Dag 2361-2384 – Anti-klimaks

14 Anticlimax.JPG

Na maande van drama en onsekerheid en emosioneel leef van dag tot dag, het alles ewe skielik tot ‘n halt gekom.

 

In ‘n kwessie van vier kort weke het Manlief sy eenrigting Londen-Johannesburg kaartjie bespreek, sy twee sakke gepak, vriende gegroet en die Britse winter vaarwel geroep . Ek het laerskool onderwysers, die swem afrigter en die ballet juffrou laat weet dat ons nie meer weggaan nie, stadig maar seker my vriende ingelig, opgehou “de-clutter”, winter skool uniforms gaan uitkrap en ons het die huis van die mark afgehaal. Laasgenoemde was soos die spreekwoordelike “nail in the coffin”. Daardie laaste dingetjie op die lys wat geskrap is.  Die laaste stap wat geneem moes word om “bly” ons realiteit te maak en ons wortels weer te anker.  Vir ons lewens om terug te keer na “normaal.”

 

Manlief het werk, ons hoef nie meer te stres oor wie ons honde kinders ‘n nuwe tuiste gaan gee nie, daar is nie meer tydig en ontydig vreemde kopers voete deur ons huis nie, Japsnoet (7) floreer ewe skielik by die skool en haar lees is ongelooflik en Engel (10) wil sommer weer teruggaan ballet toe. Dit voel asof meeste dinge wonderbaarlik net in plek in  geval het, asof legkaart stukkies in mekaar in begin gly. En daardie “rollercoaster” wat net nie wou ophou hoola-hoop nie, het nou sy spore gevind. So hoekom voel ek so half verlore?  Onrustig, “unfocussed”?  Dis amper asof die ewe skielike afwesigheid van drama en gereelde, wisselvallige emosies, gelei het tot ‘n tipe van anti-klimaks.   Vir so lank was dit deel van my alledaagse bestaan, van my as mens, dat dit so vreemd voel om dit nie meer te beleef nie.

 

Moet my nie verkeerd verstaan nie – woorde kan nie my dankbaarheid uitdruk oor die feit dat Manlief werk het nie. En dat ‘n gewig van my skouers af is en ons meer langtermyn kan beplan nie.  Dinge kon so ongelooflik skeef geloop het vir ons, op soveel vlakke. En soms voel dit of ek myself moet knyp om te besef dat dit nie net alles ‘n droom was nie, dat ons regtig hierdie opdraende, duwweltjie besaaide kronkelpad gestap het en heel anderkant uitgekom het. Ek reken vir my lê daar nou baie introspeksie voor. Wat wil EK hê en wat wil EK bereik? Is dit genoeg om net ‘n tuisbly ma te wees met ‘n klein fotografie besigheid wat my nie oormatig besig hou nie? Wat gaan my gelukkig maak en my die wete gee dat ek meer is as net ‘n ma vir my kinders en vrou vir my man? Teruggaan gym toe, iets kreatiefs doen soos kunsklasse of klavierlesse, “tap dancing” vir volwassenes, photoshop kursus, ‘n aanlynwinkel begin?

 

Net ek kan besluit wat my gelukkig gaan maak en wat om te doen om die anti-klimaks “downer” te omskep in ‘n blydskap.