek in Oktober gaan kuier in Johannesburg, minder skaam sal wees. 

My siel was vol en ek hoop dit sal nog ‘n hele rukkie so bly. Tot wanneer ek weer by my mense gaan kuier.

2 thoughts on “Op Blouberg se Strand

Leave a comment